Soveel renosters in 2018 gestroop

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, het Woensdag gesê Suid-Afrika het vir die derde agtereenvolgende jaar ʼn afname in renosterstropings aangeteken.

In 2018 is 769 renosters landswyd gestroop. Dit is ʼn aansienlike afname van 2017 toe 1 028 renosters vir hul horings doodgemaak is. Verlede jaar is ook die eerste keer in vyf jaar dat daar minder as 1 000 renosters gestroop is.

Mokonyane het dié afname toegeskryf aan die implementering van die Geïntegreerde Strategiese Bestuur van Renosters-veldtog wat verlede jaar op 1 Januarie geïmplementeer is. Dié benadering is in 2014 deur die kabinet aanvaar en is ʼn teenstropingsplan wat opgestel is sodat die departement van omgewingsake in samewerking met die regstelsel, wetstoepassingsowerhede en departemente en agentskappe vir misdaadvoorkoming en sekuriteit die stropingskrisis kan takel.

“Die afname in stropingsyfers is nie net aanduidend van die suksesvolle implementering van dié benadering nie, dit is ook bevestiging van die toewyding en harde werk van die mans en vroue wat op voetsoolvlak werk om hierdie spesie te red,” het Mokonyane gesê.

In 2018 is die meeste renosters steeds in die Krugerwildtuin gestroop, altesaam 421 renosters. Dit is ʼn 16,5% afname van die 504 renosters wat in 2017 in die wildtuin gestroop is. Een renoster is in die Marakhele Nasionale Park gestroop.

Tussen 1 Januarie en 31 Desember verlede jaar is daar altesaam 365 vermeende renosterstropers en 36 vermeende renosterhoringsmokkelaars in hegtenis geneem. Altesaam 229 van hierdie verdagtes is binne en net buite die Krugerwildtuin in hegtenis geneem, 40 meer as die 189 verdagtes wat in 2017 in die wildtuin vasgetrek is.

Daar is tans 318 sake op die hofrol wat met stropingsvoorvalle verband hou, waarby 645 beskuldigdes en 897 aanklagte betrokke is. Van hierdie sake is 275 gereed om op verhoor te gaan.

Verlede jaar is daar 82 sake verhoor wat met renosterstropery verband hou; 78 hiervan het tot skuldigbevindings gelei.

Altesaam 135 beskuldigdes was by dié 78 sake betrokke, waarvan almal aan renosterstropery en ander verwante aanklagte skuldig bevind is. Volgens die minister is daar altesaam meer as 500 jaar tronkstraf in hierdie sake uitgedeel.

olifantbul nbcnews

Argieffoto

Olifante méér geteiken

Die minister het egter nie net goeie nuus gehad om te deel nie. Terwyl renosters verlede jaar minder onder stropers deurgeloop het, word olifante al meer geteiken.

In 2017 is 71 olifante in die Krugerwildtuin gestroop. Nog ʼn olifant is in KwaZulu-Natal gestroop wat die totale olifantstroping vir 2018 op 72 te staan bring. In 2017 is 68 olifante gestroop, waarvan 67 in die Krugerwildtuin was.

“In dié verband is daar spesifieke risikogebiede geïdentifiseer en strategieë is beraam om aandag te gee aan die bedreiging. Dié strategieë is in die proses om aanvaar en geïmplementeer te word,” sê Mokonyane.

Die minister sê die departement weet dat internasionale samewerking noodsaaklik is om die vlaag van renoster- en olifantstropery hok te slaan, asook misdaad waarby ander wilde diere betrokke is. Sy sê die Suid-Afrikaanse owerhede is in verbinding met lande waar daar op renosterhorings beslag gelê word en versoek telkens dat DNS-monsters van die horings na Suid-Afrika gestuur word sodat dit getoets kan word in ooreenstemming met die stipulasies in die konvensie oor handel in bedreigde spesies (Cites).

“Dit stel ons in staat om die horings te verbind met lewende renosters of renosterhoring-voorrade wat ons belangrike inligting gee oor smokkelroetes.”

Enigiemand wat verdagte aktiwiteite rakende omgewingsmisdaad wil rapporteer, kan dit deur die departement se misdaadlyn by 0800 205 005 of by die polisie by 10111 doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henk ·

Hierdie minister lieg soos nes n goedkoop politikus kan lieg!

Jurie Vermeulen ·

Dit is korrek dit het afgeneem en die rede is omdat daar so min oor is. Die stroopers sukkel om hulle te vind.

Vat so... ·

Met al die tegnologie tot ons beskikking kan hulle nie renoster horings namaak en verkoop nie?! Los die wild uit !!!

JA ·

Nog steeds hopeloos te veel, of dink hy meer as twee renosters elke liewe dag van die jaar is min genoeg. Hierdie mense sal alles vrek maak en eendag eet hulle die kraaie en die honde wanneer dit al is wat oor is in hierdie land van ons, ag ekskuus, van hulle.

Dries du Toit ·

Hoe glo n mens hierdie vrou??? Renosters word gestroop . Die korrektiewe dienste is ook gestroop,

Gert ·

Onthou net, in baie van die gevalle is parkeraad-amptenare betrokke by die stropery. Hierdie teen-stroping is dalk maar om ontslae te raak van die kompetisie.

Heksie ·

Ek kan dit net nie meer hanteer nie, Die wreedheid van die mensdom is elke dag net meer skokkend as die vorige …

Peet Schabort ·

Sy kom mos van water en saniteit waar sy ons en Carté Blanche ontduik het aangaande riool in die Vaaldam.

Johan H. ·

Alweer die slimstes onder die slimmes! Natuurlik sal daar n afname wees,duh!want hulle word ook mos minder. Onsettende goeie opserwasie sal ek se… Wanneer gaan jy tronk toe,,, seker eers nadat jy daaie bobo by tzaneen dam gaan regmaak het of hoe?

AndreD ·

Maak nie saak hoeveel renosters of olifante al gestroop is nie…..dit bly hartseer en is groot skade. Net ‘n gedagte……………..Die wildtuin (NKP) het sy drakrag vir olifante al 3 keer oorskry. Die helfte van die wiltuin lyk soos n oorlog zone soos die olifante die bome afbreek. Dis hartseer om te sien hoe die natuur tonele lyk op baie van die plekke.

jakes ·

Die getal renosters wat gestroop word is nie tersake nie want een renoster is een te veel wat gestroop word.
Hier is te veel geestlik versteurde drek in SA wat ten alle koste alles sal uitroei net om n paar rand in die sak te verdien. Die agbare minister moet eerder bekommerd wees oor waar sy haar dae in aar oranjepak gaan deurbring.

Chris Ws ·

Dit alles net oor Mamon!Ek sal graag syfers wou sien van hoeveel stropers blank en hoeveel nie blank wasnet vir interessantheid.
Feit is daar word nog steeds renosters gestroop en dis hartverskeurend.

toy ·

1 Renoster is te veel. Daar moet geen renoster of olifante gestroop word nie. Dit maak mens eintlik siek om te dink diere moet so mishandel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.