Sorgsentrum, polisie ondersoek ‘aanranding’ van bejaarde met Alzheimers  

Die vrou se linkerbeen. Foto: Verskaf

Die vrou se linkerbeen. Foto: Verskaf

Die Silverton-polisie en die ADCare-groep ondersoek ʼn voorval waarin ʼn 82-jarige pasiënt met Alzheimer se siekte by een van ADCare se sorgsentrums beseer is terwyl sy onder toesig van twee versorgers was.

ADCare is ʼn nie-winsgewende organisasie wat verswaktesorgdienste bied aan Alzheimers en dementia pasiënte en verswakte mense, asook mense wat gediagnoseer is met veelvuldige sklerose, by sewe sorgsentrums in Pretoria en Johannesburg.

“Ons bestaan al sedert 2009 en versorg tans altesaam 400 mense. Dit is die eerste voorval en ons beskou dit in ʼn ernstige lig. Daarom het ons die polisie se hulp ontbied. Indien die versorger haarself skuldig gemaak het aan aanranding, moet die waarheid uitkom, want hier is nie plek vir aanranders by ons nie,” het Suzette Botha, ADCare se eienaar, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Die pasiënt is op 15 November omstreeks 10:00 by die Cura-sorgsentrum in Equestria beseer, kort voordat sy moes gaan was. Sy het ʼn diep snywond in die vorm van ʼn hoefyster aan haar linkerbeen opgedoen.

“Die pasiënt het weens die aard van haar siekte al voorheen aggressief opgetree wanneer sy moes gaan was. Sy was die betrokke dag in die sorg van ʼn 38-jarige versorger, wat al twee jaar lank na haar omsien. ʼn Studenteversorger was ook by.”

Die 38-jarige versorger, wat deur die polisie gesoek is om ʼn verklaring af te lê, beweer die vrou het aggressief geraak en begin skop en so haar been teen ‘n ysterrand van ‘n bed stukkend geskop. Die studenteversorger het egter later gesê die ander versorger het die bejaarde vrou stukkend geskop.

Die suster in beheer by die sorgsentrum het ná die voorval dadelik die wond versorg en haar na die Wilgers-hospitaal geneem vir behandeling. Hulle het die vrou se familie in kennis gestel en die voorval aangemeld.

Aangesien daar sprake van aanranding was, het die bestuur dit ook by die polisie aangemeld en is ʼn saak van aanranding aanhangig gemaak.

“Ons pasiënte is vir ons uiters belangrik en ons het ʼn eed afgelê om elkeen van hulle te versorg en in oorvloed lief te hê. Weens die aard van hul siekte, is ons pasiënte nie in staat om behoorlik te kommunikeer nie en kan hulle ons dus nie vertel wat gebeur het nie. Dit is ons verantwoordelikheid om vas te stel wat gebeur het.”

Botha het gesê voorlopige ondersoek dui daarop die senior versorger en die student het glo meningsverskille gehad en die student se weergawe van gebeure kan moontlik betwyfel word. “Die senior versorger het glo gevoel sy word geteiken en het uit vrees vir inhegtenisneming gevlug, aangesien sy twee kinders het. Sy het intussen met die polisie kontak gemaak en gaan binnekort haar verklaring aflê. Sy is ook bereid om ʼn leuenverklikkertoets af te lê,” het Botha gesê.

“Ons laat die polisie nou toe om hul werk te doen en hul ondersoek af te handel. As sy skuldig is, moet die reg sy gang gaan. Indien dit aan die lig kom dat die student vir ons gejok het, sal ons die nodige interne tugstappe teen haar doen.”

Botha het verder beklemtoon die versorger werk al twee jaar lank daar en niemand het nog oor haar diens gekla nie. Daar is ook ‘n familie wat bereid is om haar voltyds aan te stel om na hul pa om te sien.

Sy het ook verduidelik die pasiënte se velle is baie sensitief is weens hul siekte en baie wonde word self veroorsaak. “Afhangende van die fase van hul siekte, tree van die pasiënte soms soos driejarige kinders op wat oor hul beddens klouter en dan val en seerkry. Hulle kneus ook maklik van die geringste stampie.”

Botha het gesê hul versorgers is goed opgelei om die pasiënte versigtig te hanteer en weet ook wat om te doen as die pasiënte aggressief raak. “Daar is ook senior personeel en ʼn voltydse dokter by elke sorgsentrum wat vinnig sal agterkom as pasiënte aangerand word. Die sorgsentrums word ook gereeld deur die departement van gesondheid geïnspekteer.”

Sy het gesê dit gaan goed met die vrou wat seergekry het. “Haar wond herstel mooi en die wondsorgsuster is tevrede met haar vordering. Dit lyk nie of daar enige permanente skade gaan wees nie. Sy is nog in ons sorg en haar familie wag saam met ons dat die polisie hul ondersoek afhandel.”

ADCare het onderneem om vir die pasiënt se wondsorg te betaal.

Kapt. Jan Sepato, woordvoerder van die Silverton-polisie, het aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van aanranding.

