SOS besorg oor departement se plan met gr. 10’s en 11’s

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê hy is bekommerd oor die departement van basiese onderwys se besluit om leerders in gr. 10 en 11 aan die einde van vanjaar “gekontroleerde toetse” in hul onderskeie vakke te laat skryf in plaas van eksamens.

“Die SOS is van mening dat die nuwe regulasies neerkom op ʼn verlaging van standaarde en dat dit ʼn kunsmatige manier is om leerders die jaar te laat slaag sonder dat werklike prestasievlakke behaal is,” sê Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS.

Luidens ʼn omsendbrief van die departement het nie alle leerders weens verlore onderrigtyd vanjaar dieselfde gewig van die kurrikulum gedek nie. Daar is dus besluit dat gekontroleerde toetse deur die leerders se onderskeie onderwysers opgestel moet word en slegs werk sal dek wat die leerders reeds behandel het.

Die toets behoort tog ’n wesenlike deel van die kurrikulum te dek, word daar in die brief verduidelik.

Vermeulen wys egter nou daarop dat die punte wat in gr. 11 behaal word, meerendeels die standaard is waarop leerders toegelaat word tot hoër onderwysinstellings. Die SOS is dus bekommerd dat die skryf van ʼn kontroletoets teenoor ʼn eksamen die waarde van die uitslae drasties gaan verlaag.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

“Die skryf van formele, langer eksamens is belangrike voorbereiding vir die matriekeksamen en boonop ʼn vaardigheid wat nie net sukses daarin verseker nie, maar ook vir toekomstige studie belangrik is.”

Maroela Media het vroeër berig die gekontroleerde toetse sal ook minder gewig as ’n eksamen in die assessering van ’n leerder dra terwyl skoolgebaseerde assessering (SBA) meer gewig sal dra. Die gewig vir die eksamen, wat vanjaar as ’n toets geskryf sal word, word nou van 75% tot 40% verminder terwyl die gewig vir skoolgebaseerde assessering van 25% tot 60% verhoog word.

“Die vermeerdering van die SBA-jaarpunt van 25% na 60% gaan veroorsaak dat leerders makliker hoër punte behaal met minder insette as in die verlede. Dit veroorsaak dat hierdie leerders en hul ouers ʼn onrealistiese beeld van hul vermoëns het en dalk teleurgesteld gaan wees wanneer hulle nie toelating tot universiteit kry of hul eerste jaar slaag nie. Dit sal vir universiteite riskant wees om gr. 11-leerders te keur op punte wat beduidend onakkuraat is,” sê Vermeulen.

Volgens die SOS het die meeste funksionele skole reeds behoorlike digitale strategie en het dié skole ook planne beraam om onderrig vol te hou tydens die algehele landwye afsondering.

“Dit is vir hierdie skole belangrik om hul leerders deur middel van eksamens wat die volledige jaarinhoud toets, te assesseer, sodat hulle weet dat hulle gereed is vir bevordering na die volgende graad.

“Die SOS ondersteun skole wat kies om steeds ʼn volwaardige eksamen in al hul vakke te skryf sodat die uitslae geloofwaardig, betroubaar en realisties kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

TADA!!!!! Daar vat die ANC COMRADES n hamer en draai hom toe met n sak wat op geskryf staan COVID en slaan akademiese standaarde lapland toe! Presies wat gulle wou hê: ‘ n so laag as moontlike standaard van skole om ALMAL ewe agtergeblewe te kry!

ANARGIS TERRORIS BELEID wat ons kinders ONHERSTELBARE skade kan aanrig.

As daar EEN dag is wat ons as ouers gaan WYS tot hiertoe en nie verder nie, is dit om die aanslag met hand en tand teen te staan.

Sarel

Die Dept is lankal bedsig om standaarde te verlaag