“Alle Suid-Afrikaners moet betaal vir die elektrisiteit wat hulle verbruik, ook Soweto.”
Só het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag tydens ʼn ontmoeting met die media gesê.
Dit is die eerste keer dat ʼn staatshoof die durf het om die olifant in die kamer te takel – die feit dat die inwoners van dié township suidwes van Johannesburg die kragvoorsiener R18 miljard aan onbetaalde elektrisiteitsrekeninge skuld.
In die verlede was ANC-leiers te skugter om die inwoners van Soweto, wat ʼn reservoir ANC-stemme verteenwoordig, openlik te kritiseer. Ramaphosa het egter nie uiteengesit hóé daar teen nie-betalers opgetree sal word nie.
Die geleentheid was die eerste ontmoeting in twee jaar tussen die staatshoof, verteenwoordigers van die land se nasionale redakteursforum (Sanef) en die parlementêre perskorps. Die vergadering het ʼn wye verskeidenheid kwessies getakel.
Een hiervan was die dreigende botsing tussen die regering en staatsdiensvakbonde oor die voorgenome vermindering van die staatsdiens se salarisrekening. Ramaphosa het laat glip dat vakbonde besef die staat se uitgawes moet verminder word, maar dat hulle meen daar is beter en meer kreatiewe maniere om dit te doen as afdankings en/of verkleinde salarisverhogings.
Ramaphosa het gesê hy was sy lewe lank nog teen afdankings gekant, en enige kreatiewe en realistiese voorstelle van die vakbonde om staatsgeld op ander maniere te bespaar, word verwelkom.
Die staatshoof het ook uitgewys dat die verhouding tussen die regering en die vakbonde goed is, en dat gewelddadige optogte en ontwrigting nie tans oorweeg word nie.
Dit strook met nuwe inligting wat Maroela Media uit Cosatu-kringe bekom het.
Hy het terselfdertyd bygevoeg dat ekonomiese groei in die land die eerste prioriteit is, en gesê alle moontlikhede om dit te vermag sal ondersoek en waar moontlik geïmplementeer word. Dit sluit in die verkoop van kragsentrales, maar nie die splinternuwe Medupi en Kusile nie.
Ramaphosa het uitgewys dat Suid-Afrikaners moet aanvaar dat daar verskillende invloede is wat ʼn rol in die ekonomie speel, waarvan sommige binne die regering se beheer is en ander, soos die koronavirus of die handelsoorloë van pres. Donald Trump, buite die regering se hande is.
Ramaphosa het homself weer uitgespreek ten gunste van Cosatu se voorstel om werkerspensioene te gebruik om uitgawes van staatsbeheerde ondernemings te dek. Hy het egter nie in besonderhede hierop ingegaan nie.
Ramaphosa het onderneem dat hierdie soort ontmoeting met die media kwartaalliks sal plaasvind.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
38 Kommentare
Een goue sterretjie vir jou Mnr die President.
Action speak louder than words…
Nee wat.Julle het ‘n perd opgesaal wat nie gery kan word nie.Skakel Soweto se krag af en beheer onwettige konneksies en kyk maar wat gebeur.Die mense gaan nie terugsit en hande klap nie.Hulle gaan dit NOOIT aanvaar nie.So vergeet maar van die idee.Die mense kry gratis krag vir jare al en sal nie nou enige iets anders verwag nie.A pie in the sky.
Soweto moet krag betaal. Hoe gaan die regering dit afdwing? Pensioen fondse gebruik om staat se skuld te delg? Nee meneer die President. Nie solank geplunderde fondse nie verhaal is en behoorlike regstappe nie teen skuldiges gedoen is nie.
Dankie my president, ons luister en sal maak presies soos u sê.