Span besluit nou oor saamgegroeide tweeling in Limpopo

Argieffoto (Foto: oknesanofa/Pixabay)

ʼn Span mediese kenners, waaronder neonatale kenners, radioloë, pediatriese chirurge en ʼn pediatriese kardioloog is besig met toetse en navorsing om te bepaal wat met ʼn saamgegroeide tweeling in Limpopo moet gebeur.

Sielkundiges is ook ontbied om ondersteuning vir die ma van die tweeling te bied en haar familie wat tot en met hul geboorte nie geweet het die tweeling wat sy verwag is saamgegroei nie, sê Neil Shikwambana, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid.

Die 41-jarige vrou se tweeling is Donderdag by die Jane Furse-hospitaal gebore deur middel van ʼn keisersnee. Die vrou was ʼn verwysing van ʼn kliniek wat die swangerskap as ʼn normale tweelinggeboorte gediagnoseer het. Dit is eers tydens die operasie dat die dokters ontdek het die babas is aanmekaar verbind deur hul bors en maag.

Die babas is sonder probleme gebore en is na die Mankweng-hospitaal oorgeplaas vir volledige en verdere assessering deur neonatale kenners en pediatriese chirurge.

Dit gaan goed met die ma, maar sy is ook oorgeplaas vir verdere ondersoek deur ginekoloë.

Die babas is tans stabiel en dit gaan goed met hul asemhaling. Hulle is nie geïntubeer nie.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, het die tweeling Vrydag by die Mankweng-hospitaal besoek. Sy het die publiek versoek om die mediese spanne toe te laat om hul werk te doen en ondersteuning aangebied vir die familie van die babas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.