Spaanse vrou klim vulkaan vir SA brandslagoffers

Cami Palomo tydens voorbereiding vir die klimtog. (Foto: verskaf)

Sy het ’n lewe gebou in die VSA, haar tuiste sedert 1979. Tog is dit nie die Amerika óf haar tuisland, El Salvador, wat Cami Palomo se hart gesteel het nie. Dit was Suid-Afrika.

“Ek is so geseënd dat ek op my ouderdom eindelik my roeping gevind het,” vertel die 62-jarige Cami aan Maroela Media.

Cami het reeds in 2005 die eerste keer Suid-Afrika besoek. ʼn Tipiese Suid-Afrikaanse vakansie, vertel sy, van Kaapstad tot die Krugerwildtuin. Iets het egter aan haar hartsnare begin roer, sy het geweet dat sy eendag wil terugkeer na dié kleurryke land. Inteendeel, sy het haarself en haar kinders belowe dat sy sál terugkeer.

In 2011 het sy daardie belofte gestand gedoen.

Sy het vir 90 dae as vrywilliger by die Rooikruis-kinderhospitaal kom werk. Nimmer as te nooit het sy verwag dat die tyd wat sy saam met die brandoorlewendes sou deurbring, ʼn lewenslange toewyding tot dié soort besering sou lei nie.

“Ná 90 dae is ek terug Amerika toe, my visum het verstryk,” onthou sy, “ek het baie kort daarna besef dat ek moet terugkom Suid-Afrika toe.”

Cami het in daardie stadium reeds afgetree, haar kinders was klaar met universiteit en het reeds gewerk. Sy het dus ʼn hele nuwe lewe gehad wat voor haar gelê het, vertel sy.

Met dié lewe is sy terug Suid-Afrika toe, met ʼn plan om dié keer ʼn jaar aan te bly en haar werk met brandslagoffertjies voort te sit.

“En toe word een jaar elf jaar.”

Cami het intussen die Avela-stigting vir brandoorlewendes geskep. Met haar werk by dié organisasie, hoop sy om nie net geld vir brandslagoffers in te samel nie, maar om ook bewusmaking te skep oor brandwonde en hoe gereeld dit inderwaarheid met kinders gebeur.

Sy staan tans aan’t stuur van ʼn groep van agt avonturiers wat Saterdag die aktiewe vulkaan, Cotopaxi, in El Salvador gaan uitklim. Twee van haar spanlede is ook Suid-Afrikaners.

Dié klimtog sal agt dae duur, en sal die groep sowat 5 000 meter hoog neem. Dit word ten bate van die nie-winsgerigte organisasie, Umatter, gedoen.

Dié organisasie werk reg oor Suid-Afrika met brandslagoffers en hul families om die skielike lewensverandering wat ernstige brandwonde teweegbring, te verwerk en te verstaan.

“Brandwonde is vreeslik traumaties vir die slagoffer en sy of haar gesin,” vertel Cami.

“Die Umatter-program spreek die emosionele behoeftes van albei aan.”

Cami saam met ‘n groep bergklimmers wat vorige togte saam met haar meegemaak het. (Foto: verskaf)

Cami se aanvanklike aankoms in Suid-Afrika en die besluit om die Avela-stigting te begin , het nie sonder struikelblokke gebeur nie.

“Niemand het my geken nie. Hier is ek, ʼn latina, in ʼn onbekende land, besig om geld vir brandslagoffers te vra. Ek moes naderhand aan ander planne begin dink om geld in te samel.”

Sy het kort daarna avontuurlustige uitstappies na plekke soos Everest en Kilimanjaro aangepak, elke keer met ʼn ander doel.

Sy het deur die jare heen miljoene vir verskeie hospitale, brandeenhede en klein dorpies in Suid-Afrika ingesamel.

Sy het ook haarself daarop toegespits om mense bewus te maak van brandwonde, hoe maklik dit kan gebeur en hoe om dit reg te behandel.

“Dit gebeur dikwels dat mense kure tuis probeer, soos om botter aan brandwonde te smeer,” verduidelik sy.

“Dit is byvoorbeeld iets wat jy glad nie moet doen nie. ʼn Brandwond behoort altyd eerste met koue water behandel te word, en moet so gou moontlik mediese aandag kry.”

Sy vertel verder dat sowat 80% van brandwonde wat deur kinders tussen die ouderdomme van 1 en 5 opgedoen word, deur kookwater veroorsaak word. Peuters en kleuters trek ketels en potte oor hulself uit, en doen dan brandwonde oor hul borsies en beentjies op.

Die toename van beurtkrag veroorsaak ook dat brandwonde vermeerder.

“Daar is ʼn gesin wat ʼn elektriese stofie aan vergeet het nadat die krag afgegaan het. Die krag het weer aangegaan, maar toe slaap die gesin al. Hul hele huis het afgebrand.”

Boonop sê Cami is daar dikwels nie in die plaaslike gebiede behoorlike gesondheidsorg vir brandslagoffers is nie. Soms word die slagoffers met helikopters na groter hospitale met brandeenhede geneem, en soms sterf die slagoffers omdat hulle nie vinnig genoeg mediese behandeling ontvang het nie.

Dit is een van die groter probleme wat die Avela-stigting probeer aanspreek, vertel Cami.

Haar liefde vir die kinders wat deur dié soort beserings geraak word, vloei deur haar werk by die organisasie.

“Brandoorlewendes toon moed, veerkragtigheid en innerlike krag. Hulle gee nooit op nie, so ons gaan ook nie.”

  • Vir meer inligting oor die Avela-stigting, besoek hierdie webwerf.
  • Indien jy graag ʼn skenking aan die Cotopaxi-klimtog wil maak, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.