Sóveel ernstige diensleweringsbetogings sedert Januarie

Betogers in Mothutlung naby Brits. Foto: @bemol79/Twitter

Betogers in Mothutlung naby Brits. Foto: @bemol79/Twitter

ʼn Organisasie wat al Suid-Afrika se 283 munisipaliteite monitor en assesseer het Donderdag bekend gemaak hoeveel ernstige diensleweringsbetogings sedert die begin van die jaar in die land voorgekom het.

Volgens die organisasie, Municipal IQ, het daar sedert Januarie 2014 reeds 48 ernstige betogings teen plaaslike regerings plaasgevind. Betogings vind rofweg elke tweede dag oor die land plaas, het Muncipal IQ in sy Municipal Hotspot Monitor-verslag bekend gemaak.

Volgens Kevin Allan, die organisasie se uitvoerende hoof, het die meeste van dié betogings in Gauteng en die Oos-Kaap voorgekom. “Teen dié tempo sal betogings in 2014 ʼn nuwe rekordgetal bereik, maar ‘n oënskynlike afname wat in Maart ervaar is, beteken nie dat dit ‘n uitgemaakte saak is nie,” het Allan gesê.

Karen Heese, ʼn ekonoom by die organisasie, het gesê in 2009 en 2011 het betogings dadelik afgeneem voor en ná die verkiesings. “Dit is belangrik dat konstruktiewe gesprekke tydens verkiesingsveldtogte moet voortduur,” het sy gesê.

Daar was in Februarie verskeie gewelddadige betogings, meestal oor dienslewering, in Gauteng en in Noordwes. Khutsong, Bekkersdal, Roodepoort en Bronkhorstspruit is die ergste hierdeur geraak. Betogers in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, het verskeie geboue, waaronder ʼn kliniek en ʼn satelliet-polisiestasie, aan die brand gesteek. Die inwoners was ontevrede oor ʼn hoër elektrisiteitstarief sedert hul munisipaliteit deur die Tshwane-metro oorgeneem is.

In die Noordwes het betogers se ontevredenheid met die Madibeng-munisipaliteit in Brits ook die nuushooftrekke gehaal. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

… dis om van te huil … kyk die rommel en gemors – daar is mos ‘n ordentlik opgevoede manier van protesteer, dan nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.