Soveel dok belastingbetalers op vir Zuma se regskoste

Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Die presidensie het die afgelope nege jaar al meer as R15 miljoen van belastingbetalers se geld aan oudpres. Jacob Zuma se sogenaamde spioenasiebande-saak spandeer.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê die staatsprokureur het in ʼn brief aan die DA bevestig dat R15 300 250 al spandeer is met betrekking tot die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se weiering om Zuma te vervolg op aanklagte van bedrog, korrupsie en afpersing.

“Die regsaksie was teen Zuma in sy persoonlike kapasiteit vir misdade wat hy glo gepleeg het voor hy president was. Hy was nie ʼn respondent in die saak in sy kapasiteit as president van Suid-Afrika nie. Dit kom dus daarop neer dat die regering onreëlmatig R15,3 miljoen spandeer het om Zuma uit die tronk te hou.”

Volgens Maimane moet Zuma persoonlik die geld terugbetaal. Hy het gesê die DA het met hul regspan vergader en met ʼn proses begin om die geld terug te kry. “Aangesien die geld deur die presidensie bestee is, doen ons ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om by ons regsaksie aan te sluit om die geld van Zuma te verhaal.”

Maimane het gesê Ramaphosa kan nie korrupsie en verkwistende uitgawes veroordeel en hom dan blind hou vir die blatante misbruik van openbare fondse deur Zuma nie. Volgens Maimane sal hulle seker maak dat Zuma die geld terugbetaal en sy dag in die hof kry.

Die sogenaamde spioenasiebande-saak beslaan 18 hoofaanklagte waarby 783 transaksies betrokke is. Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, sal intussen die aankondiging oor of hy Zuma gaan aankla eers ná 15 Maart bekend maak.

Zuma het op 31 Januarie vanjaar vertoë by die NVG ingedien waarin hy redes gee hoekom hy nie van bedrog en korrupsie aangekla moet word nie. Die NVG het aanvanklik 30 November 2017 as ʼn spertyd vir Zuma gestel, maar hy het versoek dat dié sperdatum met sewe weke uitgestel word.

Die DA het op 30 November verlede jaar vertoë ingedien waarin die party uiteensit hoekom 18 hoofaanklagte oor 783 beweerde voorvalle van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery onmiddellik teen Zuma ingestel moet word.

Die appèlhof het verlede jaar die NVG en Zuma se aansoek om verlof tot appèl geweier teen ʼn hofbeslissing om ʼn vorige hofuitspraak van 2009 om die aanklagte te laat vaar, ter syde te stel. Die aanklagte hou verband met ʼn wapentransaksie deur Suid-Afrika.

Zuma (75) het op 14 Februarie as president van Suid-Afrika bedank te midde van erge druk van die regerende ANC. Dit het ʼn einde gebring aan sy nege jaar lange termyn as Suid-Afrika se president, ʼn tydperk wat gekenmerk is deur die een skandaal ná die ander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willie ·

En ons eie stortkoppie ploeg voort… saai onmin sover hy gaan… kos almal geld, en het gesorg sy seuntjie en Guptas pelle verlaat die land ongedeurd…

Alida ·

Willie ja ek glo hulle is ONGEDEERD. Dagvaar die krimineel dat hy die geld terugbetaal.

Casper Labuschagne ·

As ons aan niks anders gewoond is nie, is ons gewoond daaraan om vir alles wat Zuma-verwant is te betaal.

SWAKKELING ·

Ag siestog en wat doen ons ou suid afrikanertjies wat die grootste belastingbetalers is daaraan? Absoluut niks nie. Hou ons op belasting betaal uit protes? NEE Want almal vertel jou hoe moelik dit gaan wees en hoe ‘onwettig’ en dat jy in die tronk kan beland. VREEMD hoe die onwettige optrede van ander betogers (bande brand, standbeelde vernietig, klippe gooi, paaie opkap) net toegelaat word sonder ENIGE ARRESTASIES … ek se steeds die regering sal net VOEL as ons ons belasting weerhou . HOEKOM KAN organisasies nie ruggraat kry en OPHOU belasting oorbetaal totdat die malligheid en geldmorsery laat staan word nie? Of tot Zuma sy geld terugbetaal het nie? MAAR NEE ons befonds mense wat ONS met ‘n masjiengeweer wil doodskiet en afslag.

Anti-iemand ·

Nou Praat Jy! Zuma en Malematjie is onheiligge gesante wat net aan hulle self dink.
Solank die An? en Zoem, Mal aan bewind is SAL die gemors nie stop nie. Verban die EFF. Ons hou op belasting betaal en siedaar, SA is in die grootste gemors wat jy kan kry.

Just Do It Ystervark ·

Swakkeling, wees ‘n sterkeling en neem die leiding en wys ons hoe om die ding te doen – belastingebetaling te weerhou. Wys ons jy kan die “ou suid-afrikanertjies” mobiliseer. Kry jou navolgers om geel oorpakke te dra. Loop voor. Voeg JOU daad by jou woorde. Just do it.

Genieve ·

N mens wil nie altyd negatief wees nie maar hier gaan niks van kom nie .

Pop ·

Swakkeling, en wat ons ou nasietnie nie besef nie is dat hulle onmoontlik ons almal kan toesluit. Maar as hulle sou kon, dan was ons veiliger as hier buite.

Just Do It Ystervark ·

Geagte Pop, sluit aan by Swakkeling se Geelbrigade met hul geel oorpakke en geel rokke en wys ons “ou nasietnie” hoe om die “ding” te doen. Just do it.

Marinda ·

Ag man, dis Lekker in “good ole South Africa”. I surely hope something will come out of this.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.