“Die polisie is na die versorger se huisadres in Mamelodi, maar sy was nie daar nie. Die ondersoekbeampte is meegedeel dat sy glo in KwaMhlanga in Mpumalanga is. Die ondersoekbeampte het sy kontakbesonderhede by die vrou se pastoor gelos en die vrou het intussen die ondersoekbeampte gebel en onderneem om haar verklaring af te lê, waarna die volgende stappe bepaal sal word,” het Sepato gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Eliza-beth ·

Ek glo VAS daar is ‘n baie spesiale plek in die hel vir die wat oumense, kinders en diere mishandel of misbruik.

Izzy ·

Hoekom kan daar nie veiligheids kameras aangebring word nie? Dit kan die pasiente sowel as die versorgers beskerm.

Donna ·

Wel gedaan Maroela media! Uiteindelik het iemand wakker geword! NOU dringend SAPD verslag en ook sommer ADCARE group se verslag want waar rokie is trek daar lañkal al ‘n vuurtjie!

marieta ·

Ek het ook al baie in ouetehuise en versorgings plekke gewerk as snr….. eerstens baie versorgers is nie opgelei soos mense wil glo nie….. ja dit is waar dat sommige versorgers net werk omdat dit ‘n inkomste is en nie omdat hulle regtig bejaardes en kinders wil versorg nie….WAAR IS DIE 24/7 KAMERAS vir die sorgsentrum….jammer om te se maar a g v BEE is dit baie nodig vir alle sentrums…. en die kamera’s moet gereeld gekyk word ..ELKE DAG…. die inwoners is ‘fragile’ en behoort nie aan moontlike misdadigers blootgestel te word nie… ja ek weet ook a g v hulle siekte is baie agressief en selfbesering is altyd ‘n moontlikheid….

Asjas ·

My Ma is nou al twee jaar in hierdie spesifieke inrigting en ons is baie gelukkig met die diens wat gelewer word. Die Susters en Verpleegters is baie oulik, vriendelik en behulpsaam. Wat die BEE aanmerkings betref … ek was nie bereid om my Ma se vuil doeke te ruil nie en bitter min wit mense is bereid om dit te doen. Toe die ouetehuis op die dorp waar sy al meer as 30 jaar gewoon het en tot die gemeenskap bygedra het hoor sy het Alzheimers, het hulle haar toegang geweier.
Ek het ook eerste hands ondervind hoe moeilik dit is om met ‘n persoon met die siekte te werk, my Ma het ‘n rukkie by ons gebly voordat sy ‘n tuiste by AD Care gekry het. Hulle val, werk teen jou die heeltyd en JA raak soms agressief. Ons het die afgelope 2 jaar die personeel by AD Care leer ken en dit sal baie interessant wees om die uitkoms van die saak te hoor. Ons grootste vrees was mishandeling en ons let met elke besoek op na enige blou kolle of stampe of sere of enigiets verdag … niks. My Ma lyk goed en is goed versorg, ongelukke gebeur. Kom ons hoor wat die ondersoek oplewer voordat ons klippe gooi. AS die personeel lid betrokke skuldig is, sal ek baie geskok en hartseer wees.

Genis ·

Ja wag asseblief tog todat die ondersoek afgehandel en al die feite op die tafel is voor die personeel links en regs beskuldig word.

j ·

Genis – die student het al klaar die ander werker beskuldig so as die personeel mekaar oor en weer begin beskuldig ruik ek ‘n rot en klaar.

Cornelia ·

As jou ouers nie in die bevoorregte posisie is om by kinders te bly nie, en hulle moet by ‘n aftree-oord / ouetehuis inwoon, doen dan ten minste 2-3 kpw besoeke en kyk hoe hulle met die be jaardes omgaan. My ma is oorlede in aftree-oord in Krugersdorp. Ek het oggend 7vm met haar gepraat, was oppad na haar later. 9vm het ek oproep van aftree-oord ontvang om te se sy is oorlede. Die Here het my gehelp om myself in toom te hou. Ek weet vandag die sg. Verpleegsters het iets daarmee te doen gehad agv nalatigheid.

swanna ·

Ek stem saam met marieta. Kry veiligheids kameras 24/7 en monitor dit 24/7 dan is daar oe wat alles dop hou sodat almal beskerm is pasient en verpleer oor enige ding wat plaasvind.

Janice stoddart ·

My mother was in Ad care facility in Littleton. Care was shocking there as well. Very nasty nurses.

Ariete Pieterse ·

Its interesting that all these articles are appearing lately regarding this facility. I experienced a similar situation in which I queried the various bruises on moms body. The response….Twenty-four hours notice to remove mom from the facility….Where was her justice and investigation?

Eish! ·

Beslis kameras is die antwoord. Beskerming vir pasient en personeel.

