SOS: SA steeds te ver onder minimum standaard

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die standaard van Suid-Afrika se wiskunde- en wetenskapkurrikulum is steeds ver onder die minimum basislynvereistes, teenoor die res van die wêreld.

Só het die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) vasgestel nadat die uitslae van die jongste Trends in International Mathematics and Science Study, oftewel TIMSS, Dinsdagoggend tydens ʼn nuuskonferensie deur die departement van basiese onderwys bekendgemaak is.

Die studie word vierjaarliks gedoen en het ten doel om lande te help om hul onderrig van wiskunde en wetenskap te verbeter. Singapoer, tesame met die vier ander Oos-Asiatiese lande, het weereens die ander deelnemende TIMSS-lande ver oortref.

Uitslae wys dat daar oor die afgelope 25 jaar wel ʼn skrale verbetering by Suid-Afrikaanse leerders is, met vier uit tien leerders wat in 2019 bewys het dat hulle die basiese wiskunde- en  wetenskapvaardighede bemeester het, teenoor een uit tien in 2003.

In die wiskunde- én wetenskapafdelings vir onderskeidelik graad 4 en 8 beklee Suid-Afrika een van die laaste drie posisies uit 64 deelnemende lande.

Volgens onderwyskenner dr. Mary Metcalfe is dit wel moontlik om verder en vinniger in hierdie vakgebiede te verbeter. Geloof in eie vaardighede speel volgens haar ook ʼn baie groot rol in die uitslae van leerders.

Sy sê die fokus moet egter verder verskuif word na provinsies en gebiede wat aansienlik finansiële hulp benodig en ʼn tekort aan noodsaaklike hulpbronne soos handboeke het.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS, stem saam met Metcalfe se opmerking dat die oorvol kurrikulum ook aangeraak moet word.

“Hoewel daar ʼn verbetering in die TIMSS-syfers is, val Suid-Afrika steeds ver onder die minimum basislynvereistes, met slegs 41% van leerders in graad 9 wat hieraan voldoen,” sê Buys.

Hildegard Brummer, Wolkskooldosent by die SOS, sê leerders sukkel om vrae wat baie inligting bevat, te beantwoord en kan nie hul gedagtes logies, in wiskundige taal, uitdruk nie.

“Die Suid-Afrikaanse kurrikulum is ook nie voldoende om TIMSS se minimum standaard suksesvol te bereik nie. Daar is vrae in die studie wat nie deel vorm van die kurrikulum nie. Dit is ook kommerwekkend dat die studie byna aan die einde van leerders se graad 5- en 9-jaar gedoen word, teenoor ander lande wat dit reeds in graad 4 en 8 doen. Leerders is dus aan die einde van ʼn volgende graad steeds nie op die vereiste vlak nie,” sê Brummer.

Die verslag het verder aangedui dat Suid-Afrikaanse onderwysers meestal baie goed gekwalifiseer is, met merkbare uitdagings wat selfs die bes gekwalifiseerde onderwysers nie alleen te bowe kan kom nie. Een sodanige uitdaging is dié van moedertaalonderrig.

Uit vorige verslae is dit reeds duidelik dat leerders wat in hul moedertaal onderrig ontvang baie beter presteer as leerders wat in hul tweede of selfs derde taal skoolgaan.

Die SOS gaan ʼn volledige ontleding van die uitslae doen en sal dit vroeg in 2021 bekendstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jaco ·

Natuurlik sal die syfers nie goed wees nie,want die tender syfers is so goed.????

JM ·

Sê liewer niks, maar kan dink wat ek wil. Net jammer dat almal nou oor dieselfde kam geskeer word.

Mariana ·

As mens kyk na die lae standaard van skole om SA, is ons myle agter res van wêreld. Slaagvereistes is pateties en elke dag bedink die “minister” nog idees om die standaard verder te verlaag sodat almal kan slaag. Skole stelsel skiet ver tekort en doen leerders geen guns nie.

Stefan ·

Wat een verrassing, wie kon dit nou gedink het.
As dit sarkasties klink, ja sorry.

Misky ·

SA se onderwys verlaag net standaarde sodat hulle nie hoef te erken dat hulle eintlik onbevoeg is om die werk te doen nie. Resultaat van die 30% slaagsyfer

Ou bees ·

Ja en waar begin dit? Kinders kan nie met begrip lees nie kan nie spel nie. Al is die dlaagsyfer 30 % moet die onderwysers die punte aanpas sodat die kinders net na die volgende graad toe kan aan skyf. So dis geen verrassing nie. Die vondamente wat van jongs af reg gele moet word is nie daar nie so die huis kan nie stewing staan nie.

Willem ·

Met ń slaagsyter van 30% en dan kry jy nog 22 en 23 jariges in matriek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.