SOS maak planne om skooljaar te red

(Argieffoto)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Donderdag ’n agtpuntplan vir skole bekend gestel in ’n poging om die akademiese jaar te beredder te midde van die Covid-19-pandemie. Dít sluit in die opstel van gestandaardiseerde eksamens, regstreekse klasse en voorbereidende basislynassessering vir leerders.

Die SOS oorweeg boonop in samewerking met Solidariteit regsoptrede indien skole wat gereed is, vorentoe verhoed word om vroeër oop te maak. “Onder die bestaande direktiewe het skole steeds die reg om vroeër vir meer grade te heropen en hoef slegs die provinsiale onderwysdepartement daarvan in kennis te stel,” het die sentrum Donderdag daarop gewys.

Dié planne word beraam in die lig van openbare skole wat op onderwysvakbonde se versoek weer vir sowat vier weke moes sluit in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in skole te beperk. Die DA is reeds besig met ʼn hofaansoek om skole weer te laat heropen. Hulle voer aan omdat die sluiting van skole nooit in die Staatskoerant gepubliseer is nie, is skole inderdaad nie verplig om te sluit nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging sal die meerderheid van die leerders teen die einde van Augustus reeds die helfte van hul skooljaar misgeloop het. Slegs sowat 20% van die leerders het egter toegang tot aanlyn leerhulp met slegs 10% van huishoudings wat toegang het tot internet.

Valentyn van der Merwe, hoof van innovering by die SOS, het vanoggend gedurende ’n virtuele mediakonferensie bevestig dat die SOS se Wolkskool nou tot die einde van die jaar vir alle leerders en skole gratis beskikbaar sal wees.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Reint Dykema)

Die Wolkskool verskaf videolesse van hoë gehalte, assesserings en ondersteunende lesmateriaal in vakke soos wiskunde, wetenskap en Afrikaans as huistaal. Meer as 119 000 leerders en 1 800 onderwysers baat tans by dié aanlyn platform.

Regstreekse wiskundeklasse sal vanaf 11 Augustus daagliks vir gr. 6, 8 en 9 op Wolkskool aangebied word, het die SOS bevestig.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, het verduidelik dat daar tans onsekerheid heers oor die kurrikulum en of leerders op peil is weens die deels verbroude skooljaar.

Aangesien daar nie meer nasionale assesserings is nie, is daar dus nie meer ’n vergelykbare standaard waarop skole kan terugval nie. Die SOS bied die afgelope paar jaar reeds gestandaardiseerde eksamens aan en brei nou dié aanbod uit te midde van die pandemie.

Volgens Vermeulen sal die SOS nou gestandaardiseerde eksamens in wiskunde en Afrikaans as huistaal vir gr. 4- tot gr. 11-leerders beskikbaar stel. Dié eksamens sal in November geskryf kan word en skole ’n aanduiding gee of hul leerders op peil is.

Die SOS sal ook aanlyn assessering wat wiskunde betref vir gr. 4- tot gr. 12-leerders op Wolkskool beskikbaar stel. Dié toetse kan twee weke voor die eksamen geskryf word. Leerders sal dadelik hul toetsuitslae terugkry wat as aanduiding sal dien oor watter leemtes voor die eksamen aandag moet geniet.

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout)

Die SOS sal ook ’n voorbereidende basislynassessering vir gr. 11-leerders beskikbaar stel, aangesien daar tans kommer oor dié leerders heers wat aan die einde van die jaar hul punte vir universiteitstoelating moet instuur.

“Hierdie vooraftoets kan tekortkominge in leerders se wiskunde- en taalvaardigheid uitwys en hulle geleentheid bied om leemtes tydig aan te pak voor die amptelike NBT-toelatingseksamen afgelê word.”

Daar word ook planne beraam om gr. 9-leerders in hierdie tyd by te staan, aangesien hulle vanjaar vakkeuses moet maak, sonder dat hulle weer by die skool was sedert die uitbreking van Covid-19 in Maart vanjaar. Vakkeusehulp word in samewerking met Akademia aan hierdie leerders gebied.

Vermeulen het ook aangeraai dat dié leerders die vakansietyd gebruik om na te lees oor beroepe en selfs skaduwerk te gaan doen.

Die SOS bied ook verskeie gratis webinare aan om onderwysers toe te rus met kennis en vaardighede wat die nuwe skoolomgewing van hulle vereis. Dit sluit in die eerste virtuele Afrikaanse SOS-kongres vir onderwysers in September.

Maroela Media het vroeër berig gr. 12-leerders en hul onderwysers keer reeds op 3 Augustus terug skool toe. Gr. 7-leerders en hul onderwysers keer op 10 Augustus terug skool toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.