Soveel renosters al in 2016 gestroop

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Die minister van omgewingsake het Sondag gesê die aantal persone wat in verband met renosterstropery in hegtenis geneem word het beduidend toegeneem, terwyl die aantal renosters wat gestroop word, afneem.

Minister Edna Molewa het gesê die gekombineerde pogings van haar departement, wetstoepassers en bewaringsagentskappe, in samewerking met internasionale vennote en borge, maak stadig maar seker sy merk op die aantal renosters wat gestroop word.

Renosterstropery is in 2014 as ʼn nasionale prioriteitsmisdaad verklaar en die kwessie ontvang steeds die hoogste vlak van aandag van die departement, die vervolgingsgesag en wetstoepassers, het Molewa gesê.

Molewa het gesê renosterstropery het in die periode tussen 1 Mei en 31 Augustus in die Kruger-wildtuin afgeneem.

Tussen Januarie en die einde van Augustus 2016 is 458 gestroopte renosterkarkasse in die Kruger-wildtuin gevind, in vergelyking met 557 tydens dieselfde periode verlede jaar – dit is ʼn afname van 17,8%.

Nasionaal is altesaam 702 renosters sedert die begin van 2016 gestroop, terwyl daar tussen Januarie en Julie 2015 altesaam 796 renosters gestroop is.

“Daar is egter tekens dat die suksesse van die teenstropingspogings in die Kruger-wildtuin nou daartoe gelei het dat stroopsindikate ander provinsies teiken,” het sy bygevoeg.

Die aantal renosters wat in ander provinsies gestroop is, het toegeneem, in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar, soos KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Noord-Kaap. Ondanks die toenames, is daar steeds ʼn afwaartse neiging.

“Dit is ook kommerwekkend dat ons ʼn toename in olifantstropery sien, ondanks doelbewuste pogings deur ons wildbewaarders, die polisie en soldate op die grond,” het Molewa gesê. “Altesaam 36 olifante is sedert Januarie in die Kruger-wildtuin gestroop. Ons gebruik ons ondervinding en kennis wat ons opgedoen het om renosterstropery te bekamp, om ʼn einde te bring aan olifantstropery.”

Die aantal suidwestelike swartrenosters in verskeie parke het die afgelope vyf jaar met 17% toegeneem danksy hervestigingsprojekte. Die suidsentrale swartrenosters vermeerder jaarliks met tussen 26% en 69% in parke, die Kruger-wildtuin uitgesluit.

SANParke het tot dusver tydens 2016 altesaam 11 renosterwesies gered, wat die getal sedert 2013 op 38 te staan bring. “Altesaam 29 van hierdie renosterkalfies word tans in spesiale skuilings versorg.”

Molewa het gesê altesaam 414 vermeende stropers is reeds sedert 1 Januarie in Suid-Afrika in hegtenis geneem, waarvan 177 in die Kruger-wildtuin en 237 in die res van die land. Die polisie het beslag gelê op 94 vuurwapens in die Kruger-wildtuin tussen 1 Januarie en 31 Augustus.

Van die noemenswaardige inhegtenisnemings sluit in:

– Die in hegtenisneming van drie mans in April in Vanderbijlpark tydens ʼn polisieklopjag vir die verkope van renosterhorings. Adriaan van Staden, Martin van Rooyen en Conrad Strydom het glo 18 renosterhorings in hul besit gehad. Hulle moet op 20 September in die hof verskyn.

– In ʼn saak wat met die inhegtenisneming in Vanderbijlpark verband hou, is twee ander mans, Adriaan du Plessis en Nardus Rossouw, in Lephalale in Limpopo in hegtenis geneem in verband met hul beweerde betrokkenheid om renosterhorings onwettig te verkoop. Hulle moet op 15 September in die hof verskyn.

– Drie verdagtes is in Junie in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met renosterstropery en die onwettige besit van vars renosterhoring. Die inhegtenisnemings het gevolg ná ʼn renosterbul vroeër dieselfde dag in ʼn privaat natuurreservaat in Grahamstad gestroop is. Jabulani Ndlovu, Sikhombuzi Ndlovu en ʼn Zimbabwiër, Forget Ndlovu, is tydens ʼn gesamentlike operasie in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op ʼn verdowingsgeweer en doofpyle, verskeie sae, messe, M99-kalmeermiddels en twee voertuie. Die mans bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

– Drie mans is op 10 Augustus deur die Valke en SANParke in Equestria in Pretoria in hegtenis geneem op aanklag dat hulle vyf renosterhorings wou verkoop. Pieter van Zyl (67), Marco Swanepoel (35) en Stephan Mylie (30) het glo ʼn bykomende drie horings by hulle gehad tydens die inhegtenisneming. Tydens ʼn opvolgondersoek het die polisie beslag gelê op bykans 105 renosterhorings, waarvan die waarde nog nie bekend gemaak is nie. Die drie mans is vrygelaat op borgtog tydens hul hofverskyning in Augustus. Hulle moet weer op 12 Oktober in die hof verskyn.

– ʼn Chinees is in Augustus by OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat hy glo met 10 renosterhorings, 84 ornamente van olifantivoor en 41 olifantivoorarmbande betrap is. Die verdagte, Desheng Zhane, was op pad na Hongkong toe hy voorgekeer is deur die Valke en die Groen Skerpioene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Pragtig is ma en kleinding in die foto, dit draai die ore, dan die een, dan die ander, voor, agter, na die kante soos dit luister na wat die bos vertel.

Kobus ·

Gaan beloer gerus die Op Vlerke facebook om meer tewete van beskrywings en belewenisse van die natuurlewe te kom.

M'Lady ·

Minister, dis nog steeds nie aanvaarbare statistieke nie. Doen iets voor dit te laat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.