Span vrywilligers gryp in toe brand uitbreek

(Foto: Drakenstein Farm Watch/Facebook)

ʼn Brand het Saterdagaand in ʼn informele nedersetting in die Paarl in die Wes-Kaap uitgebreek. Nege plakkershuise is verwoes en woonstelle in Springbokstraat in Chicago is beskadig.

Drakenstein Farm Watch (DFW) het omstreeks 00:35 ʼn span vrywilligers ontplooi vir brand- en reddingsdienste. Die brand is deur ʼn Fidelity ADT-beampte aangemeld.

“Die DFW-bevelvoerder het dadelik by die Drakenstein Smart Safety Network (DSSN) en Paarl-brandweer aangemeld om te hoor of DFW se brandbestrydingspan benodig word, omdat Paarl-brandweer reeds op die toneel was. Paarl-brandweer het kort daarna ʼn amptelike versoek vir bystand uitgestuur omdat die brand buite beheer gewoed het,” het DFW in ʼn plasing op Facebook gesê.

Plaaslike DFW-vrywilligers, Nevin Joostenberg en Anthea Carlse, het op die verste kant van die brand hul plasing ingeneem en onder uiterste wind- en hitte-omstandighede seker gemaak dat die vlamme nie verder versprei nie.

Spanne van Paarl-brandweer en DFW het van die anderkant ook die brand bestry en voorkom dat die paar oorblywende strukture en geboue ook deur die brand verwoes word.

“Plaaslike inwoners het die DFW-span dapper bygestaan om te red wat gered kan word. Paramedici van DFW het slagoffers met brandwonde bygestaan en hulle is later deur nooddienste na ʼn hospitaal geneem.

“Die brand is omstreeks 03:00 onder beheer gebring en ʼn spoor van verwoesting agtergelaat.”

DFW wens die inwoners sterkte toe ná dié drama.

Die DFW-vrywilligers is hoogs gekwalifiseerd, bekwaam en goed toegerus en het ʼn groot vloot van brandbestrydingsvoertuie tot hul beskikking. Brande soos dié word pro bono gedoen as ʼn vrywillige diens.

“Ons bedank ons vennoot, Drakenstein-munisipaliteit se brandweer, dat hulle ons toelaat om hulle by te staan. Baie dankie aan al die vrywilligers wat hul nagrus prysgee om diegene te help wat dit nodig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat mense vir mekaar omgee om tye van nood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.