Soveel plek by openbare universiteite beskikbaar

(Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Nie alle studente wat verlede jaar die Nasionale Senior sertifikaat-eksamen met universiteitsvrystelling geslaag het, sal vanjaar by ʼn universiteit kan studeer nie. Dit is omdat daar minder plek by universiteite landswyd vir eerstejaars is, as die getal matrikulante wat met vrystelling geslaag het.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het Donderdag gesê die kabinet het gister vergader om die finansieringstekort by NSFAS te bespreek. Dit het reeds gelei tot ʼn vertraging om finansieringsbesluite aan nuwe studente deur te gee.

Na afloop van dié vergadering het Nzimande gesê 210 820 leerders het die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen met universiteitstoelating geslaag. Daar is egter net plek vir 184 315 studente by alle openbare universiteite.

Altesaam 150 600 leerders het op diplomavlak geslaag en 79 117 leerder op ʼn hoër sertifikaat-vlak.

Wat skaars vaardighede betref, is daar 67 863 plekke beskikbaar vir nuwe studente. Hiervan is 16 647 vir ingenieurswese, 17 161 vir lewens- en fisiese wetenskappe, 10 155 vir studierigtings in menslike gesondheid, 943 in dierewetenskappe, 211 plekke is beskikbaar vir veeartsenystudies en 22 746 vir aanvanklike onderwysersopleiding.

Finansiering vir studente

Die kabinet het ingestem dat geld van die departement van hoër onderwys en opleiding herprioritiseer word om te verseker alle studente wat vir die NSFAS-finansiering kwalifiseer, kry dié finansiering.

Nzimande sê enige verdere finansiering kan net oorweeg word as deel van die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat later vanjaar voorgelê word.

“Die besluit is geneem binne die konteks van besnoeiings en die uitwerking van die Covid-19-pandemie. NSFAS sal nou besluite oor finansiering kan bekend maak en die registrasieproses by openbare universiteite kan soos beplan voortgaan.”

Universiteite het vroeër reeds ingestem om die registrasietydperk te verleng om te verseker studente wat nog nie terugvoer oor finansiering ontvang het nie, word nie toegang geweier indien hulle reeds vir ʼn plek gekwalifiseer het nie.

Nzimande sê die kabinet het ook besluit dat ʼn omvattende hersiening van die finansieringsbehoeftes gedoen moet word. Hy sê die regering en universiteite is uiters bekommerd oor groeiende studieskuld en dat dié kwessie as deel van die beleidshersiening oorweeg moet word.

Slegte skuld het reeds daartoe gelei dat Mthokozisi Ntumba (35) dood is toe hy glo in die kruisvuur beland het nadat die polisie op betogende studente in Braamfontein losgebrand het. Studente van die Universiteit van die Witwatersrand het betoog omdat die universiteit nie wou toelaat dat hulle verder studeer indien hulle agterstallige universiteitskuld het nie.

Nzimande het gesê hy het die Wits-universiteitsraad, die universiteit se bestuur en wetstoepassingsowerhede gevra om ʼn verduideliking te gee oor wat tot Woensdag se tragedie tydens studentebetogings by die universiteit gelei het.

Nzimande sê die verskillende instellings moet die nodige stappe doen om te verseker geregtigheid geskied en dat aanspreeklikheid voor die regte deur gelê word.

Studente wat reeds finansiering vanaf NSFAS kry, sal dit steeds ontvang, solank hulle aan die akademiese vereistes voldoen. Daar is egter geen finansiering vir nuwe studente wat ʼn tweede of nagraadse kwalifikasie aanpak nie. Laasgenoemde verantwoordelikheid berus by die Nasionale Navorsingstigting.

Die enigste uitsondering is studente wat hul hoër sertifikate voltooi het en toegang gekry het tot ʼn graad- of diplomaprogram en voldoen aan die akademiese en finansiële kriteria.

Die minister sê die landboubedryf is een van die sektore wat moet help met ekonomiese opbou en herstel. Altesame 400 studente wat by landboukolleges studeer en nie in hierdie stadium deur NSFAS gefinansier word nie, sal nou ook beurse ontvang.

“Die finansiering gaan verseker dat ons steun aan swart kleinboere verhoog, asook aan die meesterplan vir onderskeidelik die pluimvee- en suikerbedryf.”

Nzimande sê daar gaan nou met die departement van landbou saamgewerk word om infrastruktuur by dié kolleges te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Deon ·

Rassiste!!! Julle is verdomp n klomp rassiste, doen dit nie eers onder enige tipe dekmantel nie!!!! Ek verwys na die tweede laaste paragraaf…

Eend Bessinger ·

Ek beveel aanlynstudies aan vir almal wat nie andersins regkom nie. En die meeste Afrikaanse institute is mos deesdae aanlyn.

Herpiet ·

Die universiteite moet die applikante almal n bevoegtheidstoets of iets in die vakgebied waarvoor hulle inskryf laat aflê. Baie sal uitval en dan is daar plek vir almal.

Kompas ·

Stem saam. Dink nie almal skryf “ National Benchmark Tests” nie. Hoop maar die toetse is van hoë standaard.

Johan ·

…ń groepie wanna be a student het vir my gesê dat hulle graag lank op universiteit wil wees vir gratis kos en verblyf,vir altyd asb!

Debbie ·

Wat help dit jou kind slaag met soveel onderskeidings met die doel ombte gaan studeer? Daar is nie plek nie. Kry maar n werkie as jy kan en verdien maar n skrale salaris terwyl jy kan

Moedeloos ·

Word daar ooit skulde terugbetaal NEE. My dogter is al 12 jaar in die ondewys en tydens haar studiedae het hoevele studente, wat lenings gekry het, net verdwyn aan die einde van die jaar. Hul studiejaar het bestaan uit Jol . As jy soggens klas toe loop, loop hul die koshuise in lekker gekuier. Gelde wat gemors word .

B-Man ·

Van die 16647 ingenieurstudente, sal seker net ±2000 binne vier jaar klaar maak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.