Sou die mosie van wantroue geslaagd wees…

‘n Optog teen pres. Jacob Zuma in Pretoria (7 April 2017). Foto: Maroela Media

Wat moet Dinsdagmiddag gebeur om te verseker dat die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma geslaagd is, en hoe sal sake daarna verloop? Maroela Media het met ʼn kenner van die grondwetlike reg en ʼn politieke ontleder gesels om uit te vind wat moet gebeur:

Wanneer begin die mosie van wantroue?

Die debat rondom die jongste mosie van wantroue teen Zuma behoort omstreeks 14:00 op Dinsdag 8 Augustus by die parlement in Kaapstad te begin, waarna lede van die nasionale vergadering (NV) hulle stemme vir of teen die mosie in die geheim sal uitbring.

Hoeveel stemme word benodig vir die mosie om geslaagd te wees?

Volgens prof. Pierre de Vos, voorsitter van die Claude Leon-stigting vir grondwetlike reg, en prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, moet ʼn volstrekte meerderheid van NV-lede die mosie steun. Daar is tans 400 lede in die NV, wat beteken 200 lede plus een moet vir die mosie stem.

Die ANC het tans 249 LP’s en die opposisiepartye het 151 LP’s in die nasionale vergadering. Vir die mosie om geslaagd te wees, moet 50 ANC-LP’s die mosie dus ondersteun.

ʼn Verdere 37 LP’s van ander opposisiepartye buiten die DA en EFF moet saam met dié twee opposisiepartye se LP’s die mosie van wantroue ondersteun vir dit om geslaagd te wees.

“Hou ook in gedagte dat nie alle opposisiepartye die mosie van wantroue teen Zuma ondersteun nie. Zanele kaMagwaza-Msibi, die leier van die Nasionale Vryheidsparty, het byvoorbeeld reeds aangedui sy sal nie die mosie van wantroue teen Zuma ondersteun nie. Haar party het ses LP’s in die NV,” het Duvenhage bygevoeg.

Wat is die implikasie van ’n ‘wegbly’-stem?

De Vos verduidelik ʼn “wegbly”-stem of ʼn stem vir onthouding beteken inderwaarheid dat die LP ʼn stem teen die mosie van wantroue uitgebring het.

“Dit gaan in hierdie geval daaroor dat die totale getal van 201 stemme benodig word wat ja stem vir die mosie van wantroue om geslaagd te wees, al sou net ʼn honderd ANC-LP’s besluit om te stem.”

ʼn Geheime stem – die voordele

Die stemmery rondom die jongste mosie van wantroue in Zuma sal Dinsdagmiddag vir die eerste keer in die geheim gedoen word. Maroela Media het vroeër berig watter prosedures binne die parlement hiervoor gevolg sal word.

LP’s kan nou besluit om teen hulle party se wense te stem of om ʼn “wegbly”-stem of ʼn stem vir onthouding uit te bring.

De Vos reken nie die speaker se besluit om ʼn geheime stemmery toe te laat sal in die toekoms enige slegte gevolge vir die land se demokrasie inhou nie.

“Ek dink mense wat nie die konstitusionele hof se uitspraak behoorlik bestudeer het nie, sal dié soort mening handhaaf. Die hof het duidelik gesê ʼn openbare stemming moet as die standaard gehandhaaf word, maar ʼn geheime stemming is in uitsonderlike gevalle toelaatbaar, mits die NV verantwoordbaar gehou kan word en daar nie ʼn sprake van omkopery is nie,” het De Vos gesê.

Wie moet bedank as die mosie geslaagd is, en wat is die implikasies vir die regering?

President Jacob Zuma, sy ministers en hulle adjunkministers sal onmiddellik moet bedank indien die mosie van wantroue geslaagd sou wees.

Die kenners meen egter die regering sal nie in totale chaos gedompel wees soos Jackson Mthembu, die hoofsweep van die ANC, vroeër voorspel het nie.

“Die ANC sal steeds sy meerderheid in die parlement behou en baie van dieselfde lede sal ook weer tot die kabinet verkies word as gevolg van hierdie meerderheid,” het De Vos gesê.

Wie is die volgende president?

Die speaker Baleka Mbete sal as waarnemende president optree terwyl die NV binne 30 dae ʼn nuwe permanente president uit die NV-lede moet verkies. Mbete het ook die keuse om, indien sy wou, in dié tyd ʼn ander waarnemende president aan te wys.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal in hierdie tyd as voorsitter van die NV en NV-verkiesing vir ʼn nuwe president optree.

Wat gebeur as die Nasionale Vergadering nie ʼn konsensus bereik nie?

