Staatsrede: SA demokrasie bereik draaipunt

President Cyril Ramaphosa lewer die 2020 staatsrede. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Suid-Afrikaanse demokrasie het Donderdagaand ʼn belangrike draaipunt bereik toe die EFF die staatsrede vir langer as ʼn uur ontwrig het, en lede die gesamentlike sitting van die parlement op hul eie voorwaardes verlaat het.

Dit was ʼn aand waarop die middelpunt van die Suid-Afrikaanse politiek onteenseglik na links geskuif het, én na Afrosentrisme, in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede asook in die drama rakende die toespraak.

Wat die staatsrede self betref, het Ramaphosa dit afgeskop deur na oudpres. FW de Klerk te verwys slegs in terme van die adjunkpresidentskap wat hy ná 1994 beklee het – nie sy presidentskap voor 1994 nie.

Dit was ʼn verandering – vantevore is De Klerk se presidentskap deur sy opvolgers erken.

Die res van die staatsrede, wat onder andere deur die Springbok-rugbykaptein, Siya Kolisi, en Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, bygewoon is, het gefokus op ʼn vorderingsverslag sedert verlede jaar se staatsrede, vervleg met ʼn oproep om nasionale eenheid, maar met ʼn Afrosentriese uitgangspunt.

Staatsrede 2020 (Foto: Maroela Media)

“Daar is tye dat ons nie die paal gehaal het nie en foute gemaak het, maar ons bly standvastig in ons oortuiging om ʼn vrye, gelyke en vreedsame gemeenskap te bou,” het Ramaphosa gesê.

Die president het erken dat die ekonomie al ʼn dekade lank nie na wense groei nie, dat werkloosheid toeneem, dat elektrisiteitsonderbrekings sakeondernemings en gewone mense ontwrig, dat staasbestuurde ondernemings sukkel en dat die fiskus onder druk is.

Hy het toegegee dat die regering nie alleen die land se ekonomiese probleme kan oplos nie, en dat die staat se beste pogings hiervoor nie goed genoeg was nie.

Ramaphosa het gesê Suid-Afrikaners het ʼn keuse om moed op te gee óf inklusiewe groei aan te gryp, en die regering kies laasgenoemde, met vanjaar as jaar om fundamentele ekonomiese groeibeginsels in te stel.

Hier is ʼn paar belangrike punte uit sy toespraak:

President Cyril Ramaphosa lewer die 2020 staatsrede. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Eskom

Oor Eskom het die staatshoof toegegee beurtkrag het die herstel van die ekonomie en die skep van werk teruggehou, en dat dit gebeur het weens ʼn jare lange versuim by Eskom om instandhouding te doen.

Onmiddellike stappe vir energievoorsiening sluit in die instel van die geïntegreerde hulpbronneplan (IRP) vir die opwek van krag uit hernieubare energie, natuurlike gas, hidrokrag, batterye en steenkool.

Noodplanne vir elektrisiteitsvoorsiening gaan binne drie tot 12 maande goedgekeur word, terwyl geen lisensie vir die opwekking van krag van minder as 1 megawatt vereis word nie.

Verdere planne vir hernieubare energie sal goedgekeur word, spesifiek wat sonkrag en windkrag betref.

In ʼn belangrike toegewing aan die DA sal goedbestuurde munisipaliteite toegelaat word om self elektrisiteit aan te koop van onafhanklike elektrisiteitsprodusente.

Wat Eskom se skuld betref, het die regering besluit om dit te takel op wyses wat nie pensioene of die banksektor sal bedreig nie.

Die ekonomie

Ook wat die makro-ekonomie betref, het Ramaphosa gesê die land is in die pekel, en dat die minister van finansies, Tito Mboweni, stappe om dit reg te stel sal aankondig in sy begrotingstoespraak, wat op 26 Februarie gelewer sal word.

Die regering sal staatsbeheerde ondernemings verminder en rasionaliseer sodat dit ekonomies lewensvatbaar bedryf kan word.

