Soveelste skietery naby Durban eis twee motoriste

Twee Motoriste is dood in ‘n skietery Noord van Durban. (Foto: Verskaf)

Verskeie skietvoorvalle in Durban die afgelope week het sewe mense beseer en drie lewens geëis.

In die jonste voorval is ʼn vrou en man Saterdag in hul voertuig doodgeskiet toe sy en ʼn medepassasier naby Durban gery het. Dit is die tweede keer in die afgelope 24 uur dat daar op passasiers in of naby Durban geskiet is.

Netcare911 het Saterdag om 13:20 gereageer op ʼn noodoproep van ʼn skietery op Umhlanga Rocks-rylaan noord van Durban. “Inligting het daarop gedui dat daar op ʼn motor met twee insittendes gevuur is,” sê Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911.

“Met Netcare911 se aankoms op die toneel het paramedici die pasiënte ondersoek en gevind dat ʼn vrouepassasier ʼn noodlottige skietwond opgedoen het. Sy is op die toneel dood verklaar,” sê Herbst.

Die bestuurder van die motor, ʼn man, het ook ʼn skietwond aan sy kop opgedoen en was in ʼn kritieke toestand toe paramedici op die toneel aankom. Hy het later in ‘n hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die toneel van ‘n skietery in Westville, Durban. (Foto: Verskaf)

Die polisie het die gebied afgesper en is besig om die saak te ondersoek.

Maroela Media het Saterdag berig dat twee mans Vrydag omstreeks 15:00 beseer is nadat daar in Durban op hul motor geskiet is.

Die Durban-polisie het Donderdagaand boonop vier verdagtes in hegtenis geneem in verband met ander skietvoorvalle wat sedert Woensdag aangemeld is. Die verdagtes is tussen 27 en 45 jaar oud en word beskuldig van poging tot moord. Hulle sal binnekort in die Wentworth-landdroshof in Durban verskyn.

Die verdagtes word verbind met ʼn skietery in Dinapurweg in Merebank. Drie mense is gewond en een het aan sy wonde beswyk.

Met die inhegtenisneming het die polisie ook beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens, 20 patrone, ʼn skootrekenaar en 199 kapsules heroïen.

Die verdagtes is egter in hegtenis geneem vóór die mees onlangse voorvalle. Volgens ʼn verklaring deur die polisie in Wentworth is hulle op hoë vlakke van gereedheid en sal nóg inhegtenisnemings waarskynlik binnekort volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.