Sonja Smith: Stem vir die stilgeborenes

Sonja Smith. (Foto: Dawid Brand)

Die dood maak met niemand ’n afspraak nie. Of jou geliefde sestig of 26 weke oud is, ’n begrafnis is bepalend om berusting te bring. Daarom het begrafnisgroepeienaar Sonja Smith (59) besluit om die weersinwekkende wetgewing rondom babasterftes te beveg. Om ’n stem vir stilgeborenes te wees, tot sy self haar laaste asem uitblaas.

Dis ’n mistroostige Meidag. In my gedagtes draal die seisoene terug tot presies 16 jaar gelede toe ek Pa se Potch-begrafnis moes reël. Dit voel soos gister: Eenvoudige Joodse kis met gevlegte touhandvatsels wat deur die roesbruin buik van die aarde ingesluk word, die dowwe plofgeluid van grawe vol grond wat op die deksel dawer.

“Hierdie is ’n wrewelwerk (grudge business). Jy wíl nie met ons besigheid doen nie, maar jy móét. Jy word gedwing,” groetsê Sonja en bedien koffie en fyngebak in die raadsaal van die Meyerspark-franchise van Sonja Smith Elite Funeral Group in Pretoria.

Weggooiwetgewing

Renaldi Ingram (links), prokureur namens The Voice of the Unborn Baby, en Sonja Smith voor die hooggeregshof in Pretoria.

Sonja was onlangs in die nuus toe die Pretoriase hooggeregshof beslis het ouers van babas wat voor 26 weke sterf – wat tot nou toe nie die reg gehad het om dié babas te begrawe nie – wél die reg het om hul kind te laat begrawe.

“’n Ouma van amper sestig” wat in dié Dawid-en-Goliat-saak teen twee ministers (van gesondheid en binnelandse sake) seëvier.

Ingevolge die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes word onderskei tussen ’n miskraam en ’n stilgeboorte. ’n Baba wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, is ’n miskraam wat as mediese afval beskou en verbrand word. Ná 26 weke is dit ’n stilgeboorte en kan ouers hul kind se oorskot ontvang en wettig begrawe of veras.

“Elke land se afsnypunt verskil, na gelang van die mediese infrastruktuur. Oorsee is die afsnypunt tussen 22 en 28 weke vanaf die verwekkingsdatum. Daar was geen plaaslike maatstaf, uitspraak of presedent wat gebruik kon word nie. Ons moes naarstiglik nalees en navors. Elders het mense keuses, maar ons nie.”

Regter Nomonde Mngqibisa-Thusi se waterskeidingsuitspraak ten gunste van Sonja se niewinsgewende organisasie, The Voice of the Unborn Baby, en die Katolieke aartsbisdom van Durban as tweede applikant, is voorafgegaan deur ’n lang, emosionele en peperduur stryd.

“Dit het alles in 2005 begin met ’n telefoonoproep van ’n privaat hospitaal in Pretoria met die nuus dat daar ’n drieling is wat doodgebore is. Ek het ’n spesiale manier hoe ek altyd babatjies gaan haal. Ek het ’n drabedjie, sagte speelding, kombersie.

Cobus en Sanette Potgieter (voor) het in 2005 ‘n drieling verloor.

“So kom ek, soos telkemale tevore, met my drabedjie by die hospitaal aan, maar onbewus van die wetgewing oor babasterftes vóór 26 weke. Daar aangekom, word ek meegedeel die babas is nie meer daar nie.

Ondersteuners van Voice of the Unborn Baby het aan ‘n stille protesaksie buite die hooggeregshof deelgeneem.

“Die verpleegster sê: ‘Daar gaan die medieseafvaltrok, hulle is op pad na die verbrandingsoond’.”

“Dit het gevoel of my hart uit my bors skeur. Ek het ’n enorme bohaai opgeskop: ‘Daar lê ’n mamma wat nou net ’n drieling verloor het. Wil julle vir my sê ek moet vir haar sê haar drie babatjies word saam met geamputeerde ledemate, gebruikte spuitnaalde en vuil verbande weggegooi, verbrand by ’n afvalaanleg? Daar’s nie ’n manier nie!’.”

“Die kraamsaal se eenheidsbestuurder het in haar motor geklim, gery en die drieling gaan soek tót sy hulle gekry het. Daardie drie lyfies kon die waardige afskeid kry wat hulle verdien.”

