Sonkrag bring vryheid vir boerdery

Flip Buys, voorsitter van Solidariteit-Beweging, Lourens du Plessis, eienaar van Louma boerdery, Gert Visser, besturende direkteur van Thaba Solar en Daniël de Jongh van AfriForum Sekuriteit staan by die grootste stelsel op die plase wat uit 2 MW se sonpanele en ʼn 2,4 MWh battery bestaan. (Foto: Du Preez de Villiers)

“As jy 10 jaar gelede vir my sou vra of daar die volgende dag krag sou wees sou ek gesê het die kans is baie groot. As jy dit vandag vra, sal ek sê daar is ʼn groot kans dat daar more nie meer krag sal wees nie.”

So sê Lourens du Plessis, eienaar van Louma-boerdery tussen Thabazimbi en Koedoeskop. Hy is in die proses om ʼn ontsaglike groot sonplaas op sy plase in die omgewing en in die Vrystaat op te rig.

Hoewel hy reeds 10 jaar gelede hieraan begin dink het, was die tegnologie nog nie geskik nie en die koste te hoog dat dit ekonomies sin sou maak.

Gelukkig het sake ingrypend verander en onder druk van Eskom kan hy reeds 9 MW se sonkrag op sewe persele opwek, heeltemal onafhanklik van die sukkelende kragvoorsiener.

9 MW is omtrent 1/100ste van wat een van Medupi se ses eenhede kan opwek en kan omtrent 1 300 huishoudings van krag voorsien.

In die proses het hy egter ʼn paar duur lesse geleer.

 

Met sulke groot pompmotors moet jy jou somme mooi maak om hulle met sonkrag aan te dryf. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Ek het ʼn paar foute gemaak. In 2015 het ek begin eksperimenteer en sonpanele opgerig om oortollige krag in die netwerk te stoot en weer uit te haal as die son nie skyn nie. Dit het ek vir drie jaar gedoen en Eskom het nie die wil of vermoë gehad om my een sent daarvoor te betaal nie. Ek moes ook ʼn berg papierwerk doen en na vele vergaderings, e-posse, mooipraat en dreig was daar geen resultate nie.

“Die verkrygingsprogram vir onafhanklike produsente van hernubare energie (REIPPP) klink pragtig in die media, maar in die praktyk werk dit nie,” sê hy.

Daarna het hy probeer om slegs met sonkrag te werk en rondom dit te bestuur, maar dit was ʼn onmoontlike taak. “Jy moet konstante druk hê sodat jou spilpunte reg kan werk, maar in die oggende, terwyl die son nog laag lê, was die druk te laag. ʼn Wolkie wat verbykom het ook al ons planne deurmekaar gekrap.”

In 2017 het hy begin om sy huis, kantore en werkers se behuising na sonkrag met batterye oor te skakel en vir hulle gasstowe in te sit, want soos hy sê, jou werkers werk op hul beste as hulle warm water het en in die oggend voor werk kos kan maak.”

 

Die moderne werkersbehuising waarvoor Lourens du Plessis al baie lof ontvang het, is met geysers, krag en gasstowe toegerus. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Beurtkrag het steeds soos ʼn donker wolk oor sy boerdery gehang en hy was vasbeslote om heeltemal kragonafhanklik te raak. Kragopwekkers sou die sonpanele aanvul maar dit het te duur geraak en batterye was die enigste opsie.

In 2018 het hy vir Gert Visser, eienaar van Thaba Solar in Thabazimbi, ontmoet en sy hulp ingeroep. Hulle het toe na batterye gekyk, maar dit is baie duur en Du Plessis het nie kans gesien vir Visser se kwotasies nie. Hulle het toe vir ʼn jaar planne gemaak, berekeninge gedoen en lank gesels – Visser vanuit ʼn opwekkingsoogpunt en Du Plessis vanuit ʼn boerderyoogpunt. Toe hulle op die punt gekom het waar hulle die regte konsep gevind het, het hulle eers ʼn loodsprojek van stapel gestuur en vir twee jaar daarmee geëksperimenteer.

“Ek het my pen en papier geneem en na elke elektriese motor gegaan om sy kilowatt bymekaar te tel. Dan het ek ook die motors aangeskakel om te kyk of die piek-ampère werklik dit is wat die plaatjies sê,” sê Visser.

 

Benito Mumbanya is die spilpunt- en sonkragoperateur by een van die pompstasies en het die modernste tegnologie tot sy beskikking. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Voorheen het ek huishoudings en kommersiële sonkragstelsels opgesit, maar Lourens het my baie gehelp om die plaaskrag-konsep te verstaan. Nou kan ek vinniger en makliker vir ʼn boer ʼn kwotasie gee.”