Vervoer

Wat die SAL betref, het die regering besluit enige nasionale lugdiens moet selfstandig ekonomies lewensvatbaar wees. Hy het belowe dat die sentrale treinspoor tussen Kaapstad en Khayelitsha, en die spoor tussen Pretoria en Mabopane opgeknap sal word teen ʼn koste van R2,8 miljard.Die Durbanse hawe gaan ook op groot skaal verbeter word, veral wat die goedereterminaal betref.

Onderwys

Nege nuwe verdere onderwys- en opleidingskolleges (voormalig tegniese kolleges genoem) word in Sterkspruit, Aliwal-Noord, Graaff-Reinet en Ngungqushe in die Oos-Kaap, en in Umzimkhulu, Greytown, uMsinga, Nongoma en KwaGqikazi in KwaZulu-Natal gebou.

ʼn Nuwe universiteit wat sal fokus op wetenskap en innovering word vir die Ekurhuleni-metro aan die Oos-Rand beplan. Weens die patetiese stand van studentebehuising en koshuise by universiteite gaan R64 miljoen bestee word aan die opgradering daarvan.

Misdaad

Gegewe die uitwerking van misdaad op toerisme gaan bykomende polisie by bekende toeriste-aantreklikhede ontplooi word. Bendebekampingseenhede van die polisie gaan in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat en Gauteng versterk word. Duisende nuwe polisielede word tans opgelei. Sterker wetgewing teen huishoudelike en geslagsgeweld is ook op pad.

Landbou

Op landbougebied sal die pluimvee- en suikerbedrywe binnekort weet wat hul invoertariewe en werkgeleentheidsvooruitsigte sal wees.

Die president het steeds geen finale bewoording vir die ANC-voorstel oor onteiening sonder vergoeding ter verandering van die Grondwet aangekondig nie, maar het gelyk of hy daarvan wegbeweeg en eerder op die inhoud van die tans minder omstrede Onteieningswetsontwerp fokus.

Die regering sal vanjaar 700 000 ha staatsgrond beskikbaar stel vir landbou. Tot dusver het die regering 44 000 ha staatsgrond beskikbaar gestel vir die oplossing van geskille oor grond. “Vanjaar sal ons 700 000 ha staatsgrond beskikbaar stel vir landbou,” sê Ramaphosa.

Die regering sal veral jong mense, vroue en mense met gestremdhede prioritiseer wanneer die grond uitgedeel word. “Ons sal dit egter verpligtend maak dat begunstigdes van grond eers opleiding ontvang, voor grond aan hulle oorhandig kan word.”

Ramaphosa het erken dat boere baie swaar kry weens die droogte in groot dele van die land. “Boere het hul oeste en kuddes verloor en baie werkers is hul lewensmiddele kwyt.”

Ramaphosa sê die regering werk saam met navorsingsentiteite om strategieë te ontwikkel om die uitwerking van die droogte te verlig. Dit sluit in die ontwikkeling van sade wat droogte kan weerstaan en die verwydering van indringerplante.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
henndrik

Niks positief nie net meer dieselfde wat ons weet nie werk nie want dit is bewys

Deon

Alles wat ons weet en klomp beloftes en tjol soos in die verlede. Dis amper meer interresant t om te luister en sien hoe hulle die EFF hanteer het. Ek voel als is net weer lee woorde.

DieKriek

“Die regering sal 700 000 ha grond beskikbaar stel vir landbou”. Nou hoekom, vra ek met trane in my oë, is dit nodig om mense se grond af te vat sonder vergoeding?

Pofadder

Die EFF erodeer die ANC van links, en kry na net twee verkiesings reeds 11% van die stemme. Aan die regterkant is die DA ‘n fiasko, en die VF geen bedreiging nie. Die VF gaan nie ooit meer as sowat 2 of 3% van die stem te kry nie. Die VF het in die laaste verkiesing dieselfde stemme as in 1994 gekry – net oor 2% – en is daarom grotendeels polities irrelevant vir die ANC. Die regterkant is geen probleem vir die ANC nie, en al sy uitdagings le links – daarom die onherroeplike skuif links om verdere verlies… Lees meer »

Leon

Om die staatsrede in een sin saam te vat:
Ons (die ANC) moet die Outokrasie verder uitbrei.