Geen afsnypunt vir seer

Sonja Smith voer ’n lang, emosionele en peperduur hofstryd sodat ouers wat ‘n baba verloor hul kind kan laat begrawe. (Foto: Dawid Brand)

Dié “weggooiwetgewing” het egter by Sonja bly spook.

“Ek kon dit nie net daar los nie. Die 26 weke-afsnypunt is die krisis. Hoe kan jy vir iemand wat op 25 weke en 6 dae ’n babatjie verloor, sê: rooi sak, rooi emmer, verbrandingsoond? En ’n dag later is ’n waardige begrafnis wettig. Daardie seer, daardie rou is presies dieselfde. Die een is nie minder hartseer as die ander nie.

“Toe begin ek met ’n parlementêre navraag. Hoewel dit in die parlement bespreek is, het daar dadels van gekom. As individu kan jy radiopraatjies, televisieprogramme, koerantberigte en seminare doen tot jy blou is, dit help niks. Almal stem saam, maar niemand doen iets nie. Ek kry toe die raad om ’n maatskappy sonder winsoogmerk te stig. Dié organisasie kan dan die Grondwet uitdaag. Dit was die geboorte van The Voice of the Unborn Baby.”

“Ek sál enduit stry, want dis deel van my nalatenskap,” sê Sonja. (Foto: Dawid Brand)

Ofskoon die hofaansoek reeds op 8 Maart 2017 ingedien en die saak in November 2019 aangehoor is, moes sy tot 29 Maart vanjaar, op haar pa se verjaarsdag, wag vir die uitspraak. Die volgende hekkie is die Konstitusionele Hof wat die uitspraak moet bekragtig, maar sy en haar regspan, onder andere  prof. Donrich Thaldar, advokaat, menseregtekenner en lektor in bio-etiek by die Skool vir Regte aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, is slaggereed.

“Dit kan enigiets tussen twee en ses maande wees voordat ons ’n hofdatum kry. Dan is daar 11 regters en jy’t net 5 minute om jou saak ononderbroke te stel. Die hooggeregshofstukke is meer as 1 000 bladsye!” vertel sy.

“Ek sál enduit stry, want dis deel van my nalatenskap – iemand wat gesien het dinge is nie reg nie en daadwerklik opgestaan het vir dít waarin sy glo. En nie geskroom het of haar laat afsit het deur die regering se vertragingstaktieke of die astronomiese koste nie. Ek het al selfs ’n gholfdag aangebied om die sielkundige in die saak se verslagkoste te betaal ’n hele R65 000 vir 14 bladsye.

’n Fetus in formalien

(Foto: Dawid Brand)

“Ek is geroep as verskilmaker en dalk ook ontwrigter. Om ongeregtighede aan die kaak te stel. Soos ’n bulterriër wat byt en nie los nie. As iets verkeerd is, moet dit reggemaak word. Ek sal myself indoen om dit te bereik, want mense het die reg op keuse. Ek sien wat dit aan ouerpare doen wat nie die kans gegun word om afskeid te neem nie. Dis ’n onerkende verlies.

“Mense sê: ‘Ag, julle is jonk, julle sal gou weer ’n babatjie kan kry.’ Selfs: ‘Gelukkig het jy nie die baba geken nie.’

“Jy verwerk dit nooit nie. Dis soos ’n verdwene kind.”

Dié boorling van Oos-Londen het op vyf saam met pa Renier Groenewald (84) en ma Betsie (79), wat onderskeidelik in landbou en waterwese vir die staat gewerk het, Pretoria toe verhuis. Op 16 weer getrek en in 1980 as hoofmeisie aan die Hoërskool Bergvlam in Nelspruit gematrikuleer.

Sonja se sagte plek vir babatjies kom al van skooltyd af.

Sonja se sagte plek vir babatjies kom al van skooltyd af. (Foto: Dawid Brand)

“Ek het vakansies vir sakgeld in die hospitaal in Nelspruit gewerk en elke keer in die kraamsaal uitgehelp. Ek onthou toe ek in graad 10 was, was daar ’n fetus in ’n glasbottel in die hospitaal. Ek was verskriklik gefassineer deur dié 12 weke-lyfie. Ek is huis toe met die geleende glasbottel vol formalien en vir my ma-hulle gesê: ‘Kyk net hoe perfek gevorm is hierdie klein lyfie.’ Dit was ongelooflik, heilig, om so baie geboortes te kon ervaar.”

Hoewel sy aanvanklik medies wou studeer, het sy vir personeelbestuur by Kovsies ingeskryf.

