Soveel sterf reeds in Desember op SA paaie  

Argieffoto: ER24

Soveel as 690 mense is reeds tydens die feesseisoen op die land se paaie dood.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag voorlopige statistieke vir die tydperk van 1 tot 20 Desember bekend gemaak. In dieselfde tydperk verlede jaar het 732 mense op die land se paaie omgekom.

In drie provinsies was daar ʼn toename in die aantal sterftes in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. In die Oos-Kaap was daar ʼn toename van 21,5% met 96 sterftes teenoor die 79 in 2019. Limpopo het ʼn toename van 18,4% beleef met 90 sterftes teenoor verlede jaar se 76. In Mpumalanga was daar 73 sterftes teenoor verlede jaar se 63, ʼn toename van 15,9%.

Die ander ses provinsies het ʼn afname in die aantal sterftes vir die tydperk gehad in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. In die Noord-Kaap was daar 13 sterftes teenoor die 17 in 2019. In die Wes-Kaap was daar verlede jaar 94 sterftes in die tydperk en het dit tot 69 afgeneem vanjaar.

In die Vrystaat is daar ʼn afname van 28,8% aangeteken met 47 sterftes teenoor verlede jaar se 66. In Gauteng het die syfer van 150 sterftes in 2019 tot 122 vanjaar afgeneem. Noordwes het ʼn afname van 5,8% getoon met 49 sterftes teenoor die 52 in 2019. In KwaZulu-Natal was daar 131 sterftes, net vier minder as verlede jaar.

Volgens Mbalula is daar sedert die aanvang van die feesseisoen reeds 416 padblokkades gehou en is meer as 630 000 voertuie van die pad af getrek.

Meer as 109 000 motoriste is vir verskeie verkeersoortredings beboet en meer as 1 800 voertuie is geskut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.