Soveel hoes SA’ners vir ‘super-fêns’ by rugbywêreldbeker

Joyce Chauke, ook bekend as Mama Joy. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Belastingbetalers het verlede jaar minstens R1,3 miljoen betaal sodat die sogenaamde “super-fêns” Mama Joy Chauke en Botha Msila die Springbokke tydens die rugbywêreldbekertoernooi in Frankryk kon aanvuur.

Die departement van sport, kuns en kultuur het nie minder nie as R1 361 283 bestee aan vlugte en verblyf vir dié twee aanhangers.

Dié inligting is vervat in terugvoer wat AfriForum Donderdag van die departement ontvang het nadat die burgerregteorganisasie verlede jaar ʼn Paia-aansoek gebring het oor wat Suid-Afrika se veelbesproke en immer rondreisende super-sportondersteuners die belastingbetaler kos.

Charné Mostert, AfriForum-veldtogbeampte, sê sekere aangevraagde inligting ontbreek in die departement se terugvoer aan AfriForum.

Die organisasie se navrae rakende hoeveel Chauke en Msila tydens die toernooi bestee het, is nog nie beantwoord nie. Die departement het ook nie inligting verskaf oor die uitgawes wat aangegaan is vir dié twee geesdriftige aanhangers se bywoning van ander sportgeleenthede nie.

Maroela Media het vroeër berig die departement betaal Chauke en Msila om sportbyeenkomste waar Suid-Afrikaanse spanne deelneem, by te woon.

AfriForum het in sy Paia-aansoek inligting rakende die meriete van Chauke en Msila se aanstelling aangevra. Die departement het egter ook hierdie inligting weerhou.

Die organisasie het nou sy regspan opdrag gegee om ’n klag by die Inligtingsreguleerder in te dien om die departement te dwing om die volledige inligting en uitgawestate rakende “superaanhangers” van die afgelope tien jaar aan AfriForum te oorhandig.

’n Formele klag sal ook by die Openbare Beskermer (OB) gelê word oor die departement se beweerde wanaanwending van geld.

“Polities-verbonde individue kan oënskynlik in luuksheid leef op belastingbetalers se rekening, terwyl miljoene Suid-Afrikaners in armoede gedompel is. AfriForum sal deur die IR en OB toesien dat die departement antwoorde gee op hierdie wanaanwending van geld. Dié roekelose vermorsing van geld deur die ANC-regering skets ’n donker politieke prentjie,” sê Mostert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Casper ·

Dit is belaglik.Ek ondersteun ook ons sportspanne,kwalifiseer ek ook.

Casper ·

Daar was duisende Suid Afrikaanse ondersteuners op die paviljoene.Moenie vir my vertel die twee het die bokke laat wen nie,inteendeel ek glo nie eers hulle is raak gesien nie.Iemand het hier weer geld in hulle sakke gesteek.

Riaan ·

maar daar is geld vir die gemors terwyl die land krepeer van hongerte en beurt krag!!!!!

Jan Jacobs ·

En nie een van hulle, sal self uit hulle eie sak n rugby wedstryd by woon nie

Martie ·

Dis alles onsin. Hierdie regering is absoluut belaglik. Waar in die wêreld het jy al van soiets gehoor, maar trust die belaglike ANC om dit uit te dink. Maar vir die regte goed is daar nie geld nie.

Miena ·

Mag ek ook n klag indien en waar – as iemand my kan antwoord asb? Dit is immers van my belasting-geld wat gebruik was om die mense te borg en ek hier dog ek heeltyd dis daai 2 mense se eie geld en tyd wat hulle bestee het om te gaan rugby kyk…

George ·

@Martie, alhoewel ek nie saam stem nie, is die nie iets nuuts nie.

ES ·

Maar die res van die gepeupel moet met R 350 per maand se “maatskaplike toelae” regkom terwyl hierdie twee ontwerper klere, skoene en hoedjies kon dra en op die duurste vlugte kon vlieg en in die duurste hotelle kon bly net sodat hulle elke nou en dan op televisie kon verskyn. Die belaglikheid daarvan…

Republikein in die Wes Kaap ·

Casper, julle ondersteuners is almal deel van die sirkus. Ontrek steun en sien hoe vinnig sport in duie stort. En dít sal een van die regime se suurstofpype toeknyp. Ramaphosa en sy kaders se tone krul van plesier indien stadions vol is. Die regime reken dan die nasie is gelukkig en sal hulle langer in beheer hou. Die geld wat aan hierdie Super Ondersteuners bestee word het dus ‘n uitstekende ROI.

bolletjie blom ·

En dit was net hulle vliegkaartjies en verblyf. Hulle het eerste klas gevlieg. Kos was nie ingesluit nie. So die bedrag is aansienlik hoër.

Papsak ·

Ja nee kyk hulle vreet ons belastigbetalers se geld goed ook orals moet hulle gesien wees walglike goed wil kots !!!!!?

Loekie ·

Hulle het ons naam gat gemaak. Die wereld lag vir ons met die clowns.

AH ·

Ek glo ek kwalifiseer ook om ‘n superfan te wees! Waar doen mens aansoek? Ek sal kan doen met daardie lewe, weg van my huidige omstandighede wat dit meet en pas verg om kop bo water te hou!

Rudolph ·

Ek sien dit is vir reis en verblyf kostes. Nou hoeveel was die resturant waar die twee ondersteuners ge eet het. Die groot vraag wat is hul salaris vir die jaar as super fans?

Peach ·

Sal nie verbaas wees, as hulle nie ook met diplomatieke paspoorte die wêreld vol rond karjakker nie.

Tanya ·

Dis belaglik en dis terwyl hulle eie mense in elende lewe, dog sal hulle weer vir dieselfde partye stem wat hulle dieselfde valse lee beloftes al vir jare beloof…..

Mariana ·

Wat ‘n klug. Die twee weet waarskynlik nie eers wat rugby is nie. Geldmors en belaglik. Springbokke het baie regte aanhangers en het nie die twee nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.