Soveel Tshwane-metrobeamptes bots self met gereg

Tshwane-metropolisie. (Argieffoto)

Soveel as 52 lede van die Tshwane-metropolisie het verlede jaar self met die gereg gebots.

Dit het aan die lig gekom toe die beamptes se kriminele rekords deur middel van hul vingerafdrukke nagegaan is. Van die klagtes teen die beamptes sluit in moord, poging tot moord, gewapende roof, motorkaping en diefstal, maar die meeste sake wat aanhangig gemaak is – altesaam 16 – was vir aanranding. Sewe beamptes is van korrupsie aangekla, ses van dronkbestuur en twee van bedrog.

Dokumente in Maroela Media se besit toon dat daar in slegs twee van die sake reeds uitspraak gelewer is; een was ʼn skuldigbevinding aan roekelose en nalatige bestuur en in ʼn tweede saak is ʼn beampte onskuldig bevind aan korrupsie. Dertien sake is intussen teruggetrek en 37 metropolisiebeamptes wag nog om in ʼn hof verhoor te word. Almal is egter steeds in diens.

Raadslid Karen Meyer, burgemeesterskomitee lid vir gemeenskapsveiligheid, sê die metropolisie is bewus van die kriminele klagtes en dat buiten vir die kriminele vervolging daar ook ʼn interne proses is wat gevolg word. In geval van ʼn ernstige oortreding word ʼn metropolisielid dus ook dissiplinêr vervolg.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies sê ʼn kriminele klag wat met oneerlikheid gepaard gaan moet sonder twyfel die einde van ʼn polisieman of -vrou se loopbaan beteken.

Dit sluit in diefstal, bedrog, korrupsie en roof, maar vir ander oortredings moet daar ʼn dissiplinêre proses wees wat ná skuldigbevinding gevolg word. “As jy tronkstraf kry is dit outomatiese ontslag, maar as ʼn oortreder slegs ʼn boete opgelê word kan hy of sy intern verhoor word, afhangend van die oortreding wat begaan is,” sê Burger.

Ten minste twee senior lede van die Tshwane-metropolisie sit reeds twee jaar by die huis nadat hulle geskors is en na bewering ontvang albei steeds hul volle salarisse.

Direkteur Trish Armstrong het glo ʼn vals kwalifikasie ingedien en die metropolisie se adjunkhoof, Umashi Dhlamini, se beweerde oortreding hou verband met finansiële wangedrag. Die beweerde oortredings het tydens ʼn forensiese ondersoek aan die lig gekom.

Lt.genl. Johanna Nkomo. Foto: SAPD

Intussen blyk dit dat die hoof van die Tshwane-metropolisie, lt.genl. Johanna Nkomo, steeds nie oor die vereiste kwalifikasie beskik om ʼn lid van die metropolisie te wees nie.

Die regulasies vir die munisipale polisiediens wat in 1999 in die Staatskoerant verskyn het vereis dat ʼn persoon slegs as ʼn lid aangestel mag word as so ‘n persoon ʼn geregistreerde verkeersbeampte is in terme van die Padverkeerswet van 1989. Slegs die nasionale kommissaris van polisie kan vrywaring verleen indien ʼn persoon nie aan hierdie vereiste voldoen nie.

Nkomo beklee die pos sedert Februarie 2018 en een van haar aanstellingsvoorwaardes was dat sy binne 18 maande as ʼn verkeersbeampte moes kwalifiseer. Dit het reeds verstryk maar volgens Lorette Tredoux, Tshwane se waarnemende stadsbestuurder, is daar wel die nodige vrywaring gekry vir ʼn langer tydperk wat op 31 Desember ten einde loop. Tredoux het bevestig dat Nkomo tans die nodige opleiding ondergaan.

Die uitstaande kwalifikasie het tot gevolg dat die metropolisie sonder die nodige leierskap nie behoorlik kan funksioneer nie.

Nkomo mag byvoorbeeld nie die metropolisie se uniform dra of bevele aan haar ondergeskiktes gee nie. Sy mag ook nie mense afdank of nuwe aanstellings maak nie.

Daar is onlangs poste vir adjunkhoofde geadverteer maar al sou die kandidate die keuringsproses slaag, kan Nkomo nie die geskikte kandidate se aanstellings bekragtig nie. “So daar gebeur net niks nie,” sê ʼn ontstoke senior lid van die metropolisie met wie Maroela Media gepraat het.

Nkomo het in 2001 ʼn BA-graad in Regte aan Unisa verwerf en is in die hoër hof as ʼn advokaat toegelaat maar daar was glo beter kandidate op die kortlys en verskeie vakbonde het destyds teen Nkomo se aanstelling kapsie gemaak.

