Sonkrag steeds nie bekostigbaar vir ‘individuele SA’ner’

(Argieffoto: Michael Fortsch/Unsplash)

Hoewel partye en belanghebbendes meen die 25%-korting op die koste van sonpanele is ʼn stap in die regte rigting, sê hulle in dieselfde asem dat hulle gehoop het dié persentasie sou veel hoër wees.

Volgens ActionSA, die VF Plus, Solidariteit en die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Bedryfsvereniging (Sapvia) is die belastingverligting vir private individue nog te laag om die grootskaalse installering van sonpanele vir die meeste Suid-Afrikaners bekostigbaar te maak.

“Groter belastingverligting op sonpanele sou Suid-Afrikaners werklik aanspoor om in alternatiewe kragopwekking te belê in stede daarvan om miljarde op staatsondernemings te vermors,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Donderdag tydens die begrotingsrede gesê dat belastingbetalers van 1 Maart aanspraak kan maak op ʼn 25%-korting op die koste van sonpanele, tot ʼn maksimum van R15 000.

Volgens dr. Rethabile Melamu, hoof‑ uitvoerende beampte van Sapvia, is meer duidelikheid ook nodig rakende die korting “aangesien dit skynbaar mense wat hoër belastingkoerse betaal, aanspoor.”

Minister Enoch Godongwana aan die woord. (Foto: Twitter)

“Die sonpaneel-aansporing is beperk en hanteer nie daardie huishoudings wat nie sonkragstelsels kan bekostig nie. Op sy beste sal diegene wat panele installeer net tot R15 000 uit hul belasbare inkomste terugkry,” meen Melamu.

“Gegrond op ’n 25%-korting kan dit vertaal word na ’n sonkragstelsel van R60 000 geïnstalleer is, wat nie ’n betekenisvolle uitwerking sal hê op die gemiddelde huishouding sonder berging nie.

“ʼn Deursnee-huishouding is meer geneig om ’n 5 kW‑ hibriede stelsel te koop, insluitend panele en batteryberging, wat wissel van R95 000 tot R200 000, afhangend van die komponente wat gebruik word.”

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, meen die aansporings vir besighede is uitstekend en oortref grootliks hul verwagtinge.

“Tog, gegewe die hoë koste van sonkrag, sou ons veel meer verwag het vir individue in hierdie verband – veral gegewe die feit dat die verligting ook niks in terme van kontantvloei help nie,” stel Mulder.

“Besighede sal beslis na die tafel toe kom en individue sal verlig wees dat hulle uiteindelik darem ʼn antwoord het in verband met aansporings. Nou wag ons net vir die ander ministeries en instellings soos Nersa om ook hulle kant te bring deur toevoer- en versendingstariewe bekend te maak. Ons moet die staatsmeulsteen op private opwekking uiteindelik afskud.”

Solidariteit het verder gemeld dat die ramptoestand in verband met die kragkrisis in sy afwesigheid geskitter het.

“Ten spyte daarvan dat die minister wel aankondigings gedoen het in verband met die ramptoestand oor die vloede, het hy absoluut niks aangekondig oor die ramptoestand oor krag nie. Dit is duidelik dat die regering besef hoe swak hul saak teen ons aansoek is en dit impliseer dat hulle grotendeels reeds vir ʼn verloor in die hof voorberei. Uiteindelik is die tafel nou reeds gedek vir die krisis om opgelos te word,” sê Mulder.

‘Reddingsboei vir Eskom broodnodig’

Eskom doen aansoek vir ‘n tariefverhoging wat tot 32% kan beloop. (Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Volgens Solidariteit is die ooreenkoms rakende Eskom se skuld, gegewe die vereistes wat daaraan gekoppel word, ʼn bitter maar ook ʼn noodsaaklike wending.

Godongwana het in sy begroting die reusebedrag van 254 miljard aan Eskom toegewys om die las op die reeds sukkelende kragvoorsiener se balansstaat te verminder en Eskom toe te laat om broodnodige instandhoudingswerk te doen om die beskikbaarheid van krag te verhoog.

“Die R254 miljard wat aan Eskom toegestaan is vir skuldverligting, was ongelukkig onvermydelik. Die meeste van die skuld was reeds deur die belastingbetaler gewaarborg, wat beteken belasting sou dit amper onafwendbaar in elk geval moes befonds,” verduidelik Mulder.