“Ek het niks daarvan gehou nie en in my eerste jaar opgeskop.”

Sy’s sak en pak terug Nelspruit toe, in 1981 by Standard Bank begin werk en die korporatiewe leer vinnig geklim om op 31 jaar een van die jongste bankbestuurders te word.

Sonja het tot in 1996 in die bank gewerk en is ná ’n egskeiding KwaZulu-Natal toe met die hoop om ’n nuwe lewe saam met ’n nuwe liefde te begin.

“Ek het vir vier jaar aan en af probeer om die verhouding te laat werk met my eie twee tieners en sy tiener, maar dit wou net glad nie werk nie. Ek moes kies: óf hierdie man, óf my kinders.”

“Ek het twee pragtige kinders uit my eerste huwelik. Nikki (35) is ’n fotograaf, en my seun, Jason (31), is ’n rekenaarprogrammeerder.

Bank tot begrafnis

(Foto: Dawd Brand)

Haar lewe het in 1997, op ’n rustige Sondagaand voor die televisie, ’n onherroeplike wending geneem. Carte Blanche het kykers ’n blik op die binnekant van ’n staatslykhuis gegee.

“Niemand weet werklik hoe dit lyk nie. Dis nie asof jy ooit uit vrye wil by só ’n plek instap nie. Dit het my nuuskierigheid geprikkel.

“Ek het na ’n begrafnisondernemer gegaan en gevra ek wil sien hoe dinge werk, ágter die swart gordyne. Die reëlingsbeampte het vertel hoe sy in die nag na tonele uitgaan, hoe vervullend dit is om te kan help. Ek is na hul lykshuisgeriewe toe, die laai oopgetrek. Daar lê ’n tannie in ’n pers kamerjas, purple rinse in die hare, deursigtige velletjie. Ek het sag oor haar hand gestreel. Meteens geweet dis wat ek wou én moet doen – en op 35 my roeping gevind.”

(Foto: Dawid Brand)

Sonja het vir ’n skamele salaris by ’n groot begrafnisondernemer begin werk. Agt families per dag gesien by die tweede besigste tak in die land.

“Ek was ’n enkelouer met twee kinders. Ons het verskriklik swaar gekry. Daar was gereeld nie geld vir brood nie. Die kerk was ’n kruk.

“Maar al was my beursie leeg, was my hart vol. My roepingsdryfveer was só groot, dat ek bereid was om swaar te kry. Ek was nog nooit ingestel op geld nie. Ek sal hierdie werk verniet doen.

“Die Here het my nog nooit in die steek gelaat nie. In die swaar tye sou ek ’n R50-noot in my broeksak ontdek as ek wasgoed was. Broodgeld. Ek móés swaargekry het om empatie met mense te kon kweek. Dit was deel van my eie genesingspad. Geweet ek sit op die stoel vir my bedoel.”

Sonja onthou die babatjies wat van die staatslykhuis af gekom het. Die gebrek aan ontsag en respek.

“As jy onnatuurlik sterf en by die forensiese patologielaboratorium beland, kom jy met net jou geboortepakkie by ons aan. ’n Pa en kind wat verdrink of versmoor het sommer so saam in ’n wit veselglasbak. Ek wou nie hê die mans moet met die babatjies werk nie.

Vir Sonja het dit nog nooit oor die geld gegaan nie. (Foto: Dawid Brand)

“Al was ek net die reëlingsbeampte wat met die families gewerk het en nie in die lykshuis gekom het nie, het ék die babatjies in die besigtigingskamer begin voorberei en versorg, mooi aangetrek. As jy daardie vuisies oopmaak terwyl jy met hulle werk, dan vou die handjie weer outomaties toe.”

In 2001 het Sonja vir ’n oorplasing Pretoria toe gevra. Die somber, stereotipiese swart en wit en grys begrafnisse het haar egter al meer gefrustreer.

“Biddende hande en duiwe op vaal blaadjies. Koue kisruikers. Ek wou dinge anders doen. Ek was moeg om toestemming te vra om buite die lyne in te kleur.”

Geleende kiste tot gerekende sakegroep

Vir Sonja is dit ’n geweldige voorreg om deel van die laaste hoofstuk van ’n persoon se lewe te wees. (Foto: Dawid Brand)

Sonder ’n sent in die bank, met slegs ’n geleende lykswa, geleende aflaatmasjien en drie geleende kiste begin sy Elite Funeral Home in Centurion in 2003 saam met twee ondernemers, waaronder dr. Lawrence Konyana, voormalige president van die Nasionale Vereniging vir Begrafnisondernemers (NFDA).

