Soveel as 90% minder polisiereserviste as dekade gelede

Minder stewels op die grond is goeie nuus vir misdadigers en slegte nuus vir wetsgehoorsame burgers wat vry van vrees in veilige gemeenskappe wil woon, sê die DA. (Argieffoto: SA Polisie)

Die minister van polisie het Suid-Afrika se reservisteprogram in wese uitgewis: die getal reserviste het die afgelope tien jaar met 90% gedaal.

Die DA pak die skuld hiervoor vierkant voor die deur van Bheki Cele en sê die minister van polisie het ʼn sleutelrol gespeel in die verwoesting van die reservisteprogram. Dit het boonop die veiligheid van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners in die gedrag gebring, sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

Die syfers oor die daling in reservistegetalle is vandeesweek in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA bekend gemaak.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, sê in sy antwoord daar was in die 2011/’12-boekjaar altesame 52 054 polisiereserviste.

Vandag staan die syfer op 4 393.

“Dit is ʼn verwoestende slag in die stryd teen misdaad omdat reserviste ʼn belangrike rol speel om die polisie, weens dalende personeelgetalle, te ondersteun,” sê Whitfield.

Hy sê dit is duidelik dat Cele die reservisteprogram destyds as polisiekommissaris geteiken het. Cele is in 2009 as nasionale polisiehoof aangestel en het in Junie 2012 die trekpas gekry weens bewerings dat hy betrokke was by onregmatige eiendomstransaksies.

Die getal reserviste het van 2011/’12 tot 2012/’13 (die jaar waarin Cele afgedank is) met 65% gedaal, ʼn skerp afname.

Daar was sedertdien oënskynlik geen omkeer aan die uittog van reserviste nie. Die getalle het gaandeweg minder geword, totdat Cele as minister van polisie aangewys is en daar skielik weer ʼn skerp daling was.

Die syfers wys van 2018/’19 tot 2021/’22 was daar ʼn 50%-daling in die getal polisiereserviste.

“Minder stewels op die grond is goeie nuus vir misdadigers en slegte nuus vir wetsgehoorsame burgers wat vry van vrees in veilige gemeenskappe wil woon,” sê Whitfield.

Die nasionale polisiehoof gee verskeie redes vir die daling in syfers.

Reserviste is vrywilligers en kan enige tyd hul dienste staak. Sekere beroepe, soos dié in die veiligheid- of taxibedryf, word ook uitgesluit van die reservistestelsel. Dit beteken indien ʼn reservis so ʼn betrekking aanvaar, moet hy as reservis bedank.

Masemola sê in sy parlementêre antwoord ook talle reserviste sluit aan as hulle werkloos is en bedank dan weer wanneer hulle werk kry. Boonop is heelparty reserviste permanent in die polisiediens opgeneem – as polisiebeamptes of burgerlikes – as deel van ʼn werwingsveldtog.

Sedert 2014 was verskeie reserviste boonop onaktief, maar was hulle steeds op die polisie se personeelstelsel. Provinsies is daarna gevra om die stelsel op te ruim sodat die data akkuraat is.

Masemola sê die polisie het ook in 2018 weer begin met die werwing van reserviste en tot nou is 3 628 van hulle aangestel.

Dr. Johan Burger, ʼn polisiekenner en navorser, sê dit sal onbillik wees om die al die skuld voor Cele se deur te lê.

Burger sê die bestaande beleid oor reserviste is vervat in ʼn nasionale instruksie van 2014 en dat die probleme met die werwing en behoud van reserviste ʼn lang aanloop het.

“Daar was ʼn klomp klagtes en ontevredenheid wat oor etlike jare gebroei en ontwikkel het. Dit is gekoppel aan die swak administrasie van reserviste wat hulle vervreem en afgeskrik het.”

Hy sê watter rol Cele ook al in die toedrag van sake gespeel het, moet daar nie uit die oog verloor word nie dat daar ook baie ander redes in die polisie self is, wat tot die probleem bygedra het.

Al was Cele waarskynlik nie direk die oorsaak van die vermindering in getalle nie, moes die minister gegewe sy agtergrond, tog besef het watter waarde reserviste tot die polisiediens kan bydra, meen Burger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Ek sal ook defnitief nie in die land ‘n reservis wil wees nie. Goedkoop arbeid.

SjN ·

Haan, daar is niemand wat kan lees nie, dit is hoekom jy nog geen antwoord gekry het nie.

Nico ·

In die 4 jaar wat ek ‘n resevis was, was daar geen betaling nie, jou dienste as reservis was vrywillig.

christo ·

Die SAPD het onder die ANC ‘n swak beeld verkry as gevolg van swak diens. Niemand wil vrywilliglik sy of haar tyd opoffer vir só ‘n organisasie nie. Meer mense is betrokke by buurtwagte waar hulle binne hulle eie woongebiede diens doen, sonder die rondslomp van die staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.