Sommige aanklagte weer teen Mdluli ingestel

Richard Mdluli

Richard Mdluli

Sommige aanklagte is weer teen die voormalige misdaadintelligensiebaas Richard Mdluli ingestel, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Dinsdagaand gesê.

“Ons het besluit watter aanklagte weer ingestel gaan word,” het Nathi Ncube, woordvoerder van die NVG, gesê. “Dit is aan die Freedom Under Law (FUL) en mnr. Mdluli gekommunikeer.”

Ncube wou nie sê watter aanklagte weer ingestel is nie. “Wanneer die saak in die hof voorkom sal die klagtes bekend gemaak word,” het hy gesê.

Hy het ʼn berig deur City Press, dat Mdluli aanklagte van ontvoering, aanranding en intimidasie in die gesig sal staar, ontken.

Hugh Corder, direkteur en woordvoerder van FUL, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Mdluli is geskors nadat klagtes aan die lig gekom het van bedrog en korrupsie en klagtes wat met die moord in Februarie 1999 van sy eksminnaar se man, Oupa Ramogibe, verband hou. Hy het glo familie en vriende as intelligensiebeamptes in diens geneem en polisiegeld misbruik om luukse motors aan te koop.

Die aanklagte van bedrog en korrupsie is op 14 Desember 2011 teruggetrek. Mdluli is in Maart 2012 weer as die hoof van misdaadintelligensie aangestel. Die NVG het ʼn maand later voorlopig die moordklagte teruggetrek hangende ʼn ondersoek.

Nathi Mthethwa, voormalige minister van polisie, het in Mei 2012 aangekondig Mdluli sal van misdaadintelligensie na die kantoor van die adjunk nasionale polisiekommissaris vir bedrywighede oorgeplaas word. Hy is later daardie maand vir ʼn tweede keer geskors toe bewerings uit die ondersoek na Ramogibe se moord, aan die lig gekom het. Die ondersoek het hom egter in November 2012 onskuldig verklaar aan enige betrokkenheid by die moord. Mdluli en drie ander is van die moord beskuldig en het ook aanklagte van intimidasie, ontvoering, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, poging tot moord en sameswering om moord te pleeg, in die gesig gestaar.

Ramogibe het glo doodsdreigemente ontvang nadat hy met die vrou, wat vroeër Mdluli se minnaar was, getrou het. Hy is aangesê om haar te verlaat of hy sal doodgemaak word. Hy het ʼn saak van poging tot moord oopgemaak voor sy dood.

Mdluli was in daardie stadium bevelvoerder by die Vosloorus-polisiestasie in Boksburg, oos van Johannesburg. Hy is daarvan beskuldig dat hy die ondersoek saboteur het.

Die hoogste hof van appèl het in April ʼn beslissing deur die Pretoriase hooggeregshof, dat die aanklagte van bedrog en korrupsie teen Mdluli nie teruggetrek moet word nie, bevestig. FUL het die Pretoriase hooggeregshof genader om die besluit om klagtes teen Mdluli weer in te stel, ter syde te stel. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.