Soveel sterf reeds in Desember op paaie

Argieffoto

Argieffoto

Vanjaar se feestyd het op ʼn donker noot afgeskop met 17% meer mense as verlede jaar wat tussen 1 en 19 Desember op die land se paaie gesterf het.

Die departement van vervoer het Dinsdag die jongste syfers oor feestyd-padsterftes tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg bekendgemaak. Dipuo Peters, minister van vervoer, het gesê die feestyd bring “ongekende en moeilike uitdagings” in die vorm van hoë alkoholverbruik, ongeduld en wetteloosheid op die paaie.

Volgens die departement het 845 mense tot dusver op die land se paaie gesterf, 17% meer as dieselfde tydperk verlede jaar. Die getal padsterftes het in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en in Noordwes toegeneem. In die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng is ʼn geringe afname in padsterftes waargeneem, terwyl 31 minder mense in die Oos-Kaap gesterf het in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Menslike faktore was in 82% van die sterfgevalle die oorsaak, terwyl pad- en omgewingsfaktore in 10% van die gevalle die oorsaak was en voertuigprobleme die oorblywende 8%. Volgens Peters is voetgangers wat onregmatig op paaie loop of dit oorsteek die grootste sondaars (30,7%), gevolg deur spoedvrate (15,2%), tref-en-trap-ongelukke (10,2%) en bestuurders wat ander voertuie reg voor aankomende verkeer verbysteek (7,6%).

“Ons sal geen leuens vertel wanneer dit kom by die vlaag van padsterftes wat veroorsaak word deur wetteloosheid en die halsstarrige houding van sommige motoriste nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om mans se hardkoppige en chauvinistiese houding aan te spreek aangesien hulle 78,4% van die sterftes uitmaak, onder wie 89,4% swart is,” het Peters gesê.

Daar was altesaam 684 noodlottige ongelukke tussen 1 en 19 Desember vanjaar wat 16% meer noodlottige ongelukke is as verlede jaar. Volgens Peters is baie van hierdie ongelukke veroorsaak deur bestuurders wat ander voertuie op sperstrepe of blinde hoogtes verbysteek, die spoedgrens oorskry, onder die invloed van alkohol bestuur of moeg is en weier om stil te hou om te rus.

Van die ongelukke wat toegeskryf kan word aan voertuigprobleme, het 40% gebeur nadat ʼn band gebars het, 26,7% weens remme wat onklaar geraak het, 6,7% weens ʼn foutiewe stuurwiel, 6,7% weens kopligte wat nie aangeskakel was nie en 10% waar ʼn fiets sonder weerkaatsers aan die agterkant betrokke was.

Peters het verder gesê 39,2% van die sterftes is passasiers wat hul “lewe in die hande van bestuurders geplaas het”, maar nooit by hul bestemmings aangekom het nie. Voetgangers het 34,3% van die sterftes uitgemaak en bestuurders 23,8%. “Sommige van die voetgangers wat gesterf het, het tot die oorsaak van hul dood bygedra aangesien hulle onwettig paaie oorgesteek het terwyl hulle onder die invloed van alkohol was,” het sy gesê.

Volgens Peters het die departement swakhede in hul strategie geïdentifiseer, onder meer dat daar nie streng genoeg opgetree word teen die bestuurders en eienaars van onpadwaardige voertuie nie. Sy het egter die verkeersowerhede in Gauteng geloof wat in hierdie tydperk 2 509 motoriste wat onder die invloed van alkohol was, in hegtenis geneem het.

“Ek sal met my eweknieë in al die provinsies in gesprek tree oor die moontlikheid om oortyd-betaling vir die res van die feestyd te verleng en seker te maak dat verkeersbeamptes die nodige hulpbronne, soos voertuie, tot hul beskikking het. Ons sal ook met die departement van justisie praat oor die moontlikheid om minimum vonnisse vir nalatige en roekelose bestuurders vas te stel,” het sy gesê. “Ons wil ook versoek dat dronkbestuur, wat tans ʼn skedule 3-oortreding is, voortaan as ʼn skedule 5-oortreding geklassifiseer word.”