“Dit was ’n swaar stryd om besigheidsregte te kry. Baie besware. Niemand wil langs ’n begrafnisondernemer woon nie. Ek moes uiteindelik voor ’n burgemeesterstribunaal verskyn. Die raadslede het met 6-2 in my guns gestem en ek kon my drielaai-yskas in ’n volwaardige koelkamer omskep. Dit was huis én kantoor. Bietjie soos die dramareeks Six Feet Under.”

Eindelik kon sy begrafnisse verpersoonlik. As dit ’n gholfspeler was, sy sak en stokke vat, ’n bos blomme insit en siedaar: ’n kerkruiker. Of as dit ’n tannie is wat lief was vir tuinmaak, haar sonhoed en snoeiskêr in die kerk staanmaak.

In 2006 neem sy die groot stap om ’n maatskappy onder haar eie naam te begin, sonder vennote.

“Sodra jy jou naam aan iets koppel, staan jy onbeskaamd vir iets. My standaard is bitter hoog. Eerlikheid, respek, waardigheid en integriteit is ononderhandelbaar.”

Die Sonja Smith Elite Funeral Group het vandag tien takke. (Foto: Dawid Brand)

Sonja was 11 jaar alleen voordat sy in 2006 weer getrou het en vier vanjaar haar vyftiende huweliksherdenking saam met manlief Rian Janse van Rensburg (60), ’n beleggingspesialis.

“Ek het ’n bonuskind (uit Rian se vorige huwelik) gekry, Altus (31). Hy het ’n musiekmaatskappy en werk saam met sy pa by Sanlam.”

In 2015 verkoop sy haar eerste konsessie en vandag het Sonja Smith Elite Funeral Group tien takke en ’n dienssentrum met ’n sentrale lykshuis en ’n vloot voertuie. Droom sy oor ’n groter, nasionale voetspoor.

“Anders as ’n restaurant-franchises, is ons nie resepmatig nie. Elke tak het sy eie gevoel. Allermins koud en klinies.”

Vreemd én vervullend

‘n Begrafnisondernemer het nie net een taak nie, sê Sonja. (Foto: Dawid Brand)

Die begrafnisbedryf is vreemd, maar baie vervullend, sê Sonja. Slegs sowat 5% van hul begrafnisse is teraardebestellings, die res is verassings. Besigheid is ook baie seisoenaal.

“Wintermaande is besiger, met die selfdoodseisoen voor die deur. Slagoffers van seisoenale affektiewe versteuring (SAD). Die donker dae wat soos ’n swaar kombers oor talle se gemoed kom lê.

“Baie mense wat aan ons deur kom klop, is gevul met skuldgevoelens en selfverwyt: ‘Ek moes nog dít. Ek wou nog dát…’ Baie wil dán opmaak daarvoor. Met duisende rande se blomme. Maar dis te laat.

“As die dood intree, kom die maskers af, die naels uit. Veral met saamgestelde gesinne. Giftige gevegte oor geld. Soms moet ons die as in vyf dele verdeel. Ons het al mense gaan haal waar die liggaam nog in die huis lê en dan slaan die familie mekaar buite oor die aktetas waarin die testament is.”

’n Begrafnisondernemer het nie net een taak nie, sê sy.

“Jy’s event planner, sielkundige, predikant. Dis slegs as dit waarlik ’n roeping is, wat jy in staat is om al die emosionele hooi op jou vurk te dra. Jy móét sterk staan, want jy is ’n steunpilaar vir soveel stukkendes.”

Soms kruis humor en huil paaie. Soos met die oom van Montana.

“Ek kom by die huis en simpatiseer. Almal sit in die sitkamer op stoele en elkeen het ’n dop in die hand. Tienuur in die oggend. En hier sit ’n oom wat lyk of hy slaap. Ek groet en kyk hom só. Toe sê hulle dis hý wat dood is, en skink nog ’n rondte.

“Balans tussen respek en om die lewe te vier, is broodnodig. Dis moeilik om nie emosioneel betrokke te raak nie, maar jy kan ook nie afgestomp raak nie. Mense voel aan of jou empatie eg is.

“Ek probeer om nie voor kliënte te huil nie. Dis moeilik as dit kinders of babas is. selfdood of moord. Jy’s dikwels ’n klankbord vir ’n familie wat kwaad is. Kwaad vir die wêreld, kwaad vir God. Ons is die eerstes op wie hulle dit kan uithaal. Dit bly ’n geweldige voorreg om deel van die laaste hoofstuk van ’n persoon se lewe te wees.”

