SOS gekant teen Bela-wetsontwerp

(Argieffoto: Unsplash)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het sy stem by die koor van besorgdes gevoeg in teenkanting van die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela).

Agt van die nege provinsiale wetgewers in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee oor onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur het Donderdag in hul finale mandaat aangedui dat hulle die finaal gewysigde wetsontwerp steun. Slegs die Wes-Kaap het dit verwerp.

Die SOS meen dié goedkeuring is deurgedwing ondanks “oorweldigende teenstand”.

“Hierdie stap is nie net ʼn aantasting van die regte wat deur die Grondwet gewaarborg word nie, maar dit bedreig ook die beskerming van minderheidstale en kulture, soos Afrikaans.”

Die SOS het veral sy kommer te kenne gegee oor artikels 5 en 6 van die Bela-wetgewing en meen dit maak steeds inbreuk op gemeenskappe se grondwetlike reg tot inspraak in hul kinders se opvoeding.

“ʼn Strewe na meer selfstandigheid in ons skoolgemeenskappe is noodsaaklik. Ouers se oop hand was nog altyd deel van Afrikaanse skole se sukses. Ouers moet nie toelaat dat hulle geïntimideer word nie; hulle moet hul regte opeis, soos deur die Grondwet gewaarborg,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS.

“Ons moedig ouers en skoolbeheerliggame aan om hul skole meer selfstandig en minder staatgesentreerd te maak.”

Die organisasie sê die jongste aanpassings aan die wetsontwerp wat voorgee om sommige bevoegdhede aan beheerliggame te gee, is bloot kosmeties. Die finale besluit oor belangrike beleidskwessies berus steeds by ʼn regeringsamptenaar wat die mag het om enige voorgestelde beleid af te keur of te wysig, sê Fourie.

Fourie meen dié benadering skep ʼn onrusbarende presedent waar besluite geneem kan word deur individue wat geen direkte verbintenis of begrip het van skoolgemeenskappe se unieke behoeftes nie.

Die SOS wil hande vat met die vakbond Solidariteit en AfriForum om die uitvoering van die wetswysiging teen te staan. Die SOS het ook verder ʼn beroep gedoen op die regering om die unieke taal- en kultuurverskeidenheid in Suid-Afrika te respekteer.

“Dit kan ten beste gedoen word deur besluitneming in die hande van diegene te laat wat regstreeks daardeur geraak word. Slegs deur ware deelname en respek vir gemeenskapsregte kan ons ʼn onderwysstelsel bou wat alle Suid-Afrikaners bevoordeel,” sê Fourie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.