Sommige by Denel kry wéér nie salaris

Denel Dynamics, ’n afdeling van Denel wat missiele vervaardig, het glo nie sy werkers se salarisse vir Januarie vanjaar betaal nie. Die moontlikheid bestaan boonop dat die werkers ook nie vir Februarie betaal gaan word nie.

Dít terwyl uitspraak in die vakbond Solidariteit se saak van minagting van die hof teen Denel voorbehou is nadat argumente einde verlede maand gevoer is, sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit.

Solidariteit het die sukkelende wapenvervaardiger hof toe gesleep namens sy lede wie se agterstallige salarisse vir Mei, Junie en Julie verlede jaar steeds nie betaal is nie.

Maroela Media het vroeër berig Denel is reeds in Augustus gelas om alle agterstallige salarisse en kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom. Hy het die bevel tot dusver verontagsaam.

Die vakbond Uasa sê op sy beurt lede versoek Denel om verantwoordelikheid te neem vir alle agterstallige salarisse en hulle weer ten volle te begin betaal.

Sommige werkers het agt maande gelede hul volle salarisse verdien.

“Denel Corporate het onmiddellik na die eerste hofverhoor en uitspraak besluit dat elke afdeling [van Denel] onafhanklik is en hul eie inkomste moet genereer. Sodoende spring hulle enige verantwoordelikheid vry,” het ’n werker verbonde aan die vakbond gesê.

Stanford Mazhindu, woordvoerder van Uasa, sê werkers van Denel het op voorwaarde van anonimiteit met dié vakbond gepraat, uit vrees vir vergelding.

“Ek is agter met my huur. Ek is só in die skuld dat ek geen idee het hoe ek dit gaan oorleef nie. My versekeringspolisse is agter. Ek kan nie bekostig om vir my kinders die data te koop wat hulle nodig het vir skoolwerk nie,” het een werker vertel.

’n Ander het vertel hoe sommige werkers hul huise of huurhuise verloor het terwyl ander groot skuld aangegaan het deur vir betaalvakansies op effekte en polisse te vra.

Volgens die werkers is daar aan hulle gesê dat betaalvakansies nie meer goedgekeur sal word nie.

“Werkers wat nog nie vir Januarie betaal is nie, het boonop nie die middele om werk toe te reis nie en kan skaars hul gesinne voed. Baie kan nie kos op die tafel sit nie en het gevra vir kospakkies,” sê Mazhindu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Daai strop trek al stywer en stywer om ANC nek. Hoop is nie lank voordat hulle verwurg is nie. 1000 bewind? Dink nie daai bewind sal eers 40 jaar wees nie!

Carel ·

My hart skeur – ek ken ‘n hele klomp van hierdie mense. Ek het tot 10 jaar terug by Denel Dynamics gewerk, vir 19 jaar. Dis ondenkbaar dat hierdie maatskappy se bestuur so misdadig kan wees om dit aan lojale werkers te doen. Ek hoop Solidariteit en Uasa kan op een of ander wyse hierdie mense tot verantwoording bring. Die ergste is dat die maatskappy topbestuur heerlik vir hulle eie salarisse sorg…

Kokerboom ·

Lees CR nie die goed? Hoe kan hy as Staatshoof so apaties staan?

Stefan ·

En staak vir verdere vernietiging help ook nie want hulle sit reeds by die huis.

Bernhard ·

Ek ken self iemand wat voorheen hier gewerk het. Die helfte van Denel is op pad na die Midde Ooste……

Roedolf Johannes ·

Wil maar net sê.Ek het 34 jaar vir Denel gewerk en was BAIE gelukkig om in 2019 die geleentheid te kry om op vervroegde Pensioen te kon gaan met die voordele van n Pakket.Daar was net mense aangestel om die KWOTA reg te kry en wat nie die werk kon doen nie.Denel WAS n baie goeie Firma om voor te werk

Danie ·

Wel hulle het by eksdom geleer hoe om die regering te druk vir geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.