Soveelste N3-ongeluk eis lewens van 2

N3-tolpad Foto: Google Maps

Twee mans is dood en twee vroue beseer toe twee vragmotors Donderdagoggend op die N3-snelweg, sowat 30 km buite Ladysmith in KwaZulu-Natal, gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het een van die vragmotors langs die pad aangetref terwyl die ander een steeds in die pad gestaan het.

“Paramedici het op twee mans buite die vragmotors afgekom. Hulle het talle beserings opgedoen en het geen tekens van lewe getoon nie.” Meiring sê die twee mans is op die toneel dood verklaar.

Volgens Meiring het die twee vroue, vermoedelik in hulle 20’s, matige beserings opgedoen. Hulle is vir hul beserings behandel en is dadelik na die Ladysmith Provinsiale Hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

Nog twee mans is Woensdagmiddag ernstige beseer toe ’n vragmotor teen ’n ARMCO-versperring gebots en 50 meter teen ’n heuwel afgetuimel het langs die N3-snelweg in Townhill, KwaZulu-Natal.

Paramedici het die vragmotor aan die voet van die heuwel gevind. Volgens Meiring het hulle op twee mans afgekom wat klein tot matige beserings opgedoen het. Hulle is met ’n ambulans na Mediclinic in Pietermaritzburg vervoer vir verdere mediese sorg.

“Die besonderhede oor die twee ongelukke is nog nie bekend nie, maar die owerhede was op die tonele en ondersoek die voorvalle,” sê Meiring.

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het tussen Januarie en Oktober vanjaar ʼn totaal van 933 ongelukke op die N3 aangemeld waarin 315 motors en 255 vragmotors betrokke was by ongelukke met enkelvoertuie.

Die N3-tolroete is een van die besigste vragroetes in Suid-Afrika met vragmotors wat ongeveer 50 miljoen ton vragte per jaar vervoer. “Dié vragmotors beslaan sowat 38 persent van die totale verkeer op die N3,” sê Anita Heyl, woordvoerder van die N3TC.

“Ongelukke met enkelvoertuie weens menslike foute is verreweg die soort ongeluk wat die meeste op die N3-tolroete plaasvind. Dié soort ongelukke kan dui op talle menslike faktore wat inskop soos nalatige of onervare bestuur, spoed, ʼn algemene gebrek aan konsentrasie, afleiding van die pad, voertuie wat in ʼn swak meganiese toestand is of bestuurders wat padtekens ignoreer,” sê Miles le Roux, ʼn vervoeringenieur.

Le Roux meen dit sal nie moeilik wees om die aantal ongelukke op die N3-tolpad te verminder nie, maar dit sal ʼn toegewyde poging van bestuurders verg om padreëls te gehoorsaam en meer paraat te bestuur. “Veilige bestuur vereis dat jy onverdeelde aandag op ʼn verskeidenheid sensoriese stimulante, visueel sowel as ouditief, moet fokus en om vinnig besluite te kan neem wanneer iets skielik op die pad gebeur. Vermy afleidings deur nie byvoorbeeld op jou foon te kyk terwyl jy bestuur nie. Bestuurders moet ten alle tye waaksaam op die pad wees. Stop en rus gereeld op ʼn lang pad sodat jy nie jou konsentrasie op die pad verloor nie.”

Le Roux deel nog ʼn paar wenke vir wanneer jy dié vakansie op pad is:

  • Beplan jou roete sorgvuldig en bly op hoogte van pad- en verkeerstoestande, verkeersvolumes en noodsituasies op die pad vorentoe. Dit is raadsaam om spitsverkeertye te vermy.
  • 82,5 % van ongelukke op die N3-tolroete tussen Januarie en Oktober is veroorsaak deur slegte weersomstandighede. Beplan jou roete volgens die weer en wees ten alle tye bewus van die weersomstandighede wanneer jy die lang pad aandurf.
  • Ongelukke snags blyk ernstiger te wees as ongelukke wat bedags plaasvind. 56% van die ongelukke in die nag is as ernstig aangemeld (waar mense of ernstig beseer of dood is). Probeer eerder gedurende die dag te reis as snags.

Bly op datum van die jongste verkeersinligting op radio of sosiale media en let op waarskuwingstekens langs die paaie. Volg die @N3Route op Twitter of volg hulle op Facebook. Reisigers kan ook gebruik maak van die N3TC se hulplyn (0800 63 4357) om gereelde verkeersopdaterings of noodhulp te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wensdenker ·

Spoor vervoer is oplossing reg oor SA,
maar nouja dis wensdenkery want dit benodig daai L”iets” wat nie vandag meer in staatinstansies
as belangrik beskou word.:-( Tragies die menselewens verlies.

Esther ·

Indien spoorvrag diecstandaard van voor 1994 gehandhaaf het sou daar nie probleem gewees het nie, natuurlik as die spoorsaboteerderds en misdadigers van vandag ook deur behoorlik wetgewing fereguleer was.

André André ·

Ek het ‘n idee die ‘twee vrouens, vermoedelik in hul twintigs’ was indirek vir die ongeluk verantwoordelik. Vragmotorbestuurders moenie ‘passasiers’ oplaai nie en eerder op die pad konsentreer, beter nog, trek af en sit eers die veiligheidsdriehoeke uit.

Leon ·

a) Die vragmotor bestuurders is onbevoeg om vragmotor te bestuur.
b) Die mense wat vragmotor bestuurders oplei is onbevoeg om vragmotor opleiding te doen.
c) Die mense by die toetsstasies is onbevoeg om vragmotor bestuurders te toets.

As ons nou wiskunde gebruik dan kry ons: a+b+c = dood op die pad.

Is die ANC nie briljante wiskundiges nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.