Sommige Gautengse hospitale dolleeg, ander steier onder derde vlaag

Pasiënte by die Helen Joseph-hospitaal. (Foto: Jack Bloom/DA)

Die derde vlaag Covid-19-infeksies wat Suid-Afrika tans in ʼn greep het, woed op sy ergste in Gauteng, maar dié provinsie skarrel oënskynlik steeds om sy sukkelende gesondheidstelsel teen die aanslag te pantser.

Altesame 66% van alle nuwe gevalle oor die vorige 24 uur was in Gauteng waar 8 640 nuwe gevalle aangemeld is. Verlede week het die provinsie boonop die meeste gevalle uit al drie infeksiegolwe aangemeld.

Die LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, sê die stelsel is onder groot druk, maar daar is tans nog genoeg kapasiteit om in die vraag na hospitaalbeddens te voldoen. Mediese werkers van die weermag gaan ook in die provinsie ontplooi word om hulp te verleen.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, meen egter dié stelling is misleidend omdat talle van die nuwe beddens wat ingerig is om pasiënte te behandel, weens ʼn gebrek aan personeel nie behoorlik gebruik kan word nie.

Bloom sê die weermag se betrokkenheid dui verder op die provinsie se onvoorbereidheid.

“Die gebruik van die weermaglede is nuttig, maar dit gaan nie die situasie beredder nie.

“Wes-Randse hospitale is vol, maar daar is geen pasiënte by die Anglo Ashanti-hospitaal wat teen ʼn koste van R500 miljoen opgerig is nie, omdat daar geen personeellede is nie,” sê Bloom terwyl hy dié hospitaal terselfdertyd as ʼn wit olifant bestempel.

Bloom sê weens ʼn gebrek aan personeel kan net 100 van die 500 nuwe beddens by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal boonop gebruik word.

Intussen bly die Charlotte Maxeke Johannesburg-hospitaal twee maande ná ʼn brand daar uitgebreek het, steeds gesluit. Dié hospitaal kan meer as 1 000 pasiënte hanteer. Sowat 800 van die hospitaal se pasiënte moes by ander instellings ingeneem word.

Volgens die LUR sal die hospitaal “mettertyd” heropen word, maar die datum is nou reeds etlike kere aangeskuif en daar is geen besliste datum vir die heropening van enige van die afdelings nie.

“Hoe kan die LUR sê dit sal ‘mettertyd’ heropen word? Ons is in die middel van die ergste vlaag tot nog. Ek is stomgeslaan.”

Dit is egter nie net Covid-19-pasiënte wat hulp benodig nie. “Mense sterf aan ander dinge as Covid-19, soos kanker en hartkwale,” sê Bloom.

Hy sê die Charlotte Maxeke-hospitaal het ʼn belangrike rol tydens die vorige twee vlae van infeksies gespeel, maar omdat die branddeure by die hospitaal nie op standaard is nie, is daar steeds nie toestemming dat dié reusehospitaal heropen mag word nie.

Bloom sê die deure word al naastenby 50 jaar lank gebruik en om nou te skarrel om dit te vervang, is skreiend. Volgens hom kon ʼn probleem soos dié lankal ondervang word as die provinsie tydig sy huis in orde gekry het.

“Dit is onverklaarbaar en onverskoonbaar.”

Bloom sê daar is nou sprake dat personeel van die Charlotte Maxeke-hospitaal na Baragwanath gestuur gaan word om daar te help.

“Hulle skarrel rond. Die voorbereiding moes veel beter gedoen gewees het. Die premier het weke gelede gesê die provinsie is in die derde vlaag. Die premier het die aankondiging gedoen, watter voorbereiding is dus gedoen?” sê hy.

Volgens Bloom is die Helen Joseph-hospitaal stampvol, met pasiënte wat soms tot twee dae lank op stoele sit en wag vir ʼn bed.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê ook die regering het Suid-Afrikaners ʼn rat voor die oë gedraai toe daar verlede jaar – tydens die streng inperkingstyd – aangevoer is dié stap is nodig sodat die gesondheidsorgstelsel vir die pandemie kan voorberei.

“Dit was ʼn valse voorwendsel aan lede van die publiek – om te sê hulle gaan die hospitale regkry vir Covid-19 – want dit het nie toe gebeur nie en het nog steeds nie gebeur nie.”

Luidens syfers van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) word byna dubbel die getal Covid-19-pasiënte tans in private hospitale vir Covid-19 behandel, as wat in staatshospitale behandel word.

SektorFasiliteiteOpnames tot dusverTans opgeneem
Privaat257137 0286 208
Staat397153 7233 136
Totaal654290 7519 344

Bloom sê dié syfers laat vrae ontstaan omdat die meeste Suid-Afrikaners nié lid van ʼn mediese fonds is nie, maar 60% van alle Covid-19-pasiënte tans in private hospitale behandel word.

“Ek dink daar is mense wat in die hospitaal behoort te wees, maar nie is nie omdat daar nie plek is nie. Daar is ook ʼn hoë getal pasiënte wat binne 24 uur ná opname sterf. Ek dink hulle word nie betyds opgeneem nie,” sê Bloom.

“Ek glo nie die syfers is akkuraat nie. Ek dink dit is veel erger.”

Mediese toerusting staan ongebruik by die Kopanong-kliniek. (Foto: Philip van Staden/VF Plus)

Van Staden sê tydens ʼn oorsigbesoek by gesondheidsfasiliteite sowat twee weke gelede het hy kamers vol ongebruikte toerusting by die Kopanong-kliniek sien lê.

