Span gaan vergiftiging van vee in Bray ondersoek

Ockert Goosen steek sy vergiftigde beeste aan die brand nadat hy dit in ‘n gat gestoot het. (Skermgreep: Verskaf)

Die provinsiale polisie in Noordwes het ʼn taakspan gestig om die vergiftiging van Ockert Goosen, ʼn veeboer van die Bray-omgewing, se 44 beeste te ondersoek nadat ʼn saak van saakbeskadiging aanhangig gemaak is.

Goosen se beeste, wat uit 11 kalwers en 33 koeie bestaan wat 25 wesies agtergelaat het, is verlede maand vergiftig nadat sy pa, Ockey, ’n vermeende sindikaatleier op die dorp gebel en gevra het om op te hou om sy seun se beeste te steel. Gif is in die beeste se waterkrip gegooi. Foto’s van dié beeskarkasse is later wyd op sosiale media gedeel, wat ʼn groot debat ontketen het.

Boere op Bray,  ʼn afgeleë dorpie sowat 300 km noord van Kuruman, word glo al die afgelope tien jaar deur ʼn veediefstalsindikaat geteister.

Die vermeende sindikaatleier is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal geïdentifiseer, wat deur verskeie veiligheidskameras op plase en langs paaie vasgelê is.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die polisie het forensiese bewyse op Goosen se plaas ingesamel wat nou ontleed sal word.

“Die span sal ook ondersoek instel na bewerings van ʼn veediefstalsindikaat in die omgewing.

“Die polisie versoek enigeen met inligting om kol. Dawie Lange by 082 372 4528 te bel.”

Vermeende veediefstalsindikaat in Saai se visier

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die polisie laat al ʼn dekade lank toe dat die vermeende veediefstalsindikaat ʼn skrikbewind in die Bray- en Tosca-omgewing voer, asook langs die Botswana-grens.

Die familieboernetwerk wil egter nou sekermaak dat daar teen die vermeende sindikaat en sy leier opgetree word. Hulle wil ook help om Goosen op sy plaas te hou.

Saai sal eersdaags met sy netwerkvennote, onder wie AfriForum se privaatvervolgingseenheid, skakel om ʼn veldtog van stapel te stuur om die vermeende veediefstalsindikaat en sy vermeende meesterbrein te laat boet. Die vermeende meesterbrein het glo verskeie ou én nuwe sake teen hom waarvan daar nog nooit iets gekom het nie. Dié sake sal nou onder die vergrootglas geplaas word.

Saai is ook in gesprek met private veiligheidsmaatskappye, ander lede van die polisie buite die Bray-omgewing, en die media.

Verder samel die organisasie geld in om Goosen te help om weer op die been te kom en sy bedrywighede op die plaas voort te sit, aangesien hy nou ʼn reuseverlies aan inkomste ly.

“Dis vir ons uiters belangrik om hom [Goosen] op sy plaas te hou en hom te beveilig. Ons wil die beeste wat hy verloor het, vervang sodat hy kan aangaan met sy boerdery,” het De Jager aan Maroela Media gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

unavitafigereillud ·

Die dag wanneer die tipe mense nie net vervolg word nie, maar dat alle bates wat uit die tipe kriminele aktiwiteite verkry of aangekoop is, verbeurd verklaar word aan die staat of gehou word ter bevrediging van siviele eise vanaf dié wat deur die misdryf geraak is, dit is die dag wat ons regstelsel begin werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.