ʼn Advertensie wat aanvanklik die pos in die media geadverteer het, is destyds verander sodat Nkomo met haar polisieagtergrond, maar sonder munisipale polisie opleiding, wel kon aansoek doen. Sy loop na bewering sedert Maart vanjaar drie dae van die week klas en is slegs Maandae en Vrydae op kantoor. Dit, terwyl sy sowat R1,8 miljoen per jaar as hoof van die metropolisie verdien.

Burger sê die hoof van die metropolisie het substantiewe kennis van die organisasie en die vereistes van die bedryf nodig. “Dis eintlik ʼn basiese vereiste.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Kallie ·

Intussen kreun die inwoners wat die salarisse moet betaal. Tyd om die metro onder administrasie te plaas, DA.

Maljan ·

Met sulke salarisse is dit g’n wonder die land moet pensioen fondse plunder en geld internasionaal bedel om te oorleef nie. Kyk ook hoe oud is die staatshoofde, maar op 55 is n blanke ambagsman se kans om n salaris te verdien verby.

wilma ·

Ek hoop die stoute kabouters is intussen darem oor die kneukels getik en aangesê om dit nie weer te doen nie?

Speedguard ·

Dit is net ongelooflik om die sulke artikels te lees, hoe het ons nie geswoeg en gesweet vir R650 per maand nie , dan was ons nog verplig om “produktief” te wees of hul beperk jou Km per maand terwyl die uitreikings moet rol en die inkomste met kantore in die ou TPA vergelyk word om vas te stel wie was die beste om geld te vorder maar nie om lewens te help beskerm nie…..ai dit is ‘n skande !

Suzette Geringer ·

Hierdie is nie nuwe nuus nie – ons weet dit mos al lankal…!!!

Ben Potgieter ·

Ploeter voort van een gemors na die ander gemors.Is daar iets in ons land wat reg werk ? Viva ANC

Willem ·

“om ‘n krimineel te vang moet jy soos ‘n krimineel dink” word daar te letterlik opgeneem.

Hans ·

Die munisipale heffings/belastings is alweer vanaf 1 Julie 2019 verhoog ,sodat al die nie-werkende beamptes salarisse betaal kan word.

Adri ·

Daar is nie so ‘n ding soos ‘n “krimineel” nie. Misdadiger, skurk of wetsoortreder dalk?

Theresa ·

Dis hoekom ons land is waar dit is. Almal is onbevoeg om in hulle poste te wees. Hulle trek die vreeslikste salarisse elke maand en leef die lewe. Metro polisie lede wat rekords het. Moord, motor kaping ens. Dis ‘n helse sirkus.

KrokodilBotha ·

Daar is geen staat instansie wat eers halfpad kan funksioneer nie. Erken dit maar mensies, die verval is lankal verby n omdraai punt.

Dirk ·

Waar de hel kry sy die rang van Lt Generaal?Glo nie eers sy weet wat dit beteken nie..

emily ·

Ja nee, dis hoe dit gaan, Jy ken iemand en jy word in n pos gesit waarvan jy net mooi niks weet nie, Maar was dit een van Ons mense, was ons lankal uit by die deur.
Korupsie is oral en niks word daaraan gedoen nie, Hier is soveel mense in Pretoria wat erken hulle was al dronk agter die wiel en word hulle gestop, gee hulle net die ”bribe” en hulle kan verder ry. SWAK. En hoekom word hulle in diens geneem Sonder dat hulle rekords nagegaan word. Doen Ons aansoek vir werk, moet ons n hele pedigree uitle.
Korupsie Rule in SA.

Heinrich ·

My vloek Marlize, en niemand op die brug sien die komende ysberg in die voorgrond van die Sinkende Skip van Suid-Afika nie, net ons suckers wat in die enjinkamers van hierdie sinkende bootjie sweet weet wat kom.

Lana ·

Kyk, hierdie is die beste kommentaar in ‘n baie lang tydperk.
Kolskoot!!

Ekke ·

Maandag middag ry ek agter metro voertuig, sien toe hulle briek ligte is foutief, by volgende robot, stop ek toe nie agter hulle nie, maar wel langs hulle, trek hulle aandag af, baie vriendelike, beampte, sien toe raak dat ek met hulle wil praat, klim uit voertuig, stap tot by my, en ek vertel hom toe dat hulle briek ligte foutief is, die man kon my nie genoeg bedank het nie, want toe het hulle afgetrek en gestop by vulstasie.

Vlakvark ·

Wanneer laas is ‘n Tshwane Metro Polisie voertuig in Pretoria-Oos gesien (uitgesluit Attridgeville)? Hulle skitter in hul afwesigheid! Vele voertuigbestuurders ignoreer rooi verkeersligte! Om nie eens van die taxi’s te praat nie. Of selfone teen die oor! Watse voorbeeld word aan die jeug gestel? SIES!

