Span kenners van polisie ondersoek skietery op plaas

(Argieffoto)

Die polisie in Mpumalanga het ʼn span kundiges aangewys om ʼn skietery Vrydag op ʼn plaas by Dirkieskop te ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig twee mans is tydens die voorval doodgeskiet.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die vier verdagtes wat sedertdien in hegtenis geneem is, is tussen 25 en 53 jaar oud en sal Maandag in die Piet Retief-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord en ʼn aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die hofverskyning volg op ʼn voorval waartydens die slagoffers glo na die plaaseienaar gegaan het om met hom te praat oor werksverskaffing aan seisoenale werkers, sê Mdhluli.

“Die plaaseienaar het glo aan die mans gesê hulle is nie welkom op sy perseel nie. Diegene wat vir werk kom vra het, het glo besluit om die plaas te verlaat, maar het later besef een van hulle het agtergebly.

“Hulle is daarna terug en het gevind dat die verdagtes hom glo op die plaas gehou het,” sê Mdhluli.

Volgens die polisie het die mans daarop aangedring dat die verdagtes die man laat gaan, waarna ʼn onderonsie ontstaan het en twee mans glo geskiet is. Hulle is op die toneel dood.

“Drie ander mans het glo ernstige beserings opgedoen,” sê Mdhluli.

“Die polisie is oor die voorval ingelig en met hul aankoms daar het hulle die twee groepe en twee lewelose liggame aangetref. Die polisie het ʼn saak aanhangig gemaak en dadelik met ʼn ondersoek begin, waarna die vier verdagtes in hegtenis geneem is.

“Beslag is gelê op twee vuurwapens wat deel van die ondersoek sal uitmaak,” sê Mdhluli.

Die polisie se bestuur in die provinsie het die voorval ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op kalmte gedoen. Hulle het ʼn beroep op mense gedoen om nie geweld te gebruik om probleme op te los nie.

“ʼn Span kundiges is reeds aangewys om die saak te ondersoek. Die polisie het lede van die gemeenskap ook gevra vir ruimte sodat die reg sy verloop kan neem,” sê Mdhluli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Abie

Baie ingewikkelde omstandighede, maar dit lyk nie of die besoekers aan die plaas op so n manier opgetree het dat dit hulle dood verdien het nie. Lyk of n baie ernstige misdaad plaasgevind het.

Aikie

Liewe Vader! Die artikel is so vaag soos ‘n emmer modder op my kar se windskerm! Van die wat geskiet is, wie was die aanvallers en wie was die slagoffers? Ek is nie vergryp oor kitsnuus nie, maar wil darem verstaan wat daar gebeur het.

Thelsa

Wag maar vir opvolgberigte. Daar sal wel weer sprake van rassisme wees en daarom die groot groep SAP lede wat ontplooi is.

Barrie

Dit is baie duidelik dat hulle in getalle by die boere opdaag om sodoende te intimideer en moeilikheid te veroorsaak en dan die storie om te draai en die arme boer te beskuldig

Sonia

Kyk maar, binnekort sal Julius Malema dié geleentheid gryp om politieke punte te wen. Snaaks dat hy nog nie hieroor sy rassistiese uitlatings laat hoor het nie