SOS eis nasionale ondersoek na matriekuitslae vir besigheidstudies

besigheidstudies-sos-konferensie-2019-01-17

Sowat 120 bekommerde vakonderwysers het van onder meer Louis Trichardt gekom en Donderdagmiddag by Akademia in Centurion byeengekom om ʼn aksieplan te beraam om die radikale verskil tussen matrikulante se jaarpunt en finale uitslag te hanteer. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het gesê die organisasie gaan ʼn aanlyn petisie begin waarin onderwysers, ouers en leerders die onderwysdepartement vra om ʼn ondersoek na die 2018-matriekuitslae in die vak besigheidstudies te doen.

Sowat 120 bekommerde vakonderwysers het van onder meer Louis Trichardt gekom en Donderdagmiddag by Akademia in Centurion byeengekom om ʼn aksieplan te beraam om die radikale verskil tussen matrikulante se jaarpunt en finale uitslag te hanteer.

“Die SOS het die afgelope twee weke honderde klagtes ontvang van skole landwyd met betrekking tot die 2018-matriekuitslae in besigheidstudies.

“In baie gevalle verskil uitslae van die matriekeksamen drasties van leerders se jaarpunte en in sommige gevalle het skole se slaagsyfers vir besigheidstudies amper halveer sedert Junie verlede jaar,” het Hugo Vermeulen, onderwyskenner verbonde aan die SOS, gesê.

Volgens Vermeulen is daar sedert 2014 ’n stelselmatige afname in die slaagsyfer en getal onderskeidings in besigheidstudies tydens die matriekeindeksamen.

“Onderwysers kry geen antwoorde van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) in dié verband nie en voel hul klagtes val op dowe ore.

“Sommige leerders het selfs universiteitskeuring en beurse verbeur omdat hul toelatingspuntetelling (TP-telling) skielik te laag is, weens die swak besigheidstudies-uitslae.”

Die SOS weet van ’n hoërskool in Mpumalanga wie se matriekgemiddeld vir besigheidstudies sedert 2017 met 21 persentasiepunte gedaal het (van 48% tot 27%), sonder dat enige geldige rede daarvoor gevind kan word. ’n Hoërskool in Gauteng het nege keer meer druipelinge vir besigheidstudies in die eindeksamen (19) as in die rekordeksamen (2) gehad. Geen kandidate aan dié skool het onderskeidings vir besigheidstudies behaal nie, terwyl drie leerders onderskeidings tydens die rekordeksamen behaal het.

“Ek het die vergadering bygewoon, want ek wil weet wat gaan met my vak aan. As dit aanhou, gaan die vak doodloop,” het Johan du Preez, ʼn afgetrede onderwyser, gesê.

Sommige leerders se finale uitslae het met tot 30% afgeneem terwyl onderwysers gekla het dat daar nie net één voorgeskrewe handboek vir die vak is nie.

Ander onderwysers het ook gemeen een van die grootste probleme is dat onderwysers en leerders vrye teuels gegee word deur die jaar oor hoe om vrae in vraestelle te interpreteer omdat dit ʼn sogenaamde vak is wat insig verg. Tydens die eindeksamen word die vraestel egter streng volgens ʼn memorandum gemerk waarvan daar glad nie afgewyk mag word nie.

Die SOS het ook reeds ’n formele klagte by die DBO ingedien en ’n vergadering met senior beamptes van die DBO aangevra, ten einde hierdie klagtes met die verantwoordelike amptenare te bespreek.

Die vergadering tussen die SOS en DBO sal Donderdag 24 Januarie plaasvind.

“Tydens hierdie vergadering sal die SOS soveel moontlik inligting aan die departement verskaf en ’n petisie oorhandig, ten einde te eis dat ’n nasionale ondersoek na die uitslae in besigheidstudies gedoen word.

“Die SOS eis ʼn dringende en volledige hernasiening en hersiening van alle provinsies se uitslae in besigheidstudies. Dit is noodsaaklik dat die DBO erken as daar ʼn fout was en die saak so spoedig moontlik regstel,” het Vermeulen gesê.

  • Onderwysers en skole wat klagtes het, word aangemoedig om die SOS se petisielys te onderteken deur die skakel https://skole.co.za/petisie/ te volg en die vorm in te vul. Deur hierdie petisie te teken gee onderwysers hul steun aan die SOS se veldtog om ’n nasionale ondersoek na die uitslae in besigheidstudies te eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

ZAR ·

Ek glo die antwoord kan gekry word by die persone wat dit merk. Is hulle gekwalifiseerd genoeg? Of is daar nog meer duistere planne daaragter?

Abe ·

ZAR,
Dit lyk beslis of iets verkeerd is. Hierdie is nie geisoleerde gevalle wat aan toeval toegeskryf kan word nie. Dit sal net kan besleg word as n reuse hermerk gedoen word. Skole en betrokke onderwysers moet aandring daarop.

Werner ·

My dogter se eindpunte het geval na 66% toe terwyl sy vanaf Gr 10 elke eksamin n onderskeiding in die vak behaal het. Haar rekord eksaminpunt was 91%. Dalk het die merkers die geskiedenis memo gebruik om na te sien. Hierdie fiasko het veroorsaak dat haar gemiddeld 79% was. As sy 80 %gehad het het sy n R 27000 beurs ontvang by die universiteit. Ek het reeds aansoek gedoen vir n hermerk. Die universteit aanvaar egter nie n hermerk nie.

