Sonstorm kan tegnologie ontwrig

Argieffoto: AP Photo/A.M. Ahad

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (Sansa) het Dinsdag ʼn waarskuwing uitgereik dat ’n sonvlam probleme kan veroorsaak met tegnologiese stelsels en kommunikasie op die aarde.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur Sansa is die sonvlam Saterdag aangemeld. Sonvlamme is reuse-ontploffings op die oppervlak van die son wat plaasvind wanneer magnetiese veldlyne skielik breek en groot hoeveelhede elektromagnetiese energie vrygelaat word.

Dié uitbarsting het ʼn koronale massa-uitwerping tot gevolg gehad, wat ʼn effek op die aarde se magnetiese veld het. Wanneer die magnetiese veld van ʼn koronale massa-uitwerping met die magnetiese veld van die aarde bots, kan dit ʼn geomagnetiese storm tot gevolg hê.

ʼn Koronale massa-uitwerping is ʼn groot wolk van hoë energiedeeltjies wat van die son se oppervlak vrygestel word wanneer gebergde energie skielik vrygestel word.

Volgens Sansa kan radiokommunikasie wat op hoë frekwensie plaasvind en GPS-werkverrigting weens die uitbarsting onderbreek word. Dit kan moontlik die radiokommunikasies tussen vliegtuie en lugverkeerbeheerders belemmer.

Sansa sê magnetometerlesings regoor die wêreld toon reeds matige ontwrigtings in die magnetiese veld.

Sansa sê egter aangesien Suid-Afrika op die 35 grade- breedtegraad geleë is, is die moontlikheid vir plaaslike radiokommunikasie-ontwrigting en die impak van kragstelsels, skraal.

“Die sonaktiwiteit word egter voortdurend gemonitor en Sansa sal gereeld waarskuwings uitreik oor die sonvlam se impak op Suid-Afrika se tegnologie en bedrywighede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

SANSA??? Nie geweet SA het ‘n Ruimte Agentskap nie. Ek is seker die belastingbetalers se geld kan beter aangewend word as om dit in die ruimte in te blaas.

Hardekwas ·

Nóg n bodemlose put waar belastingbetalers se geld in verdwyn.

Hennie ·

O ja en Vers Kader is ook gesien waar hy speelgoed maak. Wat ‘n grap! Ons het ‘n outoritêre ruimte agentskap… Hahaha..wat sulke waarskuwings hahahaha kan bwah hahahaha uitreik! WOW!

Pablo ·

As dit geen merkwaardig gevaar vir SA inhou nie wat is dan die doel van die berig.?

Hennie ·

Dis seker ‘n groot donker swart gat wat nou nog belasting geld gaan sluk!

Misky ·

Selfoon seine van alle netwerke is baie swak die laaste week omtrent al. Wonder of dit nie moontlik impak het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.