SOS-kongres bied vanjaar verskeie trekpleisters

sos-onderwyskongres-pepper-robot

Onderwysers wat die Gautengse kongres bywoon, het vanjaar die geleentheid om die robot Pepper, te ontmoet. Pepper is die eerste van haar soort in Suid-Afrika en word deur Nedbank gebruik om met kliënte te kommunikeer. Foto: Verskaf.

’n Vermenslikte robot, eretoekennings aan uitskieters in die onderwys en belangrike navorsingsbevindings. Dit is van die hoogtepunte wat onderwysers kan verwag by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se onderwyserskongres in Junie vanjaar.

Die SOS se kongres in Gauteng en die Wes-Kaap is jaarliks die grootste Afrikaanse onderwyserskongres in die land en iets wat talle skole maande vooraf in hul kalenders aanteken.

Onderwysers wat die Gautengse kongres bywoon, het vanjaar die geleentheid om die robot Pepper, te ontmoet. Pepper is die eerste van haar soort in Suid-Afrika en word deur Nedbank gebruik om met kliënte te kommunikeer. Die robot kan geprogrammeer word om bepaalde vrae te beantwoord en menslike emosies en stemme te herken. Sy kan selfs dans.  Die SOS betrek juis vir Pepper aangesien die 2019-kongres ’n spesiale nuwe afdeling insluit, naamlik Die Klaskamer van Môre. Dit sluit in aanbiedings oor ’n nuwe vakgebied, bekend as robotika.

Die SOS ken ook vanjaar vir die eerste keer verskeie eerbewyse toe aan individue wat die afgelope jare ’n buitengewone bydrae tot die onderwys gelewer het. Hierdie toekennings sluit in die besonderse bydrae tot die bevordering van wiskunde-onderwys in Afrikaans en die deurlopende bydrae tot die bevordering van Afrikaanse skole se regte.

Verskeie navorsingsverslae sal ook bekendgemaak word tydens die kongresse. Die SOS is tans besig met navorsing oor veiligheid in skole en watter maatreëls Afrikaanse skole moet implementeer om hul veiligheid te bevorder. Die sentrum doen ook navorsing oor skoolhoofde en of hulle hul tyd effektief bestee.

“Ons het reeds ’n paar interessante bevindings in verband hiermee gemaak en sien uit om dit met kongresgangers te deel,” het Elaine Krige, skakelbeampte van die SOS, gesê.

Buiten vir die meer as 120 verskillende sessies waaruit onderwysers kan kies, het die sentrum ook ’n hele paar interessante gassprekers vanjaar op die program. Carla de Beer van die Digital Law Company praat oor die risiko’s van sosiale media en Chris Chameleon sal onderwyser vertel hoe hy op Afrikaans verlief geraak het. Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die SOS, sal ook met onderwysers gesels oor hoe die skool van die toekoms lyk.

  • Vir meer inligting en om te registreer, besoek Skole.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.