Het Pretoria enigsins nog verkeerspolisie nodig? NEE!

Joe ·

Raak eers ontslae van die onbevoegde persone wat haar aangestel het sonder die nodige kwalifikasies. .

Jerry ·

BEE is die wortel van alle kwaad wat korrupsie en misdaad laat gedy in Suid Afrika en moet nie die fout maak om te dink dat dit nie georkestreer word deur die ANC/eff self se beleid en radikale strukture! BEE aanstellings mag so korrup wees as wat hulle kan wees, hulle moet net nie uitgevang word nie, want dan word hulle vervang en herontplooi. Die enigste manier om kolonialistiese stelsels/instellings en “white privelage” te vernietig en te vervang met africanism en “black privelage” is deur BEE en korrupsie in alle kolonialistiese instellings! De-kolonisasie is reeds n realiteit by SOE’s, staatsdiens, SANW, SAPD, munisipaliteite en metro’s, universiteite ens. Solidariteit/Afriforum het met hulle strategie en taktiek groot gehap en gaan te laat agterkom, hulle het n groot babbel gehap. Om nou te wil pleisters opplak is te laat! Johanna is n politieke aanstelling en is daar om te bly en kaders wat uitgevang word, met kaders te vervang! Solidariteit/Afriforum weet van een saak en wen een saak in die hof terwyl daardie saak deur n ander kader steeds voortgaan en terwyl daar eintlik duisende sake is in die groter prentjie.

Vlakvark ·

Wanneer laas is ‘n Tshwane Metro Polisie voertuig in Pretoria-Oos gesien (uitgesluit Mamelodi)? Hulle skitter in hul afwesigheid! Vele voertuigbestuurders ignoreer rooi verkeersligte! Om nie eens van die taxi’s te praat nie. Of selfone teen die oor! Watse voorbeeld word aan die jeug gestel? SIES!

Het Pretoria enigsins nog verkeerspolisie nodig? NEE!

Gert van Wierdapark ·

Tshwane Los gou die Gene-raal se oplydingsprobleem op = leer haar net om ‘n kaartjie uit te skryf = “on the Job training” and Bob is your uncle! Naskrif:G’ n wonder dit gaan soos dit gaan Tshwane nie – geen Spietkop in sig as padvarke die dorp vol dood-gevaarlike toertjirs met hul motors ens uit haal nie. Kaapstad se Sirkus se voor-program vind plaaslike plaas!

Johann cb ·

Word hierdie ongelykhede tov salarisse uitgewys aan diegene wat werkloos is en hulle aan grondgrype skuldig maak?

humor ·

Nee geen grap nie, ons is vasgeval in n massa- tragedie. Die damwal is gebreek en daar is net mooi geen keer nie. Die fronte om te keer is eenvoudig net te veel. Kan n volk in so n magtelose posisie vasgevang wees soos tans in SA. Tog moontlik net in Afrika. Die oorwinnende oorsaak is onkunde gepaard met onbevoegdheid, moedswilligheid en integriteitloosheid.

Diefie ·

Dis nou nie asof die polisie nie weet hulle neem kriminêle indiens nie. Nou kan kriminêle boonop aansoek doen om hul naam aftehaal van die KRIMINêLE LYS, sodat hulle weer werk kan kry. Eish hier gaan ek bly, dit kan net lekker raak. ☺☺☺

Sefie van Schalkwyk ·

Ek wag al van laas jaar 16 Januarie 2018 vir my saak teen die metro.
Kaap, roof, ontvoering.
Saak is by metro intern en by die Komersiele Misdaad Hof in Visagie straat.
Staat sloer.
Die 2 trawante was 3 maande ol stout verlof maar is al lankal weer trug op die job.

hercu ·

‘n huigelaar preek een ding en doen presies die teenoorgestelde – geveinsdes kritiseer ander mense om goedkoop bont baadjies te dra, maar trek hul Carducci baadjies aan sodra dit koud word. dis woord Hipokrates is gewortel in die Griekse woord “hypokrites”, wat beteken “verhoogakteur, “to pretend” & “dissembler”–>(lewer vals getuienis)

en so werk die regering van die dag!!

Christa ·

My Man was a bags man By Tshwane
Building maintance Was Soos Gemors behandel Vir 7 jaar Sondr Hand Langer 2 skouer operasie geen materiaal Geen voertuig
En Onbevoegde Base DEPT DIRK.
Kan Jy Glo Van Hul Het By Mark gewerk Dan Word Hul n Derukteur
So On bevoegde Mense in Poste Dis Hoekom die Gemors
So Hier is Die Antwoord

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.