Soveel kos luukse kwarantyn-oord die belastingbetaler

Een van die kamers by The Ranch Hotel (Foto: The Ranch Resort)

Die Suid-Afrikaners wat binnekort uit Wuhan in China na Suid-Afrika teruggebring word, sal vir die volgende 21 dae in gemak in ’n luukse hotel gehuisves word, teen ’n gemiddelde prys van sowat R1 800 per nag.

Dié kwarantyntydperk sal die regering dus sowat R37 800 per persoon uit die sak jaag. Dié bedrag sluit waarskynlik nie etes in nie. Indien ons in ag neem dat 184 Suid-Afrikaners én mediese personeel hier tuis sal gaan, sal die regering, en dus die belastingbetaler, ten minste R7,5 miljoen opdok. Dit is afgesien van die koste van verblyf vir die polisie en militêre personeel.

Die departement van gesondheid het Donderdag bevestig dat The Ranch Hotel in Limpopo as die geskikste perseel beskou word om die groep onder kwarantyn te hou. Dié viersterhotel is sowat 25 km suid van Polokwane geleë. Die minister het beklemtoon dat dié Suid-Afrikaners nie simptome van die koronavirus toon nie, maar vir eers in afsondering gehou moet word totdat die inkubasietydperk verby is.

Die presidensiële suite by The Ranch Hotel (Foto: The Ranch Resort)

Luidens die oord se webtuiste val The Ranch Hotel onder die vaandel van die Protea-hotelgroep en bied dit ’n verskeidenheid van 150 luukse kamers aan gaste. Die prys van ’n kamer met ’n dubbelbed en tuinuitsig beloop enigiets van R958 per nag, terwyl ’n enkelkamer met een koningingrootte bed en ’n tuinuitsig R1 041 per nag kan kos.

’n Familiekamer met ’n dubbelbed en drie enkelbeddens kos R1 291 per nag en ’n suite met ’n koninggrootte bed sal ’n gas R2 707 uit die sak jaag. Die presidensiële suite kos R4 165 per nag.

Die hotel bied ook talle luukshede vir gaste, waaronder drie restaurante en vier swembaddens, waarvan twee verhit is. Die hotel is ook ingerig met ’n gimnasium, ’n spa, ʼn gholfbaan en ’n landingsplek vir helikopters.

Die hotel se vlagskiprestaurant Basil’s fine dining bied fynproewergeregte aan gaste, wat deur ervare kokke aanmekaar geslaan word. Die restaurant is veral bekend vir sy kos-en-wynparings, luidens die webtuiste.

Die hotel se vlagskiprestaurant Basil’s fine dining. (Foto: The Ranch Resort)

Gaste kan ook varsgebakte produkte by die Buttery-restaurant en koffiewinkel geniet of van ’n à la carte-spyskaart by The Clubhouse kies. Dan is daar natuurlik ook Old Joe’s, ’n skemerkelkkroeg, waar gaste ’n drankie kan geniet.

Dit is nie in die stadium duidelik of die groep Suid-Afrikaners toegelaat sal word om van dié geriewe gebruik te maak of slegs in hul kamers sal mag bly nie.

Waar anders?

Volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is daar langer as ʼn week na ʼn geskikte plek gesoek om die mense te huisves. Die departement het 84 persele besoek voordat daar eindelik op The Ranch Hotel besluit is.

Dr. Anchen Laubscher, groep- mediese direkteur van die hospitaalgroep Netcare, het aan Maroela Media verduidelik dat persone wat nie simptome toon nie, nie in ’n hospitaal gehuisves mag word nie – of dit nou ’n staatshospitaal of private hospitaal is.

Dr. Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Dit verhoed ook dat die persone aan enige ander kieme wat moontlik in ’n hospitaal kan skuil, blootgestel word tydens die kwarantyntydperk, verduidelik Laubscher.

Volgens Laubscher bepaal die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se riglyne dat persone wat nie positief getoets het vir Covid-19 nie, maar wel moontlik aan die virus blootgestel is, onder huiskwarantyn geplaas moet word.

Die groep Suid-Afrikaners wat binnekort die land binnekom, kan egter nie bloot in huiskwarantyn geplaas word nie, aangesien hul familie en vriende nie aan die virus blootgestel moet word nie.

Laubscher meen ’n afgeleë oord maak dus sin om die groep Suid-Afrikaners by dieselfde plek te huisves. ’n Oord is ook nie naby aan enige openbare ruimtes geleë nie.

In China is inwoners die afgelope paar maande in hotelle onder kwarantyn geplaas, terwyl Amerika sommige van sy mense onder kwarantyn by militêre basisse geplaas het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Julius het klaar gesê hy soek hulle nie in SY provinsie nie, hy gaan die regering hof toe vat, hy gaan betoog en toi toi dat die biesies vir die volgende 3 weke bewe.

Emmie

Is dit nou regtig nodig vir ‘n 4-ster lodge?

Sobymykoolkop

Kos die regering NIKS. Dis die bietjie belastingbetalers wat PA staan. Nou help my reg asb. Die Suid Afrikaners het vrywillig daar gaan werk/ studeer. As hulle vir enige ander siekte daar behandel sou word sou hulle of hul mediese fonds daarvoor moes betaal, reg? Hulle verdien groot salarisse daar en sover ek verstaan betaal hulle nie belasting op hul verdienste nie. So , hoekom betaal hulle nie self vir die afsondering nie?

Annatjie

Die koste van die virus wat versprei is onbetaalbaar. Hierdie is ‘n paaiement op ons land en sy mense se oorlewing.

Snowball

Wat van ‘n militêre basis soos wat die VSA gehad het? Sou dit nie meer in pas wees met ‘n land soos SA, wat nie eintlik verkwisting van enige aard kan bekostig nie?