Peters het gesê die departement sal alles in sy vermoë doen om die wetstoepassing vir die res van die feestyd op te skerp. “Dit is werklik uitdagende tye. Ons vra dat almal aanvaar dat die paaie gedeelde ruimte is en dat padveiligheid almal se verantwoordelikheid is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Chris--KZN ·

Elke Desember en Paasnaweek gaan ons deur dieselfde ritueel, slim politici en slim kommentaar, die res van die jaar gaan verkeersowerhede maar hul gewone gang. Solank daar nie 24 uur verkeer wetstoepassing is nie sal die slagting voort duur. Suid Afrikaners is oor die algemeen ‘n wetelose klomp wanneer dit by die gehoorsaam van verkeersreels is. Moenie vir my vertel daar is nie genoeg verkeersbeamptes nie, in KZN het die getalle seker al verdubbel die afgelope paar jaar maar ons wil 8 tot 4 werk en agter ‘n rekenaar sit en mooi broodjies bak as dit by patrollie werk kom. sela

DBR ·

Die minister moet tog Kimberley toe kom waar sy vandaan kom. Hier is die Verkeers-personeel openlik te bang om teen roekelose taxis op te tree. n Rooi verkeerslig beteken niks vir hulle nie en een verkeersman het gesê dit is die skuld van die mense wat permitte vir taxis uitreik en hy kan niks doen nie. Eina!!!!.

Peet Schabort ·

Dit is ‘n skok vir my om te sê “Geen wonder ek is (al)weer reg”. Daar word nie ag geslaan op wat ons wat al jare op die pad is te sê het. Dis hoog tyd dat kameras beskikbaar gestel word aan gewone verantwoordelike motoriste om hierdie padvarke te help vastrek.

Sê maar net. ·

Ek stem heelhartig saam met al die kommentaar. Ek wens daar wil meer gekyk word hoe taxi bestuurders ons paaie met ontsag oorneem. Hulle maak U draaie reg voor jou. Gaan op noodbane verby on voor by robot of kruisings in te druk. Hoeveel van die taxi gebruikers se lewens word nie ingevaar gestel nie. Wens die departement kan bykom en iets hieraan doen

Gerda ·

Verkeersbeamptes staan op plekke waar dit nie nodig is om te staan nie.

Adele Kruger ·

Wat my erg bekommer is die aantal bestuurders op die paaie wat die wette totaal, geheel en al ignoreer. Die vraag ontstaan of dit arrogansie is (soos die minister beweer) of is daar dalk ‘n beduidende aantal motoriste en taxi bestuurders sonder legitieme lisensies? Miskien moet ons dit ook ‘n skedule 5 oortreding maak!

Johann ·

As ou in ag neem dat die hoeveelheid motors ens jaarliks met rasseskrede toeneem, mag ou dalk net nie so negatief oor die syfer wees nie. Maak gerus somme dan kom ou gou agter dat daar ‘n negatiewe groei in die tedens is

Jack Russl ·

Ek verstaan jou siening, maar dit verander nie die feit dat 120 meer mense op ons paaie gesterf het as verlede jaar nie

Meisie ·

Verkeersbeamptes staan in bondels op een plek,terwyl di res van die pad onbeman is.Kan hul nie reg oor di pad versprei word ni?

Deloris ·

Ek bly by my punt verbied taxis op lang afstande en dlegs busse moet toegelaat word met strenger pad reels

Marius ·

As die Verkeersbeampte sy werk doen, word daar gekla, doen hy nie sy werk nie, word daar gekla. Motoriste betaal omkoopgeld en loop en vertel hoe korrup die verkeersbeampte is en spog in dieselfde asem hoeveel hy betaal het. Die Suid Afrikaner wil ook altyd net die verkeerde raaksien, maar nooit die goeie dadelik wat gedoen word nie. Die motoris oor die algemeen se standaard het gedaal, laer as slang ontlasting op die seebodem.

Die naam is Pompies.... Piet Pompies ·

Dit sal interessant wees om uit te vind hoeveel ongelukke of watter persentasie sterftes is te wyte aan enkel-voertuig ongelukke, waar bestuurders skielik moes “uitswaai” vir iets in die pad en beheer verloor het?. Ons lewe in ‘n land waar gevaarlike items in die pad gegooi word om voertuie tot stilstand te bring vir ‘n roof-geleentheid.

Lance ·

Presies wat met kan verwag in n land waar daar geen wet en orde is en alles agteruitgaan.

Lou ·

Ek was besonder beindruk met die minister se boodskap in Afrikaans. Lekker om te hoor daar is ‘n minister wat Afrikaans praat!

