Sosiale media, reputasie en die impak op ondernemings se inkomste

sosiale-media-facebook-twitter-instragram

Foto: LoboStudioHamburg/Pixabay.com

Boikotte wat op sosiale media gedryf word kan beslis ʼn negatiewe impak op ʼn onderneming se winsgewendheid hê, maar kenners is verdeeld oor presies hoe blywend die impak vir ʼn maatskappy sal wees.

Daar is hierdie week wyd berig dat sekere konsessiehouers van die Spur-restaurantgroep ʼn beduidende afname in hul maandelikse inkomste gesien het ná ʼn “Boikot Spur”-groep op Facebook begin is. Die groep het Afrikaners aangemoedig om weg te bly van die restaurantgroep en die groep se hoofbestuur gekap oor die manier waarop hulle ʼn woedende woordewisseling tussen twee ouers van verskillende rasse hanteer het.

“Sosiale media gaan beslis oor verhoudings bou, daarom kan dit net soveel van ʼn positiewe as negatiewe impak vir ʼn onderneming hê. Die goue reël bly geld: al doen jy ʼn duisend dinge reg, een negatiewe voorval kan jou reputasie ongelukkig heeltemal beskadig,” het die sosiale media-kenner, Lesley-Anne Mallon, gesê. Sy is die eienaar van Think Social Media en het verskeie jare se bemarkingsondervinding.

“Dit gaan tyd en harde werk neem om daardie reputasie te herstel. Mense gaan ongelukkig nog oor ʼn jaar of twee terugverwys na die hele Spur-voorval, net soos in die geval van die Ford Kugas wat vlamgevat het,” het Mallon gesê.

“Sosiale media het dit beslis makliker as ooit vir verbruikers gemaak om te kla en dit is ʼn daaglikse uitdaging vir handelsmerkbestuurders om hul kliëntedienskanale so te bestuur dat klagtes op die regte wyse hanteer word. As ʼn mens egter na vorige oproepe op sosiale media kyk wat ʼn handelsmerk wou boikot, het dit selde ʼn beduidende langtermyn-impak op ondernemings se winste gehad,” het Jacqui Mackway-Wilson, ʼn digitale bemarkingskonsultant van Go Social SA, gesê.

Sy het verwys na die polities-gemotiveerde veldtog teen Woolworths wat klante gevra het om die winkelgroep te boikot omdat hulle Israeliese produkte invoer. Volgens ʼn berig deur Chris Moerdyk op The Media Online is daar verskeie Facebook-inskrywings gedoen, getwiet en berig hieroor, maar die groep se winsmarge het nie noemenswaardig gedaal nie.

“Meer onlangs is 4 556 van Ford SA se Kuga-sportnutsvoertuie herroep nadat 45 van die voertuie se enjins vlamgevat het. Dit het die handelsmerk onder geweldige druk geplaas en verkope in Januarie het met 50% gedaal. Opnames onder verbruikers het ook getoon dat Suid-Afrikaners nou versigtig is om ʼn Ford te koop, maar dit het hulle nie heeltemal afgeskrik nie. Ford is in Januarie vanjaar ook aangewys as een van die top-vyf beste passasiersmotorverkopers in Suid-Afrika.

“Dit mag wees dat verbruikers veel meer uitgesproke op sosiale media is oor hul griewe met sekere handelsmerke – en soms heeltemal geregverdig – maar die realiteit is dat daar talle ander faktore is wat hul besluite rondom aankope beïnvloed en dit speel dikwels ʼn groter rol wanneer dit by verbruikers se aankope kom.”

Mackway-Wilson meen as ʼn verbruiker of klant steeds voel hulle kry waarde vir geld en ’n mededingende prys vir ʼn produk of diens, sal ʼn boikotveldtog nie maklik slaag nie. Sy meen die meeste verbruikers is ook ’n bietjie apaties as dit by ʼn boikotveldtog kom, wat die sukses van so ʼn veldtog op die langtermyn kan beïnvloed.

Mallon en Mackway-Wilson is dit eens dat ’n goeie krisisbestuurplan beslis ʼn handelsmerk kan help om weer hul plek in die Suid-Afrikaanse mark te herwin.

Mackway-Wilson meen in die geval van Ford SA het die uiteindelike herroeping en uitgebreide dekkingsaanbod vir Kuga-eienaars die motormaatskappy se reputasie tot ʼn mate herstel.

“Ek dink egter die feit dat Ford SA nie hul bemarkingstrategie aangepas het nie, en net bly adverteer het asof niks gebeur het nie, het hul reputasie tog wel skade berokken. Spur blyk ʼn krisiskommunikasieplan te volg wat deurslaggewend kan wees. Hul bestuur is oop met hul kommunikasie en toeganklik vir die media – dit is beslis ʼn voordeel. Die opslae rondom die hele Spur-voorval sal later afneem, maar dit beteken nie ʼn voorval soos dié kan ʼn maatskappy nie seermaak nie,” het Mallon bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

Ry die outeur na dese met ‘n Fordjie van Mackway en eet gratis by die Spur?