Buiten die sewe kragstasies wat oor die plase versprei is, gaan hy nog twee voor die einde van die jaar oprig. Volgende jaar sal daar nog twee bykom wat die totale projek 11 MW groot sal maak.

Maak aanpassings

Op Louma word daar koring, mielies, suikerbone, sonneblomme en sojabone in wisselbou oor twee plantseisoene geplant en dit gebruik ontsaglik baie water en hou nie van lang onderbrekings nie.

 

Die goudgeel koring wat die hele seisoen slegs van sonkrag afhanklik was, word geoes. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Daar moes dus mooi gedink word, want as jy te klein gaan, wag daar probleme op jou en ʼn stelsel wat te groot is beteken onnodige uitgawes.

“Ek het wel besef jy hoef nie die stelsel 24 uur lank te laat loop nie,” sê Du Plessis. “Met goeie bestuur kan jy rondom dit werk en met 18 tot 20 uur regkom. Ek het ook kragopwekkers as rugsteun ingesit.

Die groot kragverbruikers op die plaas is die pompe wat elk tussen 130 kW en 45 kW gebruik. Hulle pomp die water uit die Krokodilrivier na die opgaardamme en dan is daar pompe wat die spilpunte voer. Gelukkig kan die twee funksies beurte maak, sodat daar nooit maksimum kragverbruik plaasvind nie.

Veranderlike spoedaandrywers (VSD’s) is ook op elke pompmotor gesit om die kragverbruik te balanseer wat dit aansienlik verlaag.

Daar word nou ook net tydens dagligure besproei. “Omdat dit hier so warm in die somer is, verkies ek om in die dag te besproei sodat die omgewing afgekoel kan word. In die winter kan ek nie snags besproei nie, want dan word die gewasse so koud dat die plante se selle kan beskadig,” sê hy.

Hy het ook sy pompe, wat op die walle van die rivier geplaas was, op vlotte gemonteer sodat dit nader aan die water kan wees. “Dit het tot ʼn kragbesparing van 30% gelei omdat die suigafstand nou nader is. Hoewel die stootafstand nou verder is, gebruik jy baie meer energie om water te suig as om dit te stoot.”

Op die spilpunte is die drukreguleerders bokant die sproeikoppe van hoëdruk- na laedrukeenhede vervang, wat 20% minder energie gebruik. Nou word daar groter druppels in plaas van ʼn fyn sproei toegedien, wat ook meer water in ʼn gegewe tyd neersit.

Du Plessis het ook agtergekom dat hy nou sy lande eerder ‘nat’ as ‘droog’ moet bestuur. Met Eskom se krag, wat 24 uur beskikbaar was kon hy ophou besproei tot net voor hy droëskade op sy gewasse kry. Nou hou hy aan besproei tot net voor hy natskade kry.

 

Die mielies wat vir hierdie somerseisoen geplant is lyk heel tevrede met die ononderbroke water wat hulle van die sonplaas ontvang. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy het ook plek-plek deurskynende dakplate op die skure gesit om die groot ligte te vervang.

Baie geld word min geld

Louma het in totaal 3 500 ha onder 70 spilpunte, waarvan ongeveer 2 500 ha reeds op 9 MW se sonpanele en 8 MW se batterye werk.

Sy kragrekening het voorheen tussen R2 miljoen en R3 miljoen per maand gewissel, maar vandag betaal hy tussen R1 miljoen en R500 000 per maand aan Eskom oor vir die plase wat nog nie oorgeskakel is nie.

 

Dié manne is dit eens dat daar hoop geskep word met projekte soos dié (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die res kan hy gebruik om sy lening af te betaal. As die totale projek voltooi is sal die groot dag aanbreek waarop hy heeltemal van Eskom gespeen is.

Du Plessis gaan sy kapitaalbelegging binne 10 jaar afbetaal. Die batterye het ook ʼn leeftyd van 10 jaar as jy hulle nie gereeld te diep ontlaai nie en daarna het hulle slegs 20% van hul bergingsvermoë verloor. Dit kan dan vir nog ʼn goeie aantal jaar gebruik word op stelsels wat minder krag benodig.

Sonpanele verloor eers na 25 jaar 20% van hul opwekkingsvermoë

Die kragverbruik is egter ʼn moeilike som om te maak en Visser het dit oor die 10 jaar leeftyd van die batterye uitgewerk. “Sou Louma net sonpanele gebruik het, sou hy 20 c per KWh betaal het en met batterye is dit nou 45 c. Daarteenoor is die plaaskrag in die gebied R1,30 per KWH,” sê Visser.

Die dreigende skerp stygings in elektrisiteit is nie eens in ag geneem nie.

