Sóveel dok Suid-Afrikaners vir begrafnisse op

(Foto: Unsplash)

Terwyl die dood van ʼn geliefde dikwels as ʼn groot skok vir naasbestaandes kom, kan die rekening vir ʼn begrafnis of verassing selfs verdere trauma vir reeds bedroefde geliefdes veroorsaak. Kenners wys egter daarop dat begrafnisse nie só duur is as wat onlangse internasionale navorsing getoon het nie.

Maroela Media het die afgelope week berig Suid-Afrika is een van die duurste lande ter wêreld met betrekking tot ʼn begrafnis of verassing. Volgens internasionale navorsing van die lewensversekeringsmaatskappy SunLife is Suid-Afrika die vierde duurste land sover dit koste aangaan. Net Japan, Duitsland en China dok volgens die navorsing meer as Suid-Afrikaners vir ʼn begrafnis op.

Die navorsing het die gemiddelde begrafniskoste in 35 lande wêreldwyd bereken deur dié koste met die lewenskoste en gemiddelde salaris van ʼn persoon in die onderskeie lande te vergelyk. Luidens die navorsing beloop die gemiddelde koste van ʼn begrafnis in Suid-Afrika ongeveer R26 875, oftewel sowat 13% van ʼn Suid-Afrikaner se gemiddelde jaarlikse salaris.

Deon Koekemoer, algemene bestuurder van die begrafnisgroep Martin’s, sê dié bedrag is heelwat meer as wat die maatskappy se kliënte gewoonlik vir ʼn begrafnis betaal. Volgens hom beloop die gemiddelde rekening tussen R15 000 en R17 000. Dit sluit egter nie die bloemis of spysenier in nie.

Louis Pretorius, uitvoerende hoof van die Sonja Smith-begrafnisgroep, het by navraag gesê die gemiddelde koste van ʼn begrafnis by dié groep beloop tussen R18 000 en R21 000. Volgens hom wissel kostes egter geweldig tussen verskillende kulture, asook tussen die soort dienste wat vereis word.

(Foto: Unsplash)

Daar is sekere koste verbonde aan ʼn begrafnis waarby daar nou maar eenmaal nie verbygekom kan word nie. Dít sluit in die koste vir die verwydering, berging en voorbereiding van die oorskot, persoonlike beskermingstoerusting, na-ure betalings, vervoer, diensfooie van byvoorbeeld ʼn krematorium, die grafkoste, ʼn kis en doktersuitgawes. Die sterfte moet ook geregistreer word.

In Suid-Afrika mag ʼn liggaam net deur ʼn begrafnisondernemer hanteer word en dit is ʼn vereiste dat die oorskot in ʼn kis begrawe moet word. Die prys van dié kis hang egter van die naasbestaandes af, maar kan een van die groot uitgawes beloop. Die prys van ʼn kis kan wissel tussen R500 en selfs R100 000. Goedkoper kiste word gewoonlik vir verassings gebruik en duurder, meer afgewerkte kiste vir begrafnisse.

Marius du Plessis, kommunikasiebestuurder by Avbob, sê daar is deesdae heelwat vrae rondom die koste van begrafnisse, asook berigte dat begrafnisse hier duurder is as elders ter wêreld.

“Algemeen gesproke is die begrafnis self nie duur nie, maar Suid-Afrikaners bestee baie aan bykomstige dienste wat met begrafnisse gepaard gaan. Dit is dikwels omdat dit ʼn belangrike kulturele geleentheid is. In ʼn onlangse verslag oor marknavorsing is gemeld dat naas die voorsiening van kos, die behoefte aan die voorsiening vir ʼn eervolle begrafnis een van die belangrikste uitgawes vir baie Suid Afrikaners is. Dit is selfs ʼn hoër prioriteit as voorsiening vir ʼn goeie tersiêre onderrig,” het Du Plessis gesê.

(Foto: Unsplahs)

“Geld word bestee op allerlei bykomstighede soos familievoertuie, duur kiste, onthaalverwante koste, kos en drank, bykomende vervoer vir familie en vriende, tente, stoele en blomme.”

Hy sê hulle sien ook betreklik dikwels dat mense wat dit nie werklik kan bekostig nie, groot begrafnisse met gepaardgaande uitgawes reël. “Dit word gedoen selfs al beteken dit dat skuld aangegaan moet word of die familie se finansiële reserwes daardeur uitgeput raak.”

Pretorius sê ook dat koste soos dié vir musikante, die regstreekse uitsending van ʼn diens en verversings die rekening kan opjaag. Blomme en begrafnisbiljette is deel van die standaardpakket wat die onderneming bied. Die koste van blomme beloop R825 per ruiker en die koste van biljette wissel tussen R12 en R18, waarby ʼn eenmalige bedrag vir die uitleg van die biljet gevoeg word.

Hy sê ook dat mense soms wel onder druk voel om groot uitgawes vir ʼn begrafnis aan te gaan.

Jaco de Lange, afdelingshoof van operasionele dienste by die vakbond Solidariteit, was deel van die onderhandelingsproses met begrafnisgroepe om ʼn basiese produk en diens vir begrafnisse of verassings vir vakbondlede te beding.

De Lange sê ʼn behoorlike – en waardige begrafnis – beloop in sy ervaring tussen R15 000 en R16 000. Dit is egter wanneer die ekstras bygereken word, dat die prys die hoogte kan inskiet.