Bekommerde ·

Hier is iets GROOT FOUT – het die mense wat die merkery gedoen het – die taal verstaan waarin dit geskryf is.
AG NEE – nou faal ons alweer die jeug wat wonderlike drome vir hulle toekoms gehad het.
AS DAAR FOUT IS moet ons as grootmense erken – hier was ‘n fiasko & STEL DIT REG!

Martin ·

Dis om seker te dat n teiken groep voorkeur kry by varsities en werksplekke

Snowflake ·

Dis n feit Martin…… GEEN ander rede nie….. so word die blanke jonges selfs nou op so n manier ondermein… wat n skande.. kan myself ook net afvra hoe lank dit gaan neem vir sogenamde “onder soek” ??? Mag blankes nou nie eens meer presteer nie???

Agasseblieftog ·

Dit het NIKS met ras te doen nie!!! Dis nie net Afrikaanse kinders se punte in Besigheidsstudies wat swakker was nie, maar almal. Wanneer gaan die Afrikaners tog wakkerskrik! Hierdie slagoffer bestaan is pateties!

Marilize Visagie ·

Ek dink om sulke probleme uit te skakel moet alle skole vanaf graad 11 dieselfde eksamens skryf en dan is NBTs nie nodig nie almal is op dieselfde blaadjie.En hou die standaard hoog deur bevoegde mense aan te stel!

Akademie ·

Hierdie jaar was Besigheidstudies, daar moet na Ekonomie ook gekyk word. Die merkproses en aanstelling van merkers moet hersien word. Jy kan nie ń insig vak met terme nie bekend aan jou, merk, as jy nie die taal magtig is nie (dit is wat wel gebeur). Hier word met kinders se toekoms gedobbel.

Stem saam ·

Stem heeltemal saam. My matrieks se Ekonomie punte was ook drasties minder as hul jaarpunt. En my matrieks was swart en wit en almal was benadeel so niks met velkleur te doen nie.

Vakhoof ·

Ek is vakhoof van Besigheidstudies by ‘n groot multikulturele skool in Gauteng. Ons jaarpunte was tussen 10-20% meer as die finale punt. Die uitslae het swart en wit kinders negatief beïnvloed en het niks met ras te doen nie. Ek kan julle verseker die probleem lê by die merksentrums. Merkers is dikwels nie Engels of Afrikaans magtig nie. Die verskillende handboeke bevat nie dieselfde inligting of dieselfde hoeveelheid besonderhede oor elke tema nie. Die merkers mag ook maar min afwyk van die memo en nie hul eie oordeel gebruik nie. Ons onderwys is eintlik maar op ‘n afdraende pad. ‘n Kind in graad 7-9 mag nie druip agv Wiskunde nie, maw as jy jou ander vakke deur is, maar kry 5% vir Wiskunde, word jy ‘gekondoneer’ en deurgesit. Ek sit met vier grade en het uit die privaatsektor gegaan om my passie vir die onderwyser uit te leef, maar sukkel om positief te bly!

Sê maar net ·

Die probleem lê nie net by die merk nie, maar by die feit dat daar GEEN handboek voorgeskryf is nie en GEEN leiding t.o.v vraestelle is nie. Klink my die onderwysers word aan hul eie lot oorgelaat om in die donker rond te tas .
Hoe vergelyk die vraestel met die voorgeskrewe sillabus? Word daar vakvergaderings gehou? Is daar regtig geen vraestel deur die loop van die jaar beskikbaar vanaf die Onderwys Dept. nie?
Dan kan gevra word hoe word die merkers gekeur, en hoe word gemerk.

Daleen ·

Ek is n ouer van n matriekuland wat Besigheidstudies baie onredelik ondervind het maar julle petisie mask nie voorsiening vir ouers nie. ander in d petisie mag dalk verwerp word

Agge Nee ·

Sorry om agasseblieftog se bubble te bars. Dit lyk tog of die probleem dieper lê. Ons skool, ‘n 100% swart skool het ‘n 100% slaag in beide Besigheids en Ekonomie, asook heelwat (meer as 2016 & 2017 ) A en B simbole. Ons onnies het selfs trofees ontvang vir die beste in die streek (net gister)

Vreemd ·

Dis baie vreemd, ek is ook by ‘n swart skool onderwyser en stem saam met agasseblief. Ons besigheidstudies punte verskil ook baie (minder) van ons punte wat ons ingestuur het so in my skool se geval is die swart leerlinge net so benadeel.

Bog ·

Onderskeidings in besigheidstydies is so skaars soos hoendertande. Ek vermoed jy praat sommer snert om ‘n punt te bewys. Die top skool in Bloemfontein het slegs 3 onderskeidings in besigheidstudie gekry. Sal graag wil hoor hoeveel A’s jou swart leerders gekry het?

Nee wat ·

Die leerders se name en skole staan nie op die vraestelle nie. Slegs hul eksamennommers en sentrum nommers so dis baie onwaarskynlik.

Smowflake ·

Sjoe agge nee….. sal ek nou wonder…. hoe dan nou so???

Suzette de la Rey ·

Agv uit die veld slegte eindeksamen Besigheid studie punt kan my seun nie die jaar gaan studeer nie…. hy moet herskryf in Junie.. onmoontlik dat hy 15% in sy eind eksamen kon kry… nadat hy n goeie jaar gehad het.
Hier is groot fout.

Leoni Schmidt ·

In 2015 was daar reeds ‘n probleem. Die memorandum is uit een spesifieke handboek opgestel terwyl die skole kon kies uit watter handboek hulle wou werk. “Toevallig” was die hoofnasiener ook die skrywer van die handboek waaruit die memorandum opgestel is. Die ander handboeke se antwoorde is nie erken nie. Dit het my kind haar onderskeiding gekos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.