Soveel sterf reeds op land se paaie

(Foto: SA Polisie)

Minstens 589 mense is sedert die begin van die feesseisoen op die land se paaie dood.

Volgens Fikile Mbalula, minister van vervoer, was daar van 1 Desember tot 22 Desember ʼn totaal van 489 noodlottige ongelukke. Dit is aansienlik minder as die 656 noodlottige ongelukke en 839 sterftes in dieselfde tydperk verlede jaar.

Die aantal padsterftes het in alle provinsies afgeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. In Gauteng het die getal padsterftes van 133 verlede jaar na 95 vanjaar afgeneem, in KwaZulu-Natal van 172 na 135, in die Wes-Kaap van 85 na 54, in die Oos-Kaap van 102 na 81, in die Vrystaat van 80 na 56, in Mpumalanga van 83 na 40, in Noordwes van 60 na 36, in Limpopo van 94 na 73 en in die Noord-Kaap van 29 na 16.

Die meeste oorledenes was voetgangers (39%), passasiers (34%), bestuurders (26%) en fietsryers (1%).

Mbalula het ook bekend gemaak dat ʼn totaal van 629 661 voertuie sedert die begin van die feesseisoen in 539 padblokkades reg oor die land van die pad af getrek is. Daar is 231 937 verkeersboetes uitgereik. ʼn Totaal van 2 915 motoriste is reeds in hegtenis geneem.

“Ons bly egter bekommerd oor die aantal mense wat voortgaan om dronk te bestuur. ʼn Totaal van 1 397 motoriste is reeds vir dronkbestuur vasgetrek, 272 motoriste is vir spoedoortreding in hegtenis geneem terwyl 438 motoriste in hegtenis geneem is aangesien daar lasbriewe is vir uitstaande verkeersboetes.”

Mbalula het wetstoepassingsbeamptes en nooddienspersoneel geloof wat hul gesinstyd opoffer om lewens op die land se paaie te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae