Sóveel betaal vir Dewani se vlug

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Die departement van justisie het Dinsdag bekend gemaak presies hoeveel aan ʼn privaatvliegtuig spandeer is om die moordbeskuldigde Shrien Dewani van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika te bring.

“In die belang van aanspreeklikheid en deursigtigheid… beloop die koste van die vlug van Bristol-lughawe na Kaapstad Internasionale Lughawe R2 905 574.31,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement, gesê.

Dewani het Dinsdagoggend met die privaatvliegtuig in Kaapstad geland. Mhaga het vroeër aangedui dat ʼn Suid-Afrikaanse dokter, verpleegster, lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Interpol saam met Dewani reis. Een van die redes waarom die departement besluit het om ʼn privaatvliegtuig te gebruik is omdat Dewani vroeër selfmoordneigings getoon het, en dit moeilik sou wees om hom op ʼn openbare vlug te monitor. Dit kan ook moontlik ʼn sekuriteitsbedreiding vir die ander passasiers inhou.

Dewani is aan Suid-Afrika uitgelewer om tereg te staan vir die moord op sy vrou Anni in November 2010. Hy het beweer hulle is tydens hul wittebrood in Gugulethu in Kaapstad gekaap. Hy het gesê die kapers het hom vrygelaat en met Anni weggery. Haar liggaam is die volgende dag in die verlate motor opgespoor. Sy is doodgeskiet.

Drie persone dien reeds tronkstraf uit vir die moord. Dewani staar vyf aanklagte, wat ontvoering, sameswering om moord te pleeg en dwarsboming van die gereg insluit, in die gesig. Sy saak is tot 12 Mei uitgestel. Klik hier om meer te lees. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erich Goosen ·

Ek kan nie verstaan hoekom die regering ConAir moes huur vir Dewani se tog hierheen nie. Hier sit ons met ‘n luukse vliegtuig Inkwazi wat ideaal toegerus is om wetsverbrekers te vervoer.

Lola ·

Ai, die land van ons kan darem geld uitgee vir enige iets, behalwe vir dit wat die belangrikste benodig word hier. Op die manier sal SA nooit beter word nie!!!

alet ·

Jy weet Clive Lewis wat ernstig siek is moet in die Tronk dood gaan maar hulle boeties van oorsee word in spesiale hospitaal gehuis ves maak dit sin wonder maar net hoeveel word hulle onder die tafel betaal vir sulke behandelinge korup

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.