Cobus ·

Taxis word altyd blameer vir alles.Ek ry baie agv my werksituasie en ek kan jou waarborg dat 95% Van alle pad reels deur die algemene publiek gebreek word.Hier volg n paar voorbeelde:
1. Spoed ivm my 100km/h wat ek ry.
2.Verbygaan op sperstrepe
3. Verbygaan op blinde hoogtes
4. Verbygaan aan linker kant_geel streep
5. Verbygaan Van tot 7 voertuie teen aankomende vermeer.
Blaas jy toeter of flash ligte dan wys hulle vir jou tekens of rem kliphard reg voor jou.
Kom jy by n stop of robot dan trek hulle langs jou in of dreig jou.
Ek fotografeer die lot met n dashcam Indien ek dit dalk eendag nodig kry.
Diesulkes moet tronk toe en lisensie weggevat word.
Dan die vermeteles wat jou kamstig waarsku wanneer daar spoedlokvalle gehou word.ga_pleks ry hulle ordelik en laat die padvarke gevang word.
Ek is seker dieselfde varke is net so by hul huise en werk.die kinders word groot met ouers wat alle wette breek en hoekom sal hulle anders wees as die voorbeelde wat hulle het.JY MOET DIE WETTE NAKOM EN NIE WAG DAT N VERKEERSBEAMPTE JOU EERS BE BOET VOORDAT JY HULLE ALLE GEVAL SOOS DREK BEHANDEL EN DIT OMDAT HULLE HULLE WERK DOEN.

Chris Ws ·

Cobus beter kan niemand dit stel nie!Ek het ook ‘n dashcam in my voertuig en het al baie mense op video wat die oortredings begaan wat jy daar opnoem.Nou wonder ek wat kan mens met die video materiaal doen om die oortreders aan die pen te laat ry?Die kameras registreer jou werklike spoed(nie spoedmeter sn nie),tyd en datum asook presiese ligging so als is daar.Dis tyd dat dashcam videos gebruik word!Dan sal padvarke tweekeer begin dink voor hulle padreels oortree.Die wetstoepassers op ons paaie is hopeloos te min ook.

CHRISTA ·

Ek weet nie hoekom daar elke vakansie so ‘n ophef gemaak word oor ons padsterftes nie. Kyk na elke maand se gemiddeld en ek is SEKER dieselfde syfer sal na vore kom!!! Die metropolisie probeer net half-wakker lyk tydens skoolvakansies. Selfs wanneer jy hulle langs die pad sien en ‘n probleem by hulle rapporteer, trek hulle net hulle skouers op en sê dis nie hulle probleem of hulle area nie!!!

Lance ·

Dit werk uit op 42 mense per dag as dit vanaf 1 Desember bepaal word ….maar as 50 onskuldige mense word elke dag gemiddeld in SA vermoor …waneer maak n minister n ophef oor die moordsyfer ……of is dit maar ok ……

miv ·

Ai tog, van Adam en Eva se tyd af blameer die mens ander vir sy foute. Geen wet of verkeersbeampte kan mense verander as die verandering nie inherent in die mens self plaasvind nie. Ons is mos nie verstandloos nie, hoekom moet daar waghonde wees om ons op te pas? Ons moet met respek teenoor ons mede-padgebruikers optree, padreels gehoorsaam, wat daar gestel is vir ons beskerming en nié ons straf nie, dan sal dit beter gaan. Ons kan nie die verkeersowerheid of die regering die skuld gee wanneer padgebruikers soos barbare optree nie. Vee maar eers voor eie dejr

Chris Ws ·

MIV,Ek sou graag wil weet hoe gaan mense (van ALLE rasse) se gesindheid op die paaie skielik verander word.Ek hoor goed wat jy se ,maar dis net nie meer haalbaar nie.Myns insiens is swaar strawwe die enigste uitweg nou.

Paul van Pretoria ·

Ek wil graag minister Peters, almal van Operasie kom Veilig aan, die Metro- en Verkeerspolisie gelukwens met ‘n baie ONSUKSESVOLLE veldtog om lewens op ons land se paaie te red en te spaar.
Gister weer die totale gebrek aan WETTELOOSHEID en WETSTOEPASSING op Gauteng se paaie beleef.
1 Spoedkameratjie het mense nie gekeer om te drink terwyl bestuur, sms, oor rooiligte te jaag, u-draaie te maak op snelweg, te vinnig of te stadig te ry, onpadwaardige voertuig te bestuur of sommer net geen verkeersreëls te gehoorsaam nie.
Daar moet strenger teen verkeersoortreders opgetree word, nie net met 1 spoedkontrolepunt op die hele nasionale padstelsel deur Gautemg nie!

danie ·

Mense gaan kry hulle bestuurs lisensies op af gelee dorpe en dan wil hulle sommer die volgende dag op n 6 baan snelweg kom ry. Ek dink daar moet gekyk word na die gehalte van bestuurders se vermoe. Dit is n nagmerrie op die snelwee, mense wat stadig ry en sommer baan verwissel sonder om die gemiddelde spoed op die snelweg In ag teneem. En om nie eers te praat van mense op sel fone nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.