“Hoewel batterye baie duur is, bly dit steeds die beste tegnologie en die goedkoopste vir ʼn boerdery- toepassing. Onthou ook teen die tyd wanneer die batterye uit diens geneem word, het hy reeds gespaar vir sy nuwe stelsel en dan sal die tegnologie reeds heelwat beter en goedkoper wees.”

Daar is ook 25 km se eie kraglyne gespan en sal 30 km in totaal wees.

 

Dit is steeds ʼn stryd om Eskom te kry om hul gehawende kraglyne, pale en transformators van die plaas af te verwyder (links) wat in die pad van die nuwe kraglyne staan. (regs). (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Los jou eie probleme op

Du Plessis het nou sy eerste koringoes van begin tot einde onder sonkrag verbou en hy is baie ingenome. “Ek het my tonne gekry en boonop kon ek gerustheid hê dat die spilpunte nooit sou stop nie. Dit was ook baie makliker vir my bestuurders om in hierdie konstante omstandighede hul werk te doen.”

ʼn Paar geheime wat Du Plessis met medeboere wil deel is eerstens dat jy betyds moet begin. Jy moet die regte en beste kontrakteur kies en deur die hele projek slegs van sy dienste gebruik maak. “Daar is baie mense wat rondloop wat sonkrag insit, maar my waarskuwing is, wees versigtig, jy kan nie die goedkoopste man gebruik wat 300 km van jou is nie. Die mense raak weg en dit het by my gebeur.

“Jou stelsel moet gediens word en die verskaffer moet permanent 24 uur beskikbaar wees. Hierdie is ʼn ingewikkelde stelsel met sonpanele, batterye en kragopwekkers wat geïntegreer is. Die sinkronisasie sit nie in enige elektriese ambagsman se broek nie. Jy kry sporadiese probleme en as jy met ʼn oes op die land sit kan jy nie twee dae wag dat hy by jou kan uitkom nie. Jy moet ook ʼn dienskontrak opstel.”

 

Deur die nag, wanneer die pompe nie loop nie is die kragverbruik oor die hele plaas slegs 50 kW. Die silo’s en graanhanteringstelsel trek ongeveer 20 kW as dit in operasie is. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ʼn Groot kopseer is steeds Eskom wat nie sy kraglyne en transformators wou verwyder, of vir Du Plessis toestemming gee om te verwyder, of aan hom wou verkoop nie. “Eskom het my om elke hoek en draai ondermyn en dié keer wat ek gedwing was om hul lyne wat in my pad was te skuif, het hulle my van peutering aangekla. Boonop is die Eskom-toerusting gehawend en skep ʼn gevaar vir my mense.

“Moet egter nie verwag dat iemand anders soos Eskom of die regering jou probleme gaan oplos nie. Ek wil nie eers ʼn fraksie van my energie mors om die regering te bespreek nie. Daar is genoeg tegnologie in die wêreld om hulle die hoof te bied.”

“Hou op om in Eskom se probleme vas te kyk — skakel oor en raak energie-onafhanklik.

“Onthou wel dat spilpunte ʼn wetenskap op sy eie is en elke boer se stelsel anders werk,” voeg hy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

WitBlits ·

Wat ‘n Absolute insperasie vir almal – Ons sal SELF!….. Wat ‘n klap in die gesig vir die Regering se onvermoee

Lourens CFG ·

Ek hoop hy het iets in plek om sy panele, kraglyne ens. op te pas.
Die goed is deesdae ‘n groot aantrekking vir diewe.
Mooi so, skop eksdom af van jou plase af.
Hulle is net ‘n las.

VaalDonkie ·

Indien die ou dalk hier lees: dis nie TE moeilik om bio-diesel self te maak nie. Dis basies net olie uit sade pers en daar gaat jy. Jy kan daai olie gebruik in jou diesel-kragopwekkers. As die kragopwekkers sukkel, kan jy die olie verdun met metanol. Maar dan moet jy nou weer metanol aankoop of jou eie stoomketel bou en self stook.

Sandra ·

Bravo! jy moet dit laat registreer en kan die konsep verkoop, nog ‘n rand of 2 in jou sak.

Goldy ·

Kan AfriForum nie dalk n maatskappy begin om in sonkragpaneelvervaardiging te belê nie? Die toekoms hieron is baie blink.

Heleen ·

En so dompel arme Eskom net verder die afgrond af..
2 Milj net vanaf een van die makro boere is n groot gat, en daar is vele van hulle wat die roete gaan volg…

Anel ·

Baie geluk. Wys net wat gedoen kan word. Al probleem is dat ons gewone mense wat dit ongelukkig nie kan bekostig nie gaan moet opdok vir eskom se verliese. Die lot wil hul lewensstyl vol hou ten koste van ons, die gebruikers. Hoe kleiner die aanvraag hoe duurder gaan ons moet betaal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.