Willem ·

My Moeder was aangerand en verniel deur die sogenaamde “versorgers” en ek kan niks goed praat van die mense nie. Toe sy konsuis “geval” het is ons eers 6 ure na dit gekontak. Haar gewrig was gebreek en been het deur die vel gedruk. Die “suster” aan diens het net n pleister oor geplak en haar so laat le op haar bed todat ons haar kom haal het en na hospitaal toe geneem. En die was n vroue federasie versorgings plek. Tot nou toe geen verskoning of ondersoek deur die Matrone gelas maar eerder die tipiese kan nie saam staan houding vanaf haar gekry. Seker bang sy verloor al haar perks wat sy so gratis kry daar en waarvoor ons moet betaal.

E.K. ·

Goed en wel om te sê bring kameras aan maar glo my, dit sal elke nou en dan “buite werking” raak. Ek het dit self beleef! Alzheimers pasiënte is beslis moeilik en het spesiale sorg nodig, maar ek het te veel gehoor en bewyse geSIEN van hoe hul mishandel word want hul kan nie kla omdat hulle nie onthou. Dit is ook so dat sommige mense gelukkig is met diens in ‘n sekere tehuis en ander groot probleme het; dis soos boelies by skole. Sommige kinders word eenvoudig uitgesonder en geboelie en ander ouers is doodgelukkig en hul kinders gedy en word niks aangedoen. So dis dieselfde hier – sommige arme oues word eenvoudig om een of ander mal idee uitgesonder om seergemaak te word. Ek kan nie dink dat iemand hulself so ERG kan beseer – dis eintlik totaal onlogies, en enigeen met meer as 3 breinselle sal jou dit kan vertel. Sterkte aan hierdie familie, mag die arme ou tannie beter word en van nou af beter sorg, waar okal kry.

Stuart ·

Jip, natuurlik sal die inrigting nou rondspring en ontken en vertel hulle is onskuldig ens. anders sal hul mos vinnig moeilikheid optel. So, dis ‘n geval van: “vra my broer Jack, hy lieg nes ek.” Waar sal hul nou erken hul toesighouers is skuldig?

Patroon ·

Ek ruik `n rot. Hoekom het die verpleegter gevlug. As sy onskuldig was sou sy haar kant van die storie dadelik vertel het om haar onskuld te bewys. My moeder het ook Alzheimers en was ook mishandel in `n baie bekende aftree oord in Nelspruit. Ons het haar dadelik uitgehaal en in `n ander plek gesit. Mense wat oumense mishandle moet vrot in die hel !!!

Cara ·

Ja, almal stem vir kameras en agterna word dit weer gese die menseregte van die pasiente word geskend deur kameras daar te he. agge nee, wag maar eers vir die uitslae voor iemand nou iets se wat glad nie die waarheid is nie. Niemand weet wat daar gebeur het nie, en almal glo nou maar die student. weereens, die student het n uitval gehad met die senior versorger en dalk besluit sy gaan haar nou met die geval terugkry??!! Nie almal kan versorgers wees nie, maar jy kry tog die wat bereid is en omgee vir sulke tipe pasiente. En dalk het die versorger gevlug, want sy weet sy staan nie n kans teen die leuens oor haar nie. As sy skuldig was, sou sy nie die polisie gekontak het en haar verklaring afgele het nie. Kom ons wag maar vir die uitslae. Sterkte aan almal wat betrokke is.

Ella ·

Traumaties vir die familie en slagoffer! Vir n ou mens om so behandel te word. Die bestuur probeer nou hul bes om die teendeel te bewys!! waarom glo hulle nie die getuie nie? Dit is nou 2 sake, aanranding en bestuur se houding.

Bokkie ·

Ja mens wonder dan ook hoekom die bestuurder gese is om te bedank na die voorval. Sy was die een wat die voorval bekend gemaak het aan die media, maar het geen besonderhede verskaf nie, behalwe vir die foto en naam van die werker wat beskuldig is nie. Of sy moes bedank of sy word gefire. Sy was net ‘n kort rukkie daar maar het wondere verrig. Ek is baie jammer sy is daar weg. Ek dink dis ‘n DISGRACE!

Cecilia Bailie ·

Ons het ‘n maand gelede my moeder uit hulle sorg verwyder. Nadat hulle haar twee keer laat val het en nadat sy die eerste keer haar heup gebreek het en hulle ons eers twee dae daarna laat weet het. Daarna was daar allerhande onverklaarbare blou kolle aan haar lyf en selfs ‘n baie baie lelike blou oog.
Nou vra ek wat gebeur agter toe deure en dan lieg hulle ook nog oor wat met jou ouer geneur.
Nooit weer bky my ma in enige sorgsentrum nie.
Julle kan my kontak vir verdere inligting.

Luna ·

Ekt so tussen deur verneem dat die bestuurderes Martie, by die betrokke fasiliteit die saak aangespreek het. Na die eerste koerant berig, was daar vir haar gese sy moet op epos noem dat sy bedank en indien nie, dat die direkteure haar nie weer sal vertrou nie. Die een vrou wat opgestaan het vir diè tannie. – Dus, moenie al die bestuur aanval nie. Die volgende dag het die direkteure haar met regstappe gedreig. DIT is die rede hoekom mense stil bly. Sê hulle iets, sit hulle sonder werk. Die Here sal vir jou sorg Martie my kind, vir jou en die tannie en haar familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.