Indien die NV nie binne 30 dae ʼn konsensus kan bereik oor wie die nuwe permanente president van die land moet wees nie, moet daar ʼn algemene verkiesing gehou word en dit moet binne drie maande plaasvind.

Kan Zuma op ʼn manier daarna weer president word?

De Vos meen dit sal nie maklik gebeur nie: “Die nuwe president moet ʼn lid van die NV wees en die president hou op om ʼn lid van die NV te word die oomblik wanneer hy president word. Die ANC sal op ʼn manier moet verseker dat Zuma aan die bopunt van die kieserlyste kom, maar dit sal baie en uitstekende voetwerk kos.

“Hy kan egter weer ʼn minister word, want twee ministers kan in die kabinet aangestel word sonder dat hulle lede van die NV is.”

Wat is die kanse dat hierdie mosie geslaagd kan wees?

“My aanvoeling is steeds dat Zuma die jongste mosie van wantroue sal oorleef. Daar is eenvoudig te veel gevestigde belange in hom en sy faksie, en dan verneem ek ook dat daar redelike hoë vlakke van intimidasie aan die gang is om te verseker dat ANC-LP’s teen die mosie van wantroue sal stem,” het Duvenhage gesê.

“Indien die onmoontlike Dinsdagmiddag sou gebeur – ʼn geheime stemming waarin Zuma die mosie van wantroue nie oorleef nie – sal dit beslis die mees dramatiese politieke gebeurtenis in Suid-Afrika wees sedert 1994.

“Ek dink egter mense moet onthou in die ANC se wêreld is die party groter as die Suid-Afrikaanse staat. Dit is hulle huis en in hierdie wêreld kan die parlement nie vir die ANC besluit nie. Die ANC kan wel vir die parlement besluite neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Esmé Els ·

Wanneer word die uitslag van die stemmery bekend gemaak?

A ·

Sou die mosie geslaagd wees……. gaan die hele Suid Afrika aan skok ly.

Linette ·

Sou die mosie geslaagd wees …..

1. Val ek laggend van my stoel af;
2. Probeer ek huilend weer opstaan;
3. Kruip ek dan maar onder my lessenaar in
4. Koop ek vanaand vir my ‘n bottel KWV 15 jaar ….
5. En suip ek daai bottle KWV op met ‘n kalfspeen aan die voorkant, net so ‘straight’ van sy
Mama af, sonder eishj ……

Koos1 ·

Moontlik ‘n stupid vraag, maar as die mosie slaag, kan Mbete vir Zuma as tydelike president aanwys? Of kan die ANC met hulle meerderheid hom weer as president instem?

Rve ·

Koos1, my verstandhouding is dat die tydelike president lid van die nasionale vergadering moet wees, en as iemand as president aangewys word, is hy nie meer lid van die nv nie. So nee, sy kan nie. Jou ander vraag, weet ek nie as daar genoeg ANC lede teen hom stem om die mosie te laat slaag, of hy genoeg steun sal hê om herverkies te word nie.

Pierre ·

Hierdie mosie gaan weer nie slaag nie, die intimidasie en dreigemente speel ‘n groot rol in hierdie mosie. Ongelukkig is daar ‘n te groot houvas op die ANC kabinet en dink ek speel vrees ook ‘n rol. Jammer vir SA Zuma sal aan bly. Daar mag egter een ander senario wees, hy mag dalk tog bedank.

Ouma ·

Dit sal nie slaag nie. Wie sal stem om sy werk en inkomste te verloor? Ek sê wag tot die verkiesing. Probleem is, by dán is die geldkoffers heeltemal leeg terwyl daar nou darem nog diép onder,’n paar randjies lê.

stupid vraag ·

Wat van die miljoen plus stemme wat die DA oorhandig het? Is hul wel geldig in die verband?

vraag ·

Wat van al die internet stemme wat oorhandig het? Word dit in aanmerking geneem?

Vermeende ·

Ek is baie dommer met die goed as die ANC maar miskien kan julle slim mense my help.
Lees ek reg, die ANC het die meerderheid LP’s in die NV en daar word van net 50 ANC LP’s verwag om vir die mosie te stem om te slaag en dan moet hy uit sy pos met daai vet pay bedank??

Nee wat, die ANC se intelek word onderskat.
Merk my woorde, Zuma sal more nog steeds die president wees en vandag se gehuime stel sal hy sien as n stem van vertroue en dan gaan die poppe dans.

Marlene ·

Die vooraf gemerkte stembriewe staan sekerlik reeds in die lokaal waar die stemme getel word…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.