“Tog verwelkom ons die vereistes van beleggings in transmissie en verspreiding, die fokus op instandhouding en die verpligting om skuld en rente te diens wat saam hierdie verligting kom. Dit is duidelik dat die regering se beursie opwekking aan die private sektor oorlaat, nou moet die regulasies wat dit formaliseer net volg.”

Volgens Wessels is dit net die regering se eie skuld dat toegelaat is dat die skuld so buitensporig toeneem en dat die kragvoorsiener in duie stort “onder korrupsie en onbevoegdheid wat grootliks veroorsaak is deur swart ekonomiewe bemagtiging (SEB)”.

Athol Trollip, voorsitter van ActionSA in die Oos-Kaap, sê die voortgesette reddingsboei aan Eskom kan ook nie voortgaan nie, en daarom moet langtermynoplossings gevind word soos die langverwagte stigting van ’n onafhanklike transmissiemaatskappy, en die verhoogde deelname van private maatskappye en private-openbare-vennootskappe.

“Die uittredende hoof‑ uitvoerende beampte van Eskom, André de Ruyter, se onlangse opmerkings dat die $8,5 miljard Just Energy Transition-geld waarskynlik deur die ANC gesteel sal word, bevestig verder ActionSA se vermoedens dat bykomende geld aan openbare entiteite niks sal oplos nie tensy korrupsie trompop aangepak word, veral in die regerende party,” sê Trollip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanEtz ·

Oneerlike installeerders lag al die pad bank toe met opgblaasde pryse….hierdie is eintlik hul aansporingsbonusse!

Frank ·

Installeer koste is maar klein teenoor die hemelhoe koste van die produkte self

Danie ·

Natuurlik word daar hier gekyk na die wel af staatsamptenare wat nie kragopwekkers vir Kersfees gekry het nie so hulle kry nou R15 000 af op n Son paneel instalasie. Die res word met Eskom korrupsie geld betaal

Nommer 7 ·

Danie, nie R15,000 af nie, net belasbare inkomste wat verminder word met maks R15,000.

Frank ·

R15 000 vir goedkoopste Lithium battery wat nie juis veel is nie, daarteen verkoop ek ‘n hele Honda Ballade Luxline in redelike toestand (net engin uitmekaar) vir R15000. Dit is prakties onmoontlik dat ‘n battery so baie kan kos om te vervaardig en ‘n groot persentasie van die prys is vet winste orals weens vraag, aanbod en misbruik van die situasie. Ek wens iemand erens wil bietjie ondersoek instel na die koste van solar verwante produkte en pryse publiseer want het al baie gesien waar presies dieselfde dinge BAIE meer kos by sekere plekke.

VaalDonkie ·

Ek gebruik lood-suur batterye. Baie goedkoper. Jy kan hulle nou wel nie so leeg tap soos lithium-ion batterye nie, maar dit werk nog altyd goedkoper uit. 2kWh se bruikbare energie (tegnies 4kWh totaal) kos sowat R8000 as jy bietjie rondkyk. Dis genoeg al die ligte in die huis heelnag aan te hou EN ‘n bietjie televisie te kyk.

ES ·

Die probleem is dat panele nou so in aanvraag is dat mens net swak gehalte panele kan kry ten duurste. Die pryse is so opgeblaas dat dit eintlik skokkend is…

Truman Burbank ·

Ons sit nou met dieselfde situasie as masker pryse gedurende lockdown. Profiteering. En dan is daar nog die klomp Marie Antoinette’s wat nie kan verstaan dat daar privaat mense en besighede is wat huidiglik nie eers opwekkers kan bekostig nie, wat nog te se van sonpanele. Ons is onlangs uit n lockdown wat menige persoon geruineer het. Perfekte tyd vir n “energie krisis” wat kan klarmaak wat lockdown nie gedoen het nie

Tipper ·

Ek sien nou op Radio 702 dat diewe teiken nou die sonkrag panele ook.

Martie ·

Als goed en wel om belastingvoordele in te stel sodat besighede en eiendomme sonpanele kan aanskaf en sodoende nie meer van Eskom afhanklik sal wees nie (of minder afhanklik). Maar wat word gedoen aan die wannesteding in Eskom, kragopwekkingseenhede wat nie in stand gehou word nie, sabotasie en dies meer? Indien Eskom self nie reggeruk word nie, gaan dinge nie verbeter nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.