Soveel kos toerismeminister en Somizi se kuiery

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme en Somizi Mhlongo-Motaung (Foto: Departement van toerisme/Twitter)

Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het in reaksie op ʼn parlementêre vraag van die Demokratiese Alliansie bevestig dat haar departement R150 000 spandeer het op die omstrede kookkompetisie met die akteur Somizi Mhlongo-Motaung voor haar begrotingsdebat.

Hlanganani Gumbi, die DA se skaduminister van toerisme, het gesê die uitgawe was “heeltemal onnodig, ʼn vermorsing en doen niks om die toerismebedryf te help om weer op sy voete te kom ná die afsonderingsperiode nie”.

“Wat dit wel doen, is om die minister en haar publieke profiel te bemark op die belastingbetaler se koste.”

Gumbi sê die minister se reaksie op die parlementêre vraag bevestig dat sy nie begrip het vir die woede wat die samelewing het oor haar “ydelheidsprojek” nie.

Die advertensie wat gebruik is om die geleentheid te bemark (Mmaloko Kubayi-Ngubane/Twitter)

“Minister Kubayi-Ngubani moet eerder daarop fokus om toerismeondernemings terug te kry na winsgewendheid. Sy kon die R150 000 gebruik het om meer as 100 akkommodasieondernemings te help om voordeel te trek uit gratis gradering, of selfs om tariefkostes vir verskeie sukkelende ondernemings te betaal omdat hulle maande lank hul deure moes sluit. Die waarheid is, daar is verskeie maniere hoe die minister ondernemings kan help om uitgawes te besnoei sodat hulle oop kan bly en nie werkers hoef af te lê nie,” het Gumbi bygevoeg.

Hy sê die minister moet in hierdie kritieke oomblik fokus op dinge wat die toerismebedryf kan bou. “Terwyl sy nou as waarnemende minister van gesondheid aangestel is, kan toerisme nie ʼn deeltydse minister bekostig nie en boonop ook nie een wat nie ʼn goeie oordeelsvermoë het oor uitgawes nie. As die minister ernstig was oor die toerismebedryf en die herstel daarvan, sou sy die president se versoek, om as waarnemende minister van gesondheid op te tree, van die hand gewys het. Sy sou eerder daarop gefokus het om die toerismebedryf weer aan die gang te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Persheks Adri ·

Die land is op sy knieë en die toerismebedryf sukkel reeds en sy hou kook kompetisies! Dan praat ons nie eers van haar BEE spektakel nie. Daar’s nie pille vir sulke mense nie… Onbevoeg!

Theuns ·

Wonder wat se kwalifikasie het sy? Is dit nie vereiste dat Minsters moet ten minste gegradueerd wees nie?

Ovelia ·

Met sulke geld kon hul eerder ordentlike huise vir mense wat in sink huise bly te bou

Persheks Adri ·

Stem JM! Ons geld wat hulle so mors. Die land is op sy knieë, maar nee ons kook. Daar’s baie goed wat hulle goed kan doen plunder, breek, brand en maak ons die hel in net om ‘n paar goed te noem…

Snowball ·

En dan lees ek van ‘n vrou wat haar werk tydens Covid verloor het. Sy leef van rys, pap en pakkies sop en bure se aalmoese. Sy het 3 weke laas ‘n lemoen geëet wat iemand vir haar gegee het. Hoeveel vrugte kon hierdie spektakels vir arm mense koop met R150k? Dié tipe oordaad en galsterige verkwisting is eenvoudig walglik.

Nie Verbaas ·

Dit is die tipiese ANC. BBPs kyk net na hulle eie gerief terwyl die res van die land krippeer. Geen logiese denke of enige vermoë daartoe nie.

JohanR ·

En die een se portefeulje sluit ook nou in Minister van Gesondheid nou dat Mkhize by die huis sit nog op volle salaris. Soos Hitler seker aan Eva Braun die aand gese het voordat sy ‘n sianied pil gesluk het, en hy het homself geskiet “ons as persone, en ‘n land is gedoem!”

Anel ·

Laat sy die geld uit haar PERSOONLIKE REKENING terug betaal!!

Persheks Adri ·

Daai iets is ‘n gemors Kokerboom. Het jy die wapen berig gaan lees vandag? Ek sien nie jou kommentaar daar nie… Nog ‘n gemors

Kokerboom ·

Ek het en kon my nog nooit assosieer met nuttelose sinnelose idiotiese besluite deur mense wat totaal uit voeling is met die werklikheid. Dit tipeer ongelukkig meeste politici

Winnie ·

Wag maar sy gaan dieselde doen by Gesondheid die beursie is nuut en diep

Theuns ·

As gekwalifiseerde doter – wie anders kan as minster optree met mense se lewens op die spel- ? kan sy dalk help. Of het sy toepaslike akademiese kwalifikasie vir so belangrike pos? Ramaphosa se oordeel is bevraagtekenbaar soos ons sien met SOE aanstellings as CEO’s

annie ·

En nou is antie Koebai in pas met haar voorganger as waarnemende minister van gesondheid. Wat is haar studierigting? Wat het sy nog aangevang in haar lang politieke loopbaan om so ver te kan vorder?

Marisa W ·

Dalk gaan sy nou vir ons inentingspaarties reel – ons sal net nie mag dans nie

Marisa W ·

O wag, ons het ook nie inentings nie… dalk dan net ‘n paartie sommer vir die lekkerte?

Theuns ·

‘Wat se kwalifikasies het die minister ? Kealifikasie in Toerisme en ook kwalifikasie in Gesondheid. Aanvaar sy is gekwalifiseerde dokter?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.