Sosiale media gons oor R1,3 miljoen se drankrekening

Die steierende drankrekening van meer as R1,3 miljoen. (Foto: Twitter)

Menige Suid-Afrikaner is geneig om ná ’n naweek van gesellige verkeer saam met vriende dit aan sy bankbalans te voel. Dit is egter selde dat ’n rekening by ’n restaurant meer as R1,3 miljoen beloop nadat onder meer 100 bottels sjampanje teen R10 000 stuk bestel is.

’n Foto van dié steierende drankrekening by ’n Pretoriase restaurant word wyd op sosiale media versprei ná ’n baldadige verjaarsdagpartytjie Saterdagaand by 012 lifestyle Brooklyn in Brooklyn Mall, Pretoria, gehou is.

“Dít in Januarie,” spot een Twitter-gebruiker.

Slegs R1 450 van die R1 374 945 is aan kos en koeldrank bestee. Die res is op alkohol, waaronder duur sjampanje en whiskey, uitgegee.

Dit blyk uit video’s op sosiale media dat die sjampanje nie net gedrink is nie, maar ook oor partytjiegangers se koppe uitgespuit is.

Dit het as’t ware Ace of Spades en Dom Perignon in die restaurant, wat later in ’n klub ontaard het, gereën.

Altesame 100 bottels Ace of Spades Rosé is teen R10 000 stuk bestel. Dié bestelling alleen het R1 miljoen beloop terwyl 50 bottels Veuve Clicquot Rich teen R2 000 per bottel tot die rekening gevoeg is.

Altesame 20 bottels Dom Perignon Luminous is teen R6 000 stuk bestel terwyl drie bottels Glenfiddich-whiskey (23 jaar) teen R9 500 per bottel aangevra is.

Die kelners het ná die partytjie waarskynlik van oor tot oor geglimlag nadat die fooitjie van 10% ’n steierende R124 995 beloop het.

Luidens inligting op sosiale media is die omstrede rekening deur ’n Zimbabwiese pastoor bekend as profeet Passion Java, uitvoerende hoof van die Kingdom Embassy Church, betaal tydens vriende van hom se verjaarsdagvieringe.

Java het intussen foto’s van die rekening op sy Instagram-rekening – met meer as 502 000 volgelinge – se stories gedeel. Dit is op die rekening duidelik dat Java ’n lewe van weelde leef.

Die bestuurder van 012 lifestyle Brooklyn kon nie Dinsdag vir kommentaar bereik word nie. Die restaurant het wel die egtheid van die rekening aan The South African bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

45 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elise Georgina Irene

Absoluut skandalig!!!!

Kokerboom

‘n Sekere segment van “our people” kry waaragtig NIE swaar!Tenderpreneurs?
Geregistreer vir belasting???

Anel

Maar die is die agtergeblewenes!!! Wat ‘n skande!!!

Truthful

.n pastoor??

Bokkiebek

Dis om van NAAAAR te word, en so sterf 1000+ kinders van hongersnood…en hulle (‘n pastoor nogals) SUIP soveel geld uit!!