Van Staden sê volgens die LUR sukkel die provinsie weens ʼn gebrek aan hulpbronne, terwyl dié toerusting lê en stof opgaar. Die toerusting sluit in items soos hartmonitors, asemhalingsmasjiene en tientalle hospitaalbeddens. “Jy kan omtrent ʼn volledige hospitaal daarmee toerus,” sê hy.

Van Staden sê infrastruktuurprobleme, ʼn gebrek aan gereelde en behoorlike inspeksies en ʼn gebrek aan aandag en onderhoud by die hospitale het tot die huidige situasie gelei.

“Wanbestuur en wanadministrasie het tot die situasie gelei.”

Hy sê die provinsie moes al twee dae gelede ʼn omvattende verslag oor die situasie by elke staatshospitaal voorgelê het. Daar word steeds op die verslag gewag.

Die Nasrec-hospitaal, die provinsie se enigste operasionele veldhospitaal, is teen die einde van Februarie gesluit nadat Mokgethi gesê het daar is geen “wetenskaplike, statistiese of kliniese redes om die fasiliteit langer oop te hou nie”.

Die LUR het destyds gesê die materiaal en toerusting van die veldhospitaal sou by ander fasiliteite gebruik word.

Maroela Media het navrae oor die hospitale aan die Gautengse departement van gesondheid gerig en wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anoniem ·

Daar is soveel mense wat pasiënte sal gaan versorg by die hospitale/sale wat toe staan as die Regering dalk ‘n keuring hou van vrywilligers wat bereid is om te help en hul met die minimumloon sal vergoed vir hul dienste vir die tydperk wat hul help. Daar is altyd ‘n oplossing. Skep ‘n saal by elke hospitaal waar die ouer toegelaat word om die kind te versorg maar dit word ook nie toegelaat nie.

JM ·

Skarrel rond soos ‘n klomp dronk hoenders en rig niks uit nie. Weet nie hoe om te organiseer nie en stel ook nie belang nie.

Misky ·

Hulle weet al van laasjaar af die 3de vlaag kom, maar nee, niks gedoen nie. Wag tot die paw-paw die fan slaan en sê dan: Eish…..

Suzette ·

Die syfers is verseker nie akkuraat nie – onthou die anc is in bewind. Ek dink ons hare sal rys as die korrekte syfers weergegee word.

Persheks Adri ·

Weereens totale onbevoegdheid van die klomp kaders wat niks ordentlik kan beplan nie!

Helizna ·

Hoekom gaan hulle hospitaal toe, maar tref geen voorsorg eers tuis nie? Daar is honderde studies wat die effektiwiteit van 1% Ivermectin tydens vroeë simptome bewys. Maar die leuens loop sterk.

Blikkies ·

Wanbestuur en Wanadministrasie is die gevolg van mense wat deur die ANC aangestel word wat absoluut geen tot nul kennis van hulle vak het nie. Hulle is nie behoorlik geskool nie en dit noem jy nou om SLEG te wees. Skande.

Oom Hennie Pennie ·

As alles reg georganiseer was dan was daar GEEN probleem nie. Syfers kan ook “gekook” word om meer geld te vra?

Alida ·

Wat ek graag wil weet, is waar is die personeel wat in die Charlotte Maxeke-hospitaal gewerk het voordat die brand uitgebreek het? ‘n Hospitaal met 1 000 beddens moes ‘n hele verpleegsterskorps gehad het. Sit hulle nou almal by die huis oor die hospitaal gesluit is? Kan hulle nie gaan werk in daardie hospitale met genoeg beddens maar te min personeel nie?

Miskruier ·

N vriend uit Limpopo het eergister gesterf, daar was nie plek in Pta hospitale nie.

Esme ·

Net soos al die ander goed in die land, het Gesondheidsdienste ook gesink. Dit is skrikwekkend om te dink dat mense sterf omdat daar nie gesondheidswerkers is nie. Na Covid kommunikeer ek met internasionale individue op die sosiale media. Dit is skrikwekkend om gesondheidsdienste te vergelyk. Suid-Afrika skiet ver tekort en tensy bekwame mense weer die verantwoordelikheid ooneem gaan onnodige sterftes toeneem.

Anel ·

Hoekom word die mense nie Ivermectin gegee nie? Nou hardloop almal hospitaal toe om daar dood te gaan. Want dis wat gebeur. Want die regering kry mis geld vir elke geval. En dit is ‘n vreeslike groot prestasie lyk dit my om die meeste gevalle in die wêreld te kan hê. Pateties. En dan wil hulle ‘n NGS bedryf! Behoede ons!!!

Mariana ·

Dit is wat jare se wanbestuur bring, algehele chaos tydens nood.

Petrus ·

Omdat hulle steeds weier om die effektiwiteit van Ivermektin te gebruik. Koop dit en gebruik dit.

Jacobus ·

Ons word deur ‘n psigopatiese regering gevange gehou. Vrye toegang tot geldlaaie vir die plunderaars!

Eend Bessinger ·

Hierdie regering weet nie eens hoe om enigiets te organiseer nie, behalwe hoe om bedrog stil-stil te pleeg! Dis waarom dinge so super-deurmekaar is. Dis tyd om die ou hande terug te roep en hopelik kan die weermanne verpleegsters speel terwyl daar nog verpleegsters (verkieslik Wittes wat tans sonder werk is) inderhaas opgelei word…

john ·

Dis nie die toename in covid gevalle wat die krisis veroorsaak dis die gemors wat ons gesondheids stellsel in is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.