Sommige bevrore groente het dalk glas in

Van McCain se bevrore produkte is herroep. (Foto: McCain)

Verskeie besendings bevrore groenboon- en roerbraaiprodukte word herroep nadat glasstukkies moontlik daarin beland het.

Dit volg ná bewerings dat “stukkies van ʼn vreemde materiaal” in spesifieke sakke van die bevrore groentepakke gevind is.

McCain Suid-Afrika sê sommige van sy besendings groenbone, asook besendings van die Spar-handelsmerk se roerbraaiprodukte, word nou as voorsorgmaatreël herroep.

“Ons het die oorsprong van die materiaal vasgestel en kan bevestig dat dit klein glasfragmente is wat afkomstig is van ʼn ligtoebehoorsel. Dit het slegs ʼn beperkte groep produkte beïnvloed,” sê die maatskappy in ʼn verklaring.

Die besendings boontjies en roerbraaimengsels is almal tussen Julie en Oktober verlede jaar verpak, maar verval eers in 2023.

“Verbruikersveiligheid is McCain se hoofprioriteit en as sodanig doen ons landwyd ʼn vrywillige herroeping.”

Die geraakte produkte is ook reeds uit kleinhandelaars se vrieskaste verwyder.

“Streng maatreëls is ingestel om die situasie te hanteer en al die produkte is reeds verwyder. Kleinhandelaars en voedseldiensklante is reeds formeel in kennis gestel van die terugstuurprosedures wat geld.”

Dié jongste herroeping volg nadat Nestlé Suid-Afrika verlede maand sekere KitKat-sjokolades moes herroep omdat klein stukkies glas tydens ʼn gehalte- en veiligheidsinspeksie gevind is.

Geen klagtes of beserings is egter aangemeld ten tyde van die herroeping nie.

Dié besendings groente word nou deur McCain en Spar herroep:

(Foto: McCain)

“Ons moedig alle verbruikers aan wat nog van die produkte het, om dit terug na die winkel te neem waar hulle dit gekoop het, en regstreeks met die winkelbestuurder te gesels,” sê die maatskappy.

“Die bestuurder sal dan jou besonderhede neem, waarna McCain ʼn koopbewys sal skep om die produk te vervang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Witbaard ·

Koop vars groente in die vervolg. Baie gesonder ook. Boonop is die gevriesde produkte stokoud teen die tyd dat dit op die rakke is.

LD ·

Ag nee regtig! Ek koop nooit roerbraai nie want dis te duur! Maar was net gister so lus vir dit toe koop ek maar een en dit nogal by Spar want het nie kans gesien om vars groente op te sny nie. Het sommer die hele pak saam hoender fillets gaar gemaak en op geëet….. Ai wat as dit nou een van daai pakke was, wat neem ek nou terug winkel toe????

Ou Baardbek ·

LD, het die kommentaar baie geniet! Duidelik tong in die kies geplaas! :-)))

Clarisse ·

Asof my kinders enigsins meer rede nodig gehad het om NIE groente te eet nie HAHA

JohanR ·

Voor enigeiets in ‘n pakkie was daar net vars en ons het almal reg gekom, geeet en gelewe want ons kon sien wat voor ons is en dit was vars. Nou lyk dit my dat “quality control” in SA is by die venster uit en hoe weet ons wat gebeure voordat daai pak groente geseel is?

Johan ·

Ek het al ñ paar keer in die gemengde groente van ñ ander handersmerk van daai duwweltjie dorings gekry. Dis regtig pynlik en onaangenaam om op so een te byt. Ek koop dit nooit weer nie.

melaney ·

Ek koop al jare net vars produkte. Stoom dit en geniet asof dit nou net gepluk is. Wegneem etes en restaurant kos kan die kok gerus self geniet.

Owlie ·

Waar is die “quality controll” en wat maak hulle met glas produkte by die verwerking en verpakking van hierdie kos produkte Dit is kommerwekkend om te sien dat hierdie tipe probleem al hie meer voorkom Dis onaanvaarbaar en dis maklik om te sê neem die produk terug na waar jy dit gekoop het – (1) almal hou nie hul till strokies nie (2) petrol is duur en tyd is soms beperk Hoekom nie sommer net na jou naaste winkel gaan nie

Eend Bessinger ·

Dis lankal tyd dat ons ons eie groentetuine begin. Ons gaan dit nodig hê wanneer WWIII regtig aan die gang kom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.