Sonkrag op Kaapse dakke bereik rekordhoëvlakke

Aansoeke vir sonkragstelsels in Kaapstad het opnuut rekordhoogtes bereik. (Foto: Stad Kaapstad)

Die oprig van sonkragstelsels op Kaapstadse dakke het nuwe rekordhoogtepunte bereik en in Augustus is die meeste aansoeke nóg by die stad ingedien.

Meer as 1 500 kleinskaalse ingebedde opwekkingsaansoeke (SSEG) is verlede maand ontvang. Dit is ʼn 50%-styging in die getal wat in Julie ingedien is.

Kaapstad werk boonop hard om omkeertye vir goedkeuring selfs verder te verkort en ontwikkel ʼn gebruikersvriendelike aanlyn aansoekportaal. Van Sondag af moet alle SSEG-stelsels ʼn omskakelaar gebruik wat deur die stad goedgekeur is, dit moet deur ʼn bekwame persoon afgeteken word en alle stelsels sal as netwerkgekoppel beskou word. Dié stappe word gedoen weens die toenemende voorkoms van kansvatters wat substandaard‑stelsels installeer, of stelsels wat nie korrek bedraad is nie. Dit lei weer tot verlengde kragonderbrekings wanneer die krag ná beurtkrag inskop.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê die afgelope vier agtereenvolgende maande is nuwe aansoekrekords behaal. Meer as 100 MW se kapasiteit is reeds só in die Moederstad geïnstalleer.

“Ons is vasbeslote om dit meer lewensvatbaar vir huishoudings te maak om sonkrag te gebruik,” sê Hill-Lewis. Dit sluit in die gebruik van goedkoper kragmeters en die kontant-vir-krag-inisiatief wat huishoudings en ondernemings moet aanspoor om oortollige krag aan die stad te verkoop.

Meer sonkragstelsels op dakke vorm deel van die stad se groter plan om 1 GW se onafhanklike kapasiteit van verskeie bronne te bekom. Die eerste 650 MW sal na verwagting teen 2025-’26 aanlyn gebring word en sal die stad verskans teen die eerste vier fases van Eskom se beurtkrag.

“Die stad beweeg na ʼn toekomsnetwerk vir almal – waar klante elektrisiteit gebruik en opwek as deel van ʼn geïntegreerde netwerk,” sê Hill-Lewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Mag die DA-beheerde Stad Kaapstad sulke goed doen, want selfs die nogal ANC-beheerde munisipaliteit van Frankfort in die Vrystaat is gestop om met sonkrag beurtkrag vry te spring.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.