SOS-matriekverslag: Dié skole presteer ondanks uitdagings

Ten spyte van die uitdagings van die Covid-19-pandemie, het Afrikaanse skole in 2020 meer onderskeidings as die jaar tevore behaal. (Grafiek: SOS)

Toppresterende Afrikaanse skole het oor die algemeen hul slaagsyfer ge­handhaaf tydens die 2020 matriekeksamen en in die meeste gevalle hul getal onder­skeidings verhoog, ten spyte van ʼn landwye verswakking in uitslae weens Covid-19.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Dinsdagoggend sy matriekverslag oor die pas afgelope matriekeksamen bekend gestel, nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, verlede maand aangekondig het 76,2% van leerders die eksamen geslaag het. Die SOS maak sy verslag jaarliks sedert 2015 bekend.

Die SOS sê slaagsyfers is ʼn nuttige barometer om die standaard van onderwys mee te bepaal, maar die belangrikste vraag is of die 2020-matrieks “toekomsgereed” is ná die nasionale senior sertifikaat-eksamen.

Die instelling waarsku ook dat standaarde nooit verlaag mag word ter wille van ’n hoër slaagsyfer nie. Die SOS sê ook moedertaalonderrig moet as grondwetlike reg – en ideaal – erken word en dat die uitslae van Afrikaanse skole dié standpunt bevestig. Die organisasie sê ook moedertaalonderrig moet daadwerklik in meer skole en gemeenskappe bevorder word.

Verlede jaar se daling van 5,1% teenoor 2019 is grootliks toegeskryf aan die enorme ontwrigting wat die Covid-19-pandemie aan die akademiese jaar veroorsaak het. Die SOS se verslag wys dan ook dat die aantal matrikulante wat toelating tot naskoolse opleiding gekry het, ook drasties afgeneem het.

Die SOS sê Afrikaanse skole het dieselfde neiging gevolg, hoewel toppresterende Afrikaanse skole oor die algemeen hul slaagsyfer ge­handhaaf en in die meerderheid gevalle hul getal onder­skeidings opgestoot het.

Nasionale toegang tot verdere studie

Die SOS sê sedert die toelatingsvereistes in 2018 verander is, het die persentasie kandidate wat toegang verkry tot B-graadstudies ingrypend gegroei.

“Ondanks hierdie verandering is die nasionale toelatings tot verdere studie verlede jaar minder as in die verlede. Van die 578 468 kandidate wat die eksamen geskryf het, het 440 537 (76%) toelating tot verdere studie gekry.

“In 2019 het 81% toelating tot verdere studie gekry. Die SOS is van mening dat te veel kandidate te maklik graadtoelating verkry, sonder om oor die nodige vaardighede en kennis te beskik om hul tersiêre studie suksesvol te voltooi.”

Slaagsyfer en toelating tot verdere studie

Die SOS sê net Gauteng, Limpopo en die Vrystaat het meer B-graadtoelatings as in die verlede, terwyl die persentasie toelatings in KwaZulu-Natal bestendig gebly het. Toelating tot studies vir hoër sertifikate (13,7%) en diplomas (26%) is die laagste in meer as ’n dekade.

Die persentasie vir toelating tot B-graadstudies is ook effens laer op 36,4%.

 

Só vaar Afrikaanse skole

Volgens die NSS-verslae het 72 605 Afrikaanse kandidate aan 693 skole verlede jaar gematrikuleer.

Die SOS sê hierdie getal is effens hoër as die 69 500 wat in 2019 aan Afrikaanse skole* gematrikuleer het.

Afrikaanse skole presteer steeds beter as die nasionale gemiddeld: 72 605 kandidate het ʼn slaagsyfer van 82% en ʼn groter persentasie Afrikaanse kandidate het ook vir verdere studie gekwalifiseer.

Daar was verlede jaar sewe minder Afrikaanse skole as in 2019 en die grootte van matriekklasse dui daarop dat Afrikaanse skole aansienlik groter is as by an­der skole.

Volgens die SOS het Afrikaanse skole ʼn gemiddeld van 105 kandidate per skool, teenoor die nasionale gemiddeld van 45 kandidate per skool.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê op die lys van 20 skole met die meeste onderskeidings in alle vakke, is daar 12 Afrikaanse skole. Dit beteken 60% van toppresterende skole is Afrikaanse skole.

Afrikaanse skole met meeste onderskeidings:

 

Vermeulen sê ten spyte van die uitdaging van die Covid-19-pandemie het Afrikaanse skole verlede jaar meer onderskeidings as die jaar tevore behaal.

“Dit is ʼn baie sterk aanduiding van hoe matrieks en onderwysers by Afrikaanse skole gewerk het. Een van die sogenaamde voordele van Covid-19 was dat daar duidelik ʼn meer akademiese fokus was weens ʼn gebrek aan sport- en kultuuraktiwiteite.”

Die vier top- Afrikaanse skole met die meeste onderskeidings per kandidaat is almal meisieskole.

Afrikaanse skole met meeste onderskeidings per kandidaat:

 

* In hierdie verband word Afrikaanse skole beskou as alle skole wat Afrikaans Huistaal as skoolvak aanbied. Dit sluit dus alle Afrikaans- enkelmedium-, -parallelmedium- en -dubbelmediumskole in, asook Engelse skole wat Afrikaans Huistaal aanbied.

GRAFIKA: Skoleondersteuningsentrum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Welgedaan aan die Afrikaanse onderwysers, skoliere en ouers wat ondersteuning verleen het. Ons kan dit doen.

B-Man ·

Laaste figuur wys maar net weer dat meisies oor die algemeen harder werk as die manne. Was self maar lekker lui om te leer in matriek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.