Koekemoer stem saam en sê Suid-Afrikaners heg beslis groot waarde aan die afskeidsproses van ʼn begrafnis en dat dít moontlik kan bydrae tot die geld wat mense bereid is om daaraan te bestee.

Lize-Mari de Smidt, ʼn vrou wat onlangs ʼn verassing moes reël, sê hulle het vroeër vandeesmaand sowat R15 000 aan ʼn begrafnisondernemer betaal ná die dood van haar pa, Johan Smith (60). De Smidt sê hulle het ʼn sogenaamde afsonderings-troosdiens gehou omdat daar weens die Covid-19-pandemie streng maatreëls geld oor hoeveel mense ʼn byeenkoms kan bywoon.

(Foto: Unsplash)

“Ons het nie gedink die duurste kis, of blomme of kos was nodig nie,” het De Smidt oor die verassingskoste gesê.

ʼn Vriend van die familie het die blomme vir die kerk gerangskik, die skool het kos gemaak wat roubeklaers kon saamneem huis toe en elkeen het ʼn vrugtesap gekry.

De Smidt sê die bedrag was naastenby wat hulle verwag het en die polis wat haar pa as vakbondlid gehad het, het die grootste gedeelte van die uitgawes gedek.

“As ʼn mens nie die geld het nie, weet ek nie waar kry jy dit skielik nie. Dit is baie geld om sommer net uit te haal. My pa was nie ʼn materialistiese man nie en hy sou nie wou gehad het ons moet oorboord gaan nie. Hy was ʼn nederige man. Al was ons miljoenêrs, sou ons die presies dieselfde gedoen het.”

Anja van der Merwe sê hulle het naastenby R12 000 vir haar pa Dawid (61) se verassing betaal. Dit het die kis en blomme ingesluit. Die kerk was gratis en het verversings vir die roubeklaers verskaf.

“My pa was baie presies daaroor dat hy veras wou word. Hy het ook gesê ons moet nie te veel bestee op onnodige dinge nie. Ons het nie gevoel ons wil meer vir blomme of ʼn duurder kis betaal nie, want my pa sou dit nie nodig vind nie.”

Van der Merwe sê die begrafnisbiljet was wél vir hulle baie belangrik en die gesin het dit self uitgelê en op meer duursame papier laat druk.

Du Plessis sê ʼn intreebegrafnispakket by Avbob kos R12 300 en sluit graf- of verassingskoste uit.

(Foto: pixabay)

Hy sê daar is ook ʼn wanpersepsie dat verassings baie goedkoper as begrafnisse moet wees, wat nié noodwendig die geval is nie. Daar moet byvoorbeeld steeds ʼn kis gebruik word en die ondernemer moet steeds die werk, soos in die geval met ʼn begrafnis, doen.

Manesh Govender, president van die National Funeral Directors Association, sê ook dat dit dikwels die sogenaamde ekstras is wat uitgawes kan laat opjaag.

“Spyseniering kan byvoorbeeld later selfs meer as die begrafnis kos,” sê Govender.

Govender stel voor dat mense navorsing doen voordat hulle op ʼn diensverskaffer vir byvoorbeeld blomme, tente, of spyseniering besluit. “Daar is baie verskillende kulture en tradisies en mense doen dinge verskillend.”

Hy sê weens die Covid-19-pandemie is daar wél bykomende uitgawes weens die gebruik van beskermingstoerusting en die ontsmetting wat gedoen moet word. Volgens hom het dit tussen 10% en 15% by die rekening gevoeg.

“Selfs met dít ingesluit, kan jy vir R12 000 ʼn mooi begrafnis doen.”

Govender sê ʼn meer weelderige leefstyl word ook soms in ʼn begrafnisdiens weerspieël.

“Baie mense het polisse wat ʼn basiese begrafnis dek, maar as jy al die ekstras wil hê, moet jy daarvoor betaal.”

Hy sê egter Suid-Afrikaners moenie uitgebuit voel deur begrafnisondernemings nie.

“Jy kry al die kundigheid van ʼn baie professionele bedryf. Ons reguleer self ons lede en neem enige probleme direk met hulle op. Ons vra ook markverwante pryse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Simon

Die een se dood is die ander een se brood!

Strandloper

Dit KAN voorkom word!!! Doen navorsing oor “HOCL” Maak ou bene!

Johann

Ja AVBOB as ‘n intree begrafinis paket R12 300 kos en dit sluit nie die verassing in nie Wat sluit dit dan in Ek sien geen rede hoekom ‘n kis meer as R1000 moet kos by ‘n verassing nie Die kerk en verversings is apart Waarvoor is die R12 300 dan

Sarel

Sal verbaas wees indien u soms sien hoe luuks mense soms raak. Soek duur kis uit en kla dan oor prys. Ekstras word gereel en kla dan ook oor prys want hulle wil uithang by die begrafnis sodat niemand moet skinner nie. Sommige gebruik dit vir uithasl en wys i.p.v. net gewoon afskeid neem. Wat ek wel.mee saanstem.is dat ek nie verstaan hoekom Predikant ekstra betaal moet word nie. Is mos sy plig behakwe wanneer dit iemand van buite is

Yvonne

Nog n tipe uitbuiting