SOS vies oor ‘ongeorganiseerde’ entstofprogram

(Foto: Michele Spatari/AFP)

Talle Gautengse onderwysers is vandeesweek glo weggewys by entstofsentrums in die provinsie.

Die departement van basiese onderwys is tans besig met ʼn massa-inentingsprogram vir onderwysers en ander werkers in dié sektor. Onderwysers het ingevolge dié program aangemeld om ingeënt te word.

ʼn Skoolhoof van Pretoria het Maandag gesê hoewel hy geen skriftelike kennisgewing ontvang het nie, het ʼn amptenaar van die departement se distrikskantoor laat weet dat die afspraak vir onderwysers by die skool herskeduleer moet word.

Daar is geen spesifieke rede gegee nie.

Maroela Media het ook ʼn brief onder oë gehad wat aan skole in Tshwane-Wes gestuur is, wat dele van die noorde en weste van die stad bedien, waarin gesê word dat sentrums weens ʼn tekort aan entstof tot verdere kennisgewing gesluit word.

Volgens dié brief sal skole ingelig word oor wanneer hulle weer afsprake kan maak.

ʼn Onderwyseres by ʼn private skool wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, het gesê sy is gister, kort voordat sy die entstof sou ontvang, ingelig dat sy dit nie meer kan kry nie. Die rede daarvoor was ook nie heeltemal duidelik nie.

Die onderwyseres sê van haar kollegas is kort tevore by dieselfde sentrum weggewys.

Sy is daarna na ʼn apteek waar sy self vasgestel het dat sy wél op die stelsel geregistreer is om die entstof te ontvang en daarvoor kwalifiseer.

“Ek was briesend. Dit is fantasties dat onderwysers ingeënt word, maar nou kry private skole oënskynlik nie inentings nie.

“Daar is bespiegeling dat die entstof opgeraak het en dit nou eers vir departementele skole gegee word,” sê sy.

‘n Uittreksel uit ‘n brief wat aan sommige skole in die provinsie gestuur is.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het hom ten sterkste uitgespreek teen die “ongeorganiseerdheid rondom die inentingsveldtog”.

Die SOS sê skole word deur die departement aangemoedig om by die skedule vir inentings te hou, maar verskeie onderwysers is by hul aankoms by inentingsentrums weggewys omdat geen entstowwe beskikbaar is nie.

Private skole en personeel wat nie oor sogenaamde Persal-nommers beskik nie, is ook na bewering die afgelope week weggewys.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Maandag gesê die inentingsprogram verloop glad en die meeste onderwysers sal na verwagting binne die beoogde tydperk ingeënt word.

Motshekga het ook gesê die departement het die departement van gesondheid gevra om te verseker daar is genoeg entstof sodat die program nie stilstaan nie.

“Ons het ʼn klomp klagtes ontvang oor die wankommunikasie wat tans heers tussen die departement en skole. Sommige skole sluit vir die dag waartydens hulle onderwysers ingeënt word en ander skole is deur die departement verbied om te sluit – dit plaas verder druk op skole, leerders en onderwysers,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS.

“Skole doen baie moeite en gee noodsaaklike skooldae prys net om by die hek weggewys te word. Dit is onaanvaarbaar.”

Buys sê dit sal verblydend wees as die departement by sy beloftes hou, veral omdat die druk op onderwysers en leerders net groter raak om agterstande in te haal.

“Dit is moontlik vir duisende leerders te laat.”

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het by navraag gesê Gauteng het genoeg entstof om die proses te bestuur.

“Opvoeders moet altyd met hul skoolhoofde en die distrik skakel indien hulle inligting benodig.”

Skole sluit Woensdag vir alle leerders en Mabona sê Donderdag en Vrydag sal gebruik word om die inentingsproses te probeer afhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Ek wil net graag weet hoe maak dit sin om personeel in departementele poste te ent maar dié in beheerliggaamposte word weggewys? In sommige distrikte is daar wel beheerliggaamaanstellings ingespuit.

Tanniepetoors ·

Die hele inentingsproses is chaoties. Ek woon in die Noord-Ooste van Pretoria en moes na Virgin Active in Broad Acres, Fourways gaan vir my inenting, Met ander woorde, amper Lanserialughawe toe en terug om geent te word, so 160 km+. Dit was nou vir die eerste inenting. My Ma het altyd gesê: Here, sit ‘n wag voor my mond.

Mieke ·

SA burgers word liederlik in die steek gelaat…. Daar is geen sin van verantwoordelikheid, inisiatief of dringendheid omtrent die saak nie…..!!!

Dirk Mostert ·

Hou op om die entstof in onwillige kele af te druk (soos oumense), dan sal meer dosisse beskikbaar wees vir die wat dit wil kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.