Ons groet en Sonja vertel dat sy pas ’n klavier gekoop en met lesse begin het.

“Vir niemand van ons is môre gewaarborg nie en omdat ek daagliks met die dood werk, raak my wil-nog-doen-lysie al langer. Ek wil met my drie kleinkinders speel, saam met my ouers op Witsand stap, skulpe optel. Skemertyd kyk hoe die soutskuimwater oor my sandspore spoel. Want die middag weet wat die oggend nooit vermoed het nie.”

“ ‘Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer’, maal Dominee se Genesis-woorde langs Pa se graf deur my gedagtes. Ek doen ’n spitsverkeer-stilgebed vir voorlopers soos Sonja Smith wat vasstaan en veg. Sodat ons mág onthou om die stemloses nooit te vergeet nie.

(Foto: Dawid Brand)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SomeOne ·

dis ‘n voorreg om haar te ken en van haar ondervindinge te hoor, sterkte sonja, mag jou lewens “to do” lysie eendag gevul wees met net wat mooi en eerbaar is

Sê maar net ·

Hoendervleis van hierdie artikel.
Sonja, God seën jou en versterk jou.
Jy is ‘n pragtige mens.
My broerskind se baba was volmaak gevorm. Vollengte swangerskap. Naelstring om nekkie. Stilgeboorte. Pragtigste dogtertjie. Sy is begrawe en wag in die Hemel vir haar mamma en pappa en boetie en sussie. 7 jaar gelede. Mens vergeet nooit.
Dankie vir die wonderlike werk wat jy doen.
Vasgebyt en bó uitgekom.
Ek haal my hoed vir jou af. Xxx

SomeOne ·

You came naked,
You will go naked.
You arrived weak,
You will leave weak.
You came without money and things
You will leave even without money and things
Your first bath? Someone washed you.
Your last bath? Someone will wash you.
This is life!!
Why so much malice, so much envy, so much hate, so much resentment and so much selfishness?.
Be kind to everyone and do good deeds
We have limited time on Earth, don’t waste it in uselessness.

Michele ·

Sonja is absoluut n fenominale vrou. Sy het my babatjie by die hospitaal kom haal met haar dra bedjies. Sonja het ook die begrafnis van my baba, my moeder en vader gedoen, Sy is n yster van n vrou

popsa ·

Ek salueer jou, Sonja Smith. Staan 100% agter jou. Sekerlik het enige ouer die menslike reg om enige, enige vroeggebore babatjie eervol te begrawe en sinvol afskeid te neem.

Melli ·

Wat ‘n gerustelling is dit ni! Mag jy uit jou skoene uit gebless word! Daar is min engele soos jy! God seën jou

Tanya ·

Baie dankie Sonja vir die pragtige berig, ek het nog altyd presies dieselfde passie gehad, op 16 ‘n lykshuis besoek en besluit ek wou Patologie swot na skoon, maar ongelukkig het dinge nie so uitgewerk nie, nou staan ek op 39 en voel, dis dalk die regte tyd om presies dit te verander……

KO ·

Ag hier waar ek klaar n seer hart het vanoggend omdat my mooiste klein engel mens die week 1 word kan ek nie myself indink hoe so n mamma en pappa moet voel wat die blyste dag, hul slegste dag is nie. Dan bo op alles nog met wette te sukkel of te weet waarheen sulke klein lyfies heen gaan. Dankie Sonja dat jy vir daardie kleine lyfies n stem is. . Jy is een amazing awesome mens. . .

Nico ·

hierdie verhaal klink vir soos wat aborsie gedoen word, daardie klein mensie wat nie gevra het om daar te wees nie, word eenvoudig gearborteer en weg gegooi soos ‘n stuk gemors. ‘n Stil geboorte is iets heel anders, daar was lewe tot op ‘n punt, toe is alles stil, nou word die liggaampie net eenvoudig saam met ander afval verbrand. Die hospitale het geen respek vir ‘n mens nie. Sonja, alle seën sterkte vir die wat jy doen.

Gerda ·

Ek bid hul net sukses in die hof toe. Wie is die regstelsel om te bepaal wanneer is dit ‘n “mens” en wanneer is dit mediese afval?
Om die ma, wat daardie baba onder haar hart gedra het, ongeag die tydperk, te weerhou om afskeid te neem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.