Sosiale media help red olike sebrahings

Dr. Wim Slabber ondersoek die sebra. (Foto: Shelley Howard)

ʼn Op en wakker sosialemediagebruiker wat gesien het ʼn sebra lê waarskynlik onnatuurlik lank op sy sy, het blitsig opgetree om mediese behandeling vir die siek dier te help kry.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het Vrydag foto’s van haar gesin se piekniek by die Bergview-kompleks naby Harrismith op Facebook gedeel. Op een van die foto’s was ʼn sebra wat ʼn ruk lank gelê het.

Shelley Howard, ʼn inwoner van Harrismith, het die foto’s gesien en onraad vermoed.

“Ek het gesien die sebra lê op sy sy en het gedink dis ongewoon. Sebras en perde staan gewoonlik en rus en lê selde, veral nie vir lang tye nie,” het Howard gesê.

Howard gaan stap graag met haar honde by die sentrum en het hulle blitsig bymekaar gekry vir ʼn ter plaatse ondersoek. Sy woon net ʼn paar minute van die kompleks.

“Toe ek daar aankom, het ek gesien die sebra lê nog steeds. Ek het geweet iets is nie reg nie.”

Howard het die sentrumbestuur ontbied en het onmiddellik vir dr. Wim Slabber, ʼn veearts van die Harrismith-dierehospitaal, gevra om te kom help.

“Ek het nog nooit ʼn veearts ontmoet wat meer toegewyd en geesdriftig daaroor is om diere te help nie. Hy stap altyd die ekstra myl vir diere in nood,” het Howard gesê.

Slabber was naby Qwaqwa besig om te werk, maar het so gou moontlik kom help.

Hy het gesien die sebra lê eenkant en wil nie opstaan nie. Hy was ook mank in een van sy agterbene.

Slabber het die dier verdoof en behoorlik ondersoek. “Hy en die ander sebra kon moontlik baklei het. Iemand het hom dalk ook iets gevoer wat koliek veroorsaak het,” het Slabber gesê.

Koliek is ʼn algemene verskynsel by veral perde, maar is ʼn breë term wat vir buikpyn gebruik word.

“Omdat die maag dan seer is, gaan lê die diere,” het Slabber gesê.

Hy het ook die sebra met pyn- en anti-inflammatoriese middels behandel en daarna is die sebra weer wakker gemaak.

Jurie Maritz, bestuurder van die Bergview-kompleks, het gesê hulle is dankbaar dat die sebra se toestand so gou onder hulle aandag gebring is.

Lombaard se plasing op Facebook.

Die dier is vanoggend amper weer perdfris, het hy gesê.

“Ons monitor die diere elke dag en hulle word goed versorg. Toe ons hoor die sebra is siek, het ons dadelik opgetree.”

Maritz het gesê weens die talle besoekers wat by die kompleks stilhou, is dit ʼn opdraande stryd om te verseker die diere word niks vreemds gevoer nie.

“Almal het ʼn rol gespeel. Soms moet ʼn mens vir ʼn rede êrens wees. Die Hemelse Vader plaas jou daar vir ʼn rede. Dit was wonderlik,” het Howard gesê.

Lombaard sê haar gesin is in hul noppies met die uitkoms van haar plasing op sosiale media.

“My kinders het nogal opgemerk dat dit vir hulle vreemd is dat die sebra so lê, maar ons was seker dis niks ernstigs nie.

“ʼn Uur of twee later kry ek toe ʼn oproep van Corné van Noordwyk, ʼn omroeper van die gemeenskapsradiostasie Maluti FM wat vanuit Bethlehem uitsaai. Hy lig my toe in dat een van hul luisteraars, einste Shelley wat ek van geen kant ken nie, my plasing gesien het en blitsig opgetree het om die sebra se lewe te red. Ek kon skaars glo toe hy vir my die video’s stuur en ons bewus raak van die reddingsoperasie wat gevolg het op my plasing.

“Ons is as ʼn gesin dankbaar teenoor Shelley, die sentrumbestuur en dr. Slabber vir hul flink optrede en goeie harte. Wat ʼn lekker begin vir ʼn vakansie!”

(Foto’s: Shelley Howard)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Toffie ·

Ag is dit nie die lekkerste gevoel as jy ‘n dier kan help nie?. Well done!!.

Poppie ·

Well done. Sommer trane in my oë. Hoe moet hulle nou kan sê as hul siek is. Eerste simptome van siekte by n dier is om te lê. Dit is mos hul hulpkreet.

Catherine ·

.n brekkie goedvoel nuus vir n verandering. Dankie aan almal betrokke

SjN ·

Dankie dr Wim, jy is n ster, hoop jy word goed ondersteun tov jou puik diens.

Bosnimf ·

Jissiiiiimmm…dis so awesome!! Dankie Dr Wim en Shelly dat daar steeds in hierdie stukkende wereld nog iemand soos julle bestaan! Dankie dat julle moontlik sy lewe kon red!!

Karolis ·

Wonderlike brokkie goeie nuus.
Alle eer aan die Dr. Wim en helpers asook Shelley en Susan.

Helene ·

‘n Stukkie goedvoel nuus! Baie dankie aan almal betrokke om die pragdier weer op die been te kry!!

Lynette ·

Ek wil graag vir Dr. Wim en sy span n lansie breek. Ek is nooit bekommerd wanneer my diere na hul praktyk toe gaan nie want ek Weet my diere gaan die beste behandeling moontlik kry. Dankie Dr Wim vir jou sorgsaamheid.

Adam ·

Wonderlike nuus, maar dink net wat se lekker plek ons land sal wees as ons met sulke sorgsaamheid en entoesiasme teenoor ander mense optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.