Eish ·

Woolworths het nie geslaag nie omdat dit op ‘n leuen gebaseer is en te veel na Isis geruik het in ‘n land wat aanspraak maak daarop dat die meerderheid van die bevolking Christene is. Enige aap weet dat die Palestyne Israelse grondgebied beset wat in die Bybel bekend gestaan het as Juda en Samaria. Jy gaan nie leuens dryf met sukses op sosiale media nie. Onthou die lesse van Dawid en Goliat, mense kies Dawid altyd as Goliat hul boelie. Dit gaan n helse skoonmaakproses verg by Spur. Van bo tot onder overhaul. Dawid het bloed geruik, en Goliat se kop moet af.

Vryheid ·

Sosiale media is n wonderlike wapen. Woolworths, Spur en Ford het seer gekry want hulle was oneerlik en het nie met die waarheid uitgekom toe die moeilikheid begin het nie. Al raad is hanteer klagtes met begrip en integriteit, wees openlik . Geld honger is die wortel van hul skade.

Versitig ·

Spur moet dieper delf as die sg. rassevoorval en die sg boikot deur regse Afrikaners. Mense eet uit omdat hulle wil, waar hulle veilig voel en die kelners vertrou. Die saak oor “body fluids” oor kos is veel erger en ek is oortuig dat soortgelyke insidente daagliks oral gebeur-ons weet dit net nie. Tuiskos is gesonder en lekker.

Veilig ·

Stem saam. Baie lekkerder en gesonder om kos self voorteberei.

Chris Ws ·

Ons is amper 3 dekades kliente van Spur gewees.Ons en al ons familie is klaar met Spur ongeag watse bemarkings foefies hulle mee vorendag gaan kom.Dis VERBY.
Oor Ford kan ek net dit se: het my laaste een, ‘n 3 liter XLE 30 jaar terug gery.Was ‘n puik voertuig daardie tyd maar Ford kompeteer net nie met Korianse en Japanese produkte nie.Woolies vermy ons heeltemal.

Gert ·

Spur nooit ooit weer nie. En dit gaan nie eers oor die voorval tussen die twee mense nie dis meer ‘n bekommernis oor wat met my kos in die kombuis gebeur…

Leendert ·

As besighede kliente verloor het omdat, veral, indien daar ‘n vertrouensbreuk was sal hulle baie, indien nie meeste, van daardie kleinte, nooit weer sien nie, hulle sal ook nooit weer daardie mense kan vervang nie. In die Spur se geval sal dit ‘n nog baie groter impak hê, want hulle het die vertroue van ‘n spesifieke rasgroep verloor en in spesifieke gebiede, waarvan hulle nooit mag hestel nie.

Self waar ‘n besigheid bv agv ‘n brand nie sy bedrywighede kan voortsit nie, en sy kleinte dan tydelik op ander besighede se dienste afhanklik is, sal hy nooit weer al sy vorige kliente kan terug wen nie, van hulle het dan of groener weivelde gaan soek of is tevrede met die nuwe diensverskaffer.

Scalla ·

As jy jouself vir n toffie uitgee, gaan jy gelek word, dit gebeur as dinge te groot raak.

Anti-Netflorist ·

Ek wens ek kan ‘n boikot vir Netflorist kry. Ek het in my lewe nog nie sulke horrible besigheid gesien nie. Even hul facebook blad en google reviews lyk vrot.

Waarheen gaan ons land? Mense het nie meer passie vir hul werk nie

Anti Spur ·

Ek steun ook die boikot teen Spur. Ons het n soortgelyke geval gehad met tienerseuns (ongelukkig swart) op die trampoline gespring het en ons kind plat geskop het. Die tieners was saam hul ouma en kort voor lank na ons gekla het het die ouma haar familie gebel. Ons het so vinnig soos blits verdwyn want almal weet wat sou gebeur en ons het net met die kinder oppasser gepraat en sy met die bestuurder oor die tieners op die trampoline. Daar is n duidelike bord wat se kinders langer as 1.5m (of 1.2m), ek kan nie mooi onthou nie mag nie daar speel nie. Na ons gekla het en die Ouma op die foon was en na ons kan beduie en gevloek het, het die seuns weer gaan speel en die eienaar het net niks gedoen nie. Ek gee nie om of die Spur deur blankes besit word nie,Spur “was gewees” en ons en ons kinders en hul vriende het besluit, niks Spur vir ons meer nie en “sorry” kan nie help nie. Ek sal ook nie dood in n Ford Kuga ry nie en is nie gepla oor Woolworths nie, ek koop nie by Woolworths nie. Soja, boikot op social media, gegrond op bewyse sal ek aanspoor en ondersteun.

Nie regses boikot spur ook ·

Dit is beslis nie net sogenaamde verregses wat spur boikot nie, enigiemand wat die onregverdigheid raaksien het dit geboikot. Spur het alle witmense geskop wat reeds deur regering en politieke partye geskop word, en dit was die probleem. Dit is ernstige probleem want dit kan tot volksmoord lei, en dis mos nie lig nie, soveelso dat ek n gelofte gemaak het dat ek die sput nooit weer sal ondersteun nie. Dit was ook nie tedanke aan die gemelde sosiale media groep nie, ons het spur geboikot bloot nadat ons die storie op gewone hoofstroom media gesien het.

Beesblaas ·

Het eergister my bakkiesblad (facebook) delete. Mis dit glad nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.