Span die seile – Kirsten kry toptoekenning!

Kirsten Neuschäfer is Wêreldseevaarder se vroueseevaarder van die jaar. (Foto: X/World Sailing)

Suid-Afrika se eie bobaas seilvaarder het seewater in die oë van gesoute teenstanders soos Betsy Alison van die VSA en Frankryk se Lauriane Nolot geskop om met die toekenning as Wêreldseilvaart se vroueseevaarder van die jaar weg te stap.

Kirsten Neuschäfer (41) kon nie self die toekenningsgeleentheid vroeër die maand in Spanje bywoon nie, maar het in ʼn videoboodskap gesê dat die toekenning baie vir haar beteken.

“Dit is ʼn ongelooflike voorreg om vir só ʼn toekenning saam met talentvolle en bekroonde seilvaarders benoem te word. Maar om deur die beoordelaars en lede van die publiek as die uiteindelike wenner aangewys te word, is beslis die kersie op die koek.”

Sy het ook al haar ondersteuners bedank wat in haar vaardighede glo en haar aanmoedig om haar seilvaartdrome na te jaag.

Neuschäfer het in April die rekordboeke herskryf toe sy die Golden Globe-seiljagwedvaart gewen het.

Toe sy op 27 April – en ná 235 dae aan die stuur van die Minnehaha (haar seiljag) – die eindstreep by Les Sables-d’Olonne in Frankryk oorgesteek het, het sy die eerste vrou geword om om ʼn solo-seiljagwedvaart om die wêreld te wen.

Die Suid-Afrikaner het sommer ook ʼn paar Golden Globe-afstandrekords verbeter.

Met die wind in haar seile het sy 218,9 seemyl in 24 uur afgelê, terwyl sy in een week 1 216,2 seemyl in die Minnehaha kafgedraf het.

Vroeër in die wedvaart het sy boonop soos ʼn wafferse Wolraad Woltemade een van haar mededeelnemers gered toe sy boot gesink het.

Tapio Lehtinen, ʼn Finse deelnemer, het in ʼn reddingsbootjie gedobber en nadat wedvaartorganiseerders die ander deelnemers van sy noodtoestand in kennis gestel het, het Neuschäfer tot sy redding gekom.

Die Suid-Afrikaner was toe ongeveer 170 km weg van Lehtinen en sy het met ’n briljante reddingspoging vorendag gekom nadat sy dwarsdeur die nag geseil het om hom te hulp te snel.

“Kirsten het haar seile opgevou en my van die windkant af benader sodat ek ʼn tou na haar kon gooi. Sy het dit vasgemaak en my nadergetrek. Ek het ongeskonde op die Minnehaha geklim. Dit was uitstekende werk,” het Lehtinen na afloop van die voorval gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

En onmiddellik spring ramaphala op die boot om ‘n paar gratis punte te score

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa sal diè storie tot sy voordeel gebruik.

Chrisp ·

Kom nou Sy ril gryp in die demografie is nie reg nie kry jou mini ster onder stok dit verteenwoordig nie die reenboog nie….

Dalk moes jy die toekening gaan haal het jy was nie skaam met die rugby nie?
Mos gepas al dan nie?

Nicky ·

Ramaphara dis seker weer as dit nie vir die ANC was nie soos die rugby wereldbeker, dit is al hoekom jy iets se, sodat almal moet dink jy en die kaders ban jou het haar ondersteun,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.