Sowat R1 miljard aan Oos-Kaap-munisipaliteite verskuldig

(Foto: Maroela Media)

Provinsiale departemente vererger die finansiële volhoubaarheid van reeds wankelende Oos-Kaapse munisipaliteite deur hul versuim om byna R1 miljard se agterstallige skuld vir dienste gelewer te betaal.

“In ʼn tyd waar ons ʼn ekonomiese krisis beleef en lewenskoste toeneem is dit uiters onverantwoordelik van provinsiale departemente om van die plaaslike regering te verwag om miljoene rand se skuld te dra,” sê Vicky Knoetze, die DA se skadu-LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).

Zolile Williams, LUR vir Cogta, het in reaksie op ʼn parlementêre vraag onthul dat hierdie departemente ʼn bedrag van R915 miljoen aan plaaslike munisipaliteite verskuldig is, waarvan R600 miljoen al langer as 30 dae agterstallig is.

ʼn Verslag aan die nasionale portefeuljekomitee oor samewerkende regering oor die stand van plaaslike regering het onthul dat 11 van die 39 munisipaliteite in die Oos-Kaap disfunksioneel is; 14 is op hoë risiko en slegs 14 is lae risiko.

“Deur hul versuim om te betaal ontneem hierdie departemente inwoners van basiese dienste, omdat munisipale kontantvloei ontwrig word. Water, sanitasie en elektriese infrastruktuur stort ineen omdat daar nie geld is om dit in stand te hou nie. Uiteindelik lei dit tot ʼn gebrek aan beleggings, werksgeleenthede en armoede,” sê Knoetze.

LUR Williams het onthul dat die grootste oortreder verreweg die departemente van openbare werke en paaie en vervoer is. Hulle skuld gesamentlik meer as R700 miljoen, waarvan R132,5 miljoen al langer as ʼn jaar agterstallig is.

Ander reeksoortreders sluit in die departement van gesondheid (R69 miljoen) en onderwys (R54 miljoen).

Die totale skuldlas lyk soos volg:

Provinsiale departementBedrag verskuldig
Landelike ontwikkeling en grondhervormingR40 647 000
OnderwysR54 034 000
GesondheidR69 121 000
Menslike nedersettings en plaaslike regeringR20 314 000
Openbare werke/Paaie en vervoerR700 799 000
Maatskaplike ontwikkelingR1 756 000
AnderR28 489 000
TOTAALR915 161 000

Munisipaliteite aan wie die meeste verskuldig is:

MunisipaliteitBedrag verskuldig
Buffalo City-munisipaliteitR247 825 000
Nelson Mandelabaai-munisipaliteitR185 269 000
Matatiele- plaaslike munisipaliteitR110 946 000
Umzimvubu- plaaslike munisipaliteitR46 210 000
Mhlontlo- plaaslike munisipaliteitR42 003 000
Inxuba Yethemba- plaaslike munisipaliteitR34 945 000
Winnie Madikizela- plaaslike munisipaliteitR33 921 000

LUR Williams het gesê die hoofredes vir niebetaling sluit in begrotingsbeperkings weens Covid-19, dispute oor sekere bedrae wat verskuldig is, lang periodes vir rekeningrekonsiliëring, en onderhandelings wat betref die rente verskuldig.

“Provinsiale departemente het erge druk op hul eie begrotings, maar dit lyk of dit nou algemene praktyk geword het om bloot die finansiële las op die plaaslike regering te plaas,” sê Knoetze. “Dit kan nie voortgaan nie. Kragtens die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies moet departemente alle kontraktuele verpligtinge nakom en alle skuld betaal binne die voorgeskrewe of ooreengekome periode.”

Die DA versoek LUR Williams om seker te maak dat betalingsreëlings getref word met elke departement vir alle skuld ouer as 30 dae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos 100 ·

Geen wonder die regering in bereid om eskom se skuld oor te neem nie. Hulle skuld dan indirek dit aan eskom ook!

Kokerboom ·

Stilswye van Nasionale regering kondoneer die optredes van departemente!

marius ·

Die geld ry rond in luukse motors en loop die strate vol in ontwerpersklere . Dis die waarheid .

WILLEM ·

ONS LEWE IN ‘N LEKKER LAND – NIKS WERK NIE, ALLES IS IN ‘N WARBOEL, EN NIEMAND BETAAL WAT GESKULD WORD NIE, WANT DIENSTE WORD NIE GELEWER NIE. GENIET DIT!!!

Niklaas ·

Ek glo baie van daardie miljoene het per ongeluk in die verkeerde sakke of bankrekenings beland. Heeltemal onbeplan natuurlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.