Spaanse skeihof sien troeteldiere nou as kinders

(Foto: Artem Beliaikin/Unsplash)

Deur: Linette Retief

Spaanse regters sal voorts nie meer net moet oorweeg waar die kinders ná ʼn egskeiding geplaas moet word nie, maar ook watter party die beste na die vierpotige vriende kan omsien.

Troeteldiere in Spanje geniet sedert 5 Januarie nuwe regsaansien. Nuwe wetgewing stipuleer dat diere in die oë van die wet nie meer as besittings beskou word nie. Dit beteken dat diere se welstand ook in ag geneem moet word in geval van ʼn egskeiding.

Konflik oor troeteldiere duik by uitstek op in die egskeidings van kinderlose paartjies, bejaarde persone en welvarende partye wat nie huiwer om groot geld en intense emosies op die spel te plaas wanneer dit by kontak- en kostekwessies kom nie.

Terwyl Wagter, Kietsie of Pollie voorheen met die hulp van ʼn prokureur saam met die meubels, huisraad en tuintoerusting verdeel is, is Spaanse regters nou verplig om hulle te beskou as voelende wesens in wie se beste belang opgetree moet word.

Die besluit volg soortgelyke skuiwe in Frankryk en Portugal, berig CNN. In Oktober reeds het ʼn regter in Madrid, Spanje, gelyke toesig van hul hond aan ʼn ongetroude paartjie gegee wat albei wou hê die hond moes by hulle woon ná hulle uitmekaar is.

Partye met finansiële solvensie/kredietwaardigheid wat toesig oor hul kinders verkry het, het byvoorbeeld ook ʼn beter kans om toesig oor troeteldiere te verkry, aangesien daar ʼn spesiale emosionele band tussen kinders en diere is.

Wat sê die Suid-Afrikaanse reg?

(Foto: Verskaf)

Ten spyte van die konstante vertoë van diereregte‑aktiviste en die feit dat Suid-Afrikaners versot is op hul troeteldiere wat dikwels soos ʼn lid van die gesin behandel word, word daar nie in die Suid-Afrikaanse reg vir hierdie tipe spesiale gevalle voorsiening gemaak nie. “Diere word oor dieselfde kam geskeer as regsobjekte soos meubels en die party wat die dier gekoop het, word as die eienaar beskou,” sê André du Preez, ʼn onafhanklike prokureur.

“Ek is egter seker as ’n hof gevra word om te beslis welke party ’n spesifieke dier moet kry, ons howe dieselfde benadering sal volg; dus wat die beste vir die spesifieke dier sal wees na die oordeel van die regter.”

Volgens ʼn inskrywing op Delberg-prokureurs se webtuiste, is dit veral kinderlose paartjies, ouer mense en dié met ʼn groot bankbalans in Suid-Afrika wat geneig is om oor diere te stry wanneer dit by egskeidings kom. Die firma voorsien egter nie dat die wet vinnig sal verander om vir Wagter en kie meer regte te gee nie.

In ʼn onlangse saak het ʼn vrou van Kaapstad wel haar vervreemde man suksesvol gedagvaar om tydens die egskeidingsproses R1 500 se onderhoud vir hul twee honde te betaal. Sy het later beweer dat hy versuim het om die volle bedrag maandelikse te betaal en ook versoek dat dié bedrag tot R5 600 verhoog word.

Dié bedrag sou bestaan uit R1 500 vir kos, R2 500 vir mediese uitgawes, R1 000 vir ʼn honde-stapper en R600 vir produkte om die diere te versorg.

Om ʼn lang (en harige) storie kort te maak: Die man het ingestem om by te dra tot kos en redelike veeartseny‑ en mediese koste, maar hy het botweg geweier om vir duur vlooi- en luisbehandelings te betaal. Hy het ook sy gewese wederhelf duidelik laat verstaan dat die hondestapper nie verder die pad gaan stap nie; daarvoor kon die vrou self, of haar twee huishulpe die ekstra myl gaan.

Wat van kinders en hul diere?

Argieffoto. (Foto: Verskaf deur Hill’s Pet Nutrition.)

Die onderwerp van die spesiale verhouding tussen diere en kinders is ʼn relatief nuwe navorsingsveld vir deskundiges, onder wie kindersielkundiges. Bestaande navorsing dui daarop dat gehaltetyd saam met diere kinders se selfbeeld en sosiale interaksie kan verbeter en selfs hul kognitiewe ontwikkeling kan bevorder.

Daarbenewens gee die gevoel van emosionele gehegtheid aan kinders ʼn gevoel van veiligheid, onvoorwaardelike liefde en kameraadskap. Diere is bekend, hulle is veilig om mee te gesels en hulle is ʼn bron van troos wat kinders kan help om hul gevoelens te verwerk. Dit is ʼn tipe geborgenheid wat uiteraard bedreig word deur ʼn egskeiding wanneer kinders dit nodiger as ooit tevore het.

Desnieteenstaande, sê Elma Bartlett, huwelik‑ en gesinsterapeut, is dit moeilik om algemene riglyne daar te stel omdat baie sal afhang van elke unieke situasie. “Die rede vir die egskeiding speel byvoorbeeld nie ʼn rol in wie die kinders kry nie. Daar word gekyk na die beste belang van die kinders. In die geval van troeteldiere sal die beste belang van die troeteldier waarskynlik ook geld indien die wet hersien word. Die dier sal dus geplaas word by die party met wie hy die beste verhouding het en waar sy behoeftes die beste gedien sal kan word.”

HOE NOU GEMAAK?

Die prokureursfirma Delberg gee op hul webtuiste die volgende raad aan diere-eienaars wie se paadjies skei:

In die afwesigheid van wetgewing, is die doeltreffendste manier om ʼn potensieel peperduur dispuut te vermy, die opstel van ʼn sogenaamde “pet-nup” – die troeteldier-ekwivalent van ʼn voorhuwelikse kontrak; iets wat 1 uit 14 paartjies in Brittanje het. ʼn “Pet-nup” sal gewoonlik die volgende stipuleer:

  • Watter party die troeteldiere hou wanneer die huwelik ontbind is;
  • Wie verantwoordelik sal wees vir die uitgawes; en
  • Wat die ander party se “kontak” met die diere sal behels.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Ek weet van ‘n man wat nog nooit getroud was nie. Hy het 5 honde. Vrouens laat hom kies tussen haar en die honde. Telkens kies hy die honde want hul liefde en lojaliteit kan sy as materialistiese persoon nie klop nie. Daar is duidelik ‘n begrip vir die dieper dinge van die lewe.

Marius ·

As jy regtig so lief is vir jou hondjies dan sal jy hulle self vir hul middag stappies vat…

Die wêreld raak mal.

Swerwer ·

Beste nuus ooit.! Is net ‘n droom dat dit in hierdie wettelose land van ons sal plaasvind.

Maverick ·

Welldone ja my hondekind is nes n kind in my huis ook. ❤️❤️

Pampoen ·

As mens nie die verskil tussen n hond en n kind verstaan nie, moet jy nie kinders hê nie.

LIEZL ·

As jy nie kinders het nie, na alle probeerslae, word jou 4been diertjies maar soos kinders

VaalDonkie ·

Ja weet jy, ek voel vir mense wat nie kinders het nie. Ons het self erg gesukkel en papegaaie aangehou. Maar ek het my geliefde papegaai verloor in dieselfde jaar wat ons eerste kind tydens geboorte gesterf het, en ek kan jou onomwonde vertel dat die een nie naastenby so seer soos die ander is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.