Skole: Sosiale afstand dalk gehalveer

Ingevolge regulasies wat in die Staatskoerant aangekondig is, word die sosiale afstand tussen leerders in laerskole tot een meter verminder. (Foto: Maroela Media)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gaan die kabinet en nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) vra dat die sosiale afstand tussen leerders by skole verminder word om te verseker alle kinders kan gelyktydig in klasse geakkommodeer word.

Motshekga het Dinsdagoggend die Monde Primary School in Ekurhuleni besoek nadat skole Maandag weer teen volle kapasiteit hul deure vir leerders heropen het.

Sy het tydens die besoek gesê die departement het ʼn aanbeveling ontvang dat die sosiale afstand tussen veral jonger kinders gehalveer kan word.

“Dit is ʼn vooruitsig waarvoor ek nog toestemming by die kabinet en die nasionale koronavirusbevelsraad moet kry. Maar die aanbeveling wat ons van die mediese advieskomitee gekry het, is dat dit moontlik is,” het Motshekga gesê.

Ingevolge regulasies wat in die Staatskoerant aangekondig is, word die sosiale afstand tussen leerders in laerskole tot een meter verminder. As die minister haar sin kry, kan dit dus tot ʼn halwe meter verklein word.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die vakbond Naptosa, sê die departement probeer die probleme met veral oorbevolking omseil, eerder as om dit daadwerklik op te los. Hy sê die nuwe bepalings is maar Vrydag aangekondig en dat die departement net enkele dae later klaarblyklik met ʼn nuwe plan vorendag kom.

Manuel sê die handhawing van 1 m tussen leerders is in talle gevalle haas onmoontlik. “Hulle het nie mooi hieroor gedink nie. Dit lyk of die minister óf verkeerd ingelig is oor die ware stand van oorbevolking óf bloot nie weet hoe erg dit is nie – wat selfs erger sou wees.”

Hy sê dit was uit die staanspoor duidelik dat ʼn afstand van 1 m tussen leerders, teen volle kapasiteit, nie haalbaar sou wees nie. Vir ʼn klas met byvoorbeeld 40 leerders, word ʼn klaskamer van sowat 60 m² benodig.

“Dit lyk of die departement die werklikheid ignoreer. Hy moet aanvaar Covid bestaan en dit is hier. Daar gaan ontwrigtings wees.

“Dit lyk egter nie of daar na oplossings gekyk word nie, maar eerder of die probleem van gesondheid en veiligheid omseil kan word.”

Manuel sê skerms kan byvoorbeeld tussen lessenaars aangebring word om beter beskerming in propvol klaskamers te bied. Die eintlike oplossing is bykomende klaskamers, maar dit is iets wat nie oornag gaan gebeur nie, sê hy.

“Die probleme word nie gepak nie: ʼn Gebrek aan water, geen sanitasiegeriewe nie, swak geboude skole en oorvol klaskamers. Die probleme was nog altyd met ons, maar die Covid-19-pandemie het daardie sweer laat oopbars.”

Manuel sê daar is die afgelope 18 maande gewerk om onderwysers en leerders op te voed om ʼn sosiale afstand te handhaaf – en dat hulle nou skielik hoor dit is nie meer nodig nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die vakbond het talle navrae oor die 1 m-reël ontvang en stem saam dat dit in talle skole onmoontlik is om te handhaaf.

“Hoewel die moontlikheid bestaan om aansoek om vrystelling te doen, weier die provinsiale departemente om goedkeuring te verleen. As die amptenary versoek word om op skrif aan te dui dat 1 m nie nodig is nie, word dit duidelik gestel dat die besluit is dat almal terugkeer en dat daar nie van wegbeweeg sal word nie,” sê Klopper.

Klopper sê skole wie se aansoeke om weg te doen met die handhawing van die 1 m-reël afgekeur word, moet vra dat die distrikskantoor die weiering op skrif stel en dit duidelik maak dat ʼn 1 m-afstand nie nodig is nie.

Hy sê die departement het oënskynlik besluit dat “kurrikulumdekking belangriker as veiligheid is”.

Naptosa sê ook die vraag moet gevra word of besluite oor sosiale afstandhandhawing by skole deur wetenskap of politiek gedryf word.

“Ons wil hê kinders moet terugkeer skool toe, maar nie teen alle koste nie.”

Ook Klopper sê groot gewag word gemaak van die feit dat laerskoolleerders nie siek word in tye wat die skole oop is nie.

“Ons eie bevindings is dat daar ʼn merkbare toename in infeksies is as skole oop is. Met die realiteit dat dit onmoontlik is om 1 m te handhaaf, verwag ons ʼn toename in infeksies onder opvoeders. Dit is ʼn gegewe dat die inentings nie infeksies voorkom nie, maar dat mense slegs minder ernstig siek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Klug. Inperkingsmaatreëls deur IMF ingestel en deur die regering implementeerbaar gemaak indien hulle Covid hulpfondse van die IMF ontvang. Eksperiment wys die kudde mentaliteit (nie immuniteit) van die mensdom wat nog baie probleme vir ons in die toekoms gaan inhou. Kritiese denke ontbreek.

Jack Russ1 ·

Help my net verstaan hoe die werk. Die regering kry nou hulpfondse, maar verloor belasting geld. Hoe gaan die IMF meer of gelyk aan die verlore belasting gelde gee vir al die lande wat inperkings gehad het. Waar kom al daardie gelde dan vandaan?

Dirk Mostert ·

Die geld word geskep uit niks, net elektroniese inskrywings. Dis wat die (S-woord/ I-woord/B-woord) agter die IMF en ander globale finansiele instellings al vir eeue doen.

Anoniem ·

Belaglik. Laat die kindertjies maar weer in 2 gedeel word en roteer wat skool aanbetref. In die skole mag hul nie langs mekaar sit nie, maar in die strate kan hul maar speel, soveel soos hul wil en geen sosiale afstand is nodig nie. As die regering net lankal wakker geskrik het, sou daar nie soveel skole vernietig en gebrand gewees het nie, en sou daar dalk genoeg beskikbaar gewees het vir die probleem.

Dirk Mostert ·

In hul woonbuurte speel die kinders soos altyd en daar is geen sprake van spasiering nie. Die ontwrigting van skole deur die “pandemie” was en is onnodig. Noudat meeste onderwysers geent is, is daar geen verskoning vir die vakunie om langer teen